Kindsbeen

Om klein te wees – ‘n gedagte wat so nou en dan popspeel op die agterstoep van jou geheue. Partykeer is dit so vaag soos die eerste snak na asem na jou eerste swemles, maar partykeer is dit so eg soos die drukkies van jou oupa terwyl jy klein soos ‘n pop op sy skoot sit. En maak nie saak hoe onstuimig die amper-grootmens lewe partykeer mag wees nie, jou kleintydnagmerrie sal veroorsaak dat jy eendag grys en krom steeds na jou hangkas loer – om net doodseker te maak die monster besluit nie om na al die jare weer homself onder jou bed tuis te maak nie.

As kind was die grootste kruispad waarvoor ek dikwels tot stilstand gekom het, die keuse tussen kleinspeel of grootspeel. Kleinspeel het my Barbie- en Bratz poppe in hul pophuis behels, terwyl grootspeel my Cicola (wat ek gedurende my kinderjare aan die dood moes afstaan – het wel ‘n begrafnis gehou met suikervruggies as begrafniskos) en later my Baby Born genaamd, Ruby, behels het. Van doeke omruil, stootwaentjies stoot, klashou, inkopies doen, storieboeke lees – my poppe het beslis ‘n vol lewe gelei.

En dan natuurlik – die softtoy obsessie het al seker reeds in die baarmoeder pos gevat. Vandat ek kan onthou het ek ‘n pienk piglet gehad. Die piglet het ek orals rondgedra en soms (maar selde) het ek my aandag verdeel tussen my Piglet, Pippie Langkous en my Barney (sag en pers). En soos enige klein dogtertjie van die neëntiger jare – het ek ‘n Raak-verbode-porseleinpop besit. Uitgesoek om min of meer dieselfde gelaatstreke as ek te hê- bruinhare met groen oë en ‘n olyfkleurige vel. Maar natuurlik het my vingers gejik en een Saterdagoggend (toe my ma nog in dromeland was), het ek Cindy vir die oggend van haar vertoonrakkie ontslaan. Ek en Cindy het skaars die tweede kosyn in die gang bereik, toe haar been (volgens my) net eweskielik gebreek het, maar wat werklik gebeur het, het ek destyds nie vir my ma vertel nie en intussen vergeet. Maar vandag pronk Cindy nog ewe mooi op my vertoonkas – niks wat kouelym (poppe gips) nie kan herstel nie.

En dan natuurlik die Tandemuis, Vaderkersfees en al die ander wolhaarstories wat ouers met goue gare voor hul kinders spin: die het in my sesde/sewende lewensjaar die stopstraat bereik. Die hele episode het afgespeel skuins na 12, die aand van my eerste tandwisseling. Die tandemuis het ewe pligsgetrou opgedaag, maar weens my natuur (dit is nou natuurlik die geneigtheid om my skoene en klere op die kamervloer te strooi – iets waaraan ek vandag steeds werk), het die tandemuis oor ‘n paar Buccaneer skoenskoene geval en ‘n aardige geluid gemaak. Ek het natuurlik wakkergeskrik en weens my fobie vir die donker, was my ma in al haar tandemuisglorie in die helder buitelig gehul – en die fabel se deuntjie het doodgeloop. Die volgende oggend toe ek hierdie katastrofiese gebeure ontleed het, het Vaderkersfees ook soos ‘n reënboog verdwyn – eweskielik. Kersfees en tandwisselings was dus makliker aangesien wensbriefies nou met ‘n bypassende gesigsuitdrukking gepaard gegaan het, net om die besluitnemingsproses so ietwat aan te help.

Om ‘n kind te wees beteken jy ruik en eet die koekies voordat jy die kalorieë agterop lees. Dit beteken Dirkies (alle 90’s babas behoort hierdie gegeurde kondensmelkbuisies met ‘n keppie dekseltjie te onthou) is steeds te koop in Friendly. En natuurlik was geen Dirkiesbelewenis voltooid sonder dat jy die mure toffietaai gevat het nie. Om ‘n kind te wees beteken Sewende Laan was die enigste grootmensprogram wat ouderdomsgeskik was, dit beteken ‘n bakleiery oor wie eerste in die aand gaan bad, kuiertjies van ouma en haar karamelsjokoladekoek (en ouma wat onverpoos soek na die versiersuikerdief – my broer was reeds voor enige verhoor skuldig bevind), oorslaappartytjies en kaskarkenades. Om ‘n kind te wees beteken om bloot aan te trek wat skoon is, om gedurig herinner te word om ‘n baadjie saam te neem vir die koue aandluggie, swart skopfietsies wat die bure teen die mure uitdryf tot nerf-af knie te ry, aarbei Nesquick voor slapenstyd, ‘n prentjie Bybel en opsê gebedjies.

Babalela en die Boenk, Winnie the Pooh, Sneeuwytjie en Raponsie, die varkies en die drie beertjies, prinsesse en ertjies en reënboë en ‘n muis met ‘n trekklavier. Om ‘n bokstertbogsnuitertjie te wees beteken dat die karakter populasie in jou verbeelding dié van die werklikheid oorskry. Biebie, Kalla en Vlooi, Flappie, Wilma, Wim, Ma en Pa – almal bewoners van dié verbeeldingswêreld. ‘n Woonbuurt met huisies wat lyk soos dié van Gaudi. Met ondergrondse tonnels na Peter Rabbit, Tom Kitten en Jemima Puddle Duck. ‘n Sprokieswêreld wat die grysstof van ouer garde nie kan betree nie, want ons het almal reeds die sleutel tot onskuldigheid lankal langs die kronkelpad verloor.

Shirley

Agter die Boereworsgordyn

Agter hierdie gordyn is dit uitdagend om nie in ‘n voorstedelike middelklas gewoonte te verval nie. Dikwels lei diegene wat hou van die fyner dinge in die lewe, die wie se palet aangepas is by forel of salm (NIE BOEREWORS EN TJOPPIES NIE), hieronder. Diegene wat ‘n glase Boschendal merlot saam ‘n perfek geflaméde stukkie fillet (of beeshaas) geniet of per spesiale geleentheid ‘n glasie van die beste Franse sjampanje (nie vonkelwyn nie) soos ‘n trapsuutjie proe-proe. Maar wanneer Tafelberg nie deur hierdie digte gordyn loer nie, drink my mede noordelike voorstede inwoners, die biertjie sommer uit die bottel terwyl die kole lieflik in die aandlig glinster. (Ek verkies egter die glinster van die stadsliggies. Of selfs bloot die sterre wat skaarser as hoendertande is – alhoewel stadsjapies is seker meer verantwoordelik vir die hemelruim se beurtkrag as Gerhard en sy boep)

En ten spyte van die feit dat die dieselfde koerante  hier en in die stad versprei word (afhangende van jou keuse van taal natuurlik), vermy dié ywerige vuurmakers aardverwarming geheel en al. Om saans met jou natneusie (hond) te gaan stap, is uit soos koekies in ‘n weeshuis weens die digte rookmis wat ‘n bors, wat reeds na sy asem jaag, in kroniese asma sal laat verval.

Saterdae aande is die strate leeg en die rusbanke gepak met bultende spiere, biltong, droëwors en daardie biertjie waarvan ek julle vertel het – hul oë vasgenaal op die televisieskerm en Bakkies Botha (of die man nog rugby speel, sal ek nie weet nie) en sy ronde kuitspiere. Intussen is daar eintlik ‘n wonderlike ballet by die Kunstekaap te sien, ‘n teaterproduksie by die Baxter, ‘n kunsuitstalling in Kloofstraat en ‘n boekbekendstelling by die boekwinkeltje op die hoek van Roelandstraat, maar die geleenthede gaan verby soos die wolke op ‘n bewolkte dag, want die voorstedelike televisie-stelle of radio’s (vir die desperate persone op pad huistoe), is ingeskakel op die sportkaneel. En ongelukkig, kan die gekultiveerde geleenthede nie opgeneem en herhaal word soos in die geval van die laasgenoemde nie. En gevolglik is die wit swaan in Swan Lake se swanesang nie net vir die liefde wat sy verloor het nie, maar ook vir al die rusbankaartappels wat nie hulself kan help nie.

Hiermee verklaar ek nie dat sportliefhebbers hul stokperdjies moet staak nie, al wat ek sê is dat dit nodig is om van tyd tot tyd hierdie boereworsgordyn oop te trek sodat Tafelberg in al haar glorie, prentjiemooi deur die venster kan pronk. Om nou en dan ‘n skildery te ontleed of ‘n digbundel van hardeband tot hardeband te lees, gaan beslis nie skade doen nie, en as die skoen jou groottoon platdruk, kan jy hom uittrek, maar moenie ander hinder om dit aan te pas nie. Jy mag dalk nooit weet nie, miskien is jy of die ander persoon, Aspoestertjie en die verlore glasskoentjie mag dalk net jou behoort.

Shirley