Meer as net ‘n ribbebeen.

Portret van ‘n vrou

“Die Lewe het haar arm van gees gemaak
omdat sy met haar liggaam hom moet dien
en niemand het soos sy, naby en naak,
sy wrede wispelturigheid gesien.

Dit bly haar enigste geheim want sy
het weinig van die wysheid wat bewus
vergader word; haar stille dade kry
’n sin wat dieper as gedagtes is.

Want alles aards en alledaags en klein
het sy met daardie liefde aangeraak
wat die onskone dinge helder maak;

en so verheerlik sy die brood en wyn
tot hul opnuut genadetekens word:
Liggaam en Bloed gebreek en uitgestort.” (Die stil avontuur; 1939 – eybers)

Van kleinsaf word mens gekonfronteer met wat die wêreld se idee van vrouwees is: ‘n voorskoot, ‘n kind op die heup, wasgoed op die draad en die botterskorsiesop wat prit op die stoof. Vir generasies is ons grootgemaak dat beroepe soos ‘n mediese dokter,’n  ingenieur en selfs ‘n veearts slegs ‘n vaandel van ‘n wolhaardroom is. ‘n Lugkasteel op wie se troon ‘n vrou nie mag sit nie.

Vir te lank is die Feministiese beweging sinoniem met ‘n haat vir mans en die uitsluitlike dra van broeke. Maar om Feminisme so te definieër is soos om te bly op die derde vloer van ‘n dubbelverdieping huis. Feminisme is nie die bakleiery oor wie die deur moet opmaak nie, wie eerste moet loop of wie die broodwinner moet wees nie. Feminisme is politiese, ekonomiese en sosiale gelykheid vir mans en vrouens. As jy beter spaghetti bolognese as jou lewensmaat kan maak, dan is dit heel logies dat jy saans die gesin se smaakknoppies gaan prikkel en hongergromme stom gaan maak. En as jou man die boor beter as jy kan hanteer, is dit logies (en weens veiligheidsredes natuurlik) dat jy hom gaan toelaat om die nutsman in en rondom die huis te wees. MAAR – kom ons draai die papbakkies onderste-bo: veronderstel die vrou kan skaars ‘n eier bak of roosterbrood maak sonder om dit houtskool te verbrand, terwyl die man gedurig na Kokkedoor kyk: dan stel ek voor jou man dis die spys en drank op. Soortgelyk is dit ook nie een van die sewe doodsondes as die vrou die loopbaangedrewe-paadjie stap en die man ‘n halfdagwerk het om die kinders by die skool op te laai nie (solank die man net nie een van die sewe doodsondes teenoor sy vrou pleeg nie – met verwysing na jaloesie). Die bakpoeier wat dus as rysmiddel in die huweliksbrood dien, is blote kommunikasie en ‘n gesamentlike besluit oor wie die bevoegste is in die verskillende aspekte van wees en doen.

Feminisme is beslis nie net ‘n term wat met vrouens verband hou nie. Vir te lank is die rol van ‘n pa in ‘n kind se lewe onderskat, vir te lank is mans bang om oor hul gevoelens te praat weens die vrees om van hul manlikheid ontneem te word, vir te lank het die samelewing ‘n traan op ‘n man se wang te vinnig afgevee. Mans en vrouens trek beide aan die kortste ent van die samelewing se stereotiperingstou.

Feminisme is dus die verwydering van dié lus om ons nekke. Om mans te bevry sal vrouens se vryheid as ‘n nagevolg in die hand gewerk word: as mans nie aggressief hoef te wees om hul manlikheid aan die wêreld te verkondig nie, hoef vrouens nie onderdanig aan hul te wees nie; mishandel te word nie. As mans die geleentheid gegun word om hul emosies te beheer deur uitdrukking, hoef hul nie hul vrouens te beheer nie.

As ons besef ons is almal mens mag ons dalk, net dalk, weer die hasie wat in die maan skuil – sien of selfs die prentjies in die wolke en die glimlag van ‘n persoon – skop die wêreld wat jou brein annekseer uit. Laat hom die pad vat en maak plek teen die muur van jou gedagtes om die son wat jy gevang het, op te hang.