Die lewe is ‘n oester.

“En as dit weer somer is, sal ons gedurende die langbeen aande buite onder die priële gaan wandel om vir mekaar te wuif en as dit donker word met lanterns soos draakoë in ons hande op die getande dakke klouter om na die grommende maan te kyk en ons sal skrylings op die nokke die lewensgeheime fluisterend sit en uitpluis soos gebaarmakende sjinese wysgere (verknies jou nie oor die winterreën nie)” – breyten breytenbach  /wintertroos

As kind het ek altyd langs die strand geloop en skulpies versamel. Waaiertjies, pienk toontjies en groen pampoentjies. Ek het leë mossel- en oesterskulpies opgetel om dit te was en dan boodskappies vir my ma daarin te skryf – ‘n poskaart vanuit die see. Ek het altyd die grootste skulp denkbaar op die strand opgeraap en teen die skulp van my oor gedruk. Die see se golwe het soos drukgolwe deur my koglea beweeg, omgeskakel na impulse en ontleed as die roepstemme van haar blou-blou mond; asof sy die geheime van die spesies wat haar bewoon, ingrid se ongeskrewe woorde, vissermanne se krutaal as die visnette skeur of die seuntjie in Saldanha wat sy blaas verlig, verklap.

Met my emmertjie vol skulpies en tone tussen die bruinsuikerseesand, het ek reeds van jongsaf besef dat mens ‘n toe-mossel- of oesterskulpie selde uitgespoel op die strand vind. Waarom die gesegde lei dat hoendertande skaars is, weet ek nie, maar ‘n toe-oesterskulpie sou beslis die idioom beter kon gestalte gee.

Deur ‘n mens se lewensreis kom daar verskeie karakters, hetsy aangenaam of al dan nie, oor jou pad, maar soos die branders in en uit asemhaal en die boodskap wat in die sand ingegraveer is, weglek, verdwyn mense se name en voetspore gedurig vanaf jou lewensstrand.

Maar soms, bly die naam nie net in die sand behoue nie, maar word daar ook toe-oesterskulpies uitgespoel op jou strand. Vriendskap is soos die pêrels in hierdie oesters, pragtig, blink, fyn en iets van grote waarde – nie van geldlike waarde nie, maar dit is eerder die mooi gebare en liefde wat daaruit voortspruit.

Maar die oesters van die lewe is dikwels ook ‘n paradoks. Hy mag dalk toe wees en belowend lyk, maar somtyds (meeste van die kere) bevat dit nie ‘n enkele pêrel nie en daarom as die gladde skulp uit jou hand gly, help dit nie om vir dit in die sand te soek nie.

Soms bevat die oester ‘n swart pêrel, en hoe mooi ook al dit mag wees, sal dit die estetiese balans van jou wit pêrelsnoer versteur.

Geen oester wat jy oopbreek is ‘n mors van tyd nie, die leë dop mag dalk die woning van ‘n slak van jou verlede word, of die gekraakte dop van ‘n krap in jou gemoed vervang.

Party mense is so besig om oesters oop te breek dat hul dikwels vergeet om die enkele pêrels wat hul wel besit, op te pas en kort voor lank hang daar ‘n leë halssnoer om hul nek.

Ander is geseën met volle halssnoere, ander met slegs ‘n paar waardevolle pêrels terwyl sommiges met ‘n nagemaakte halssnoer spog wat nie in die maanlig skitter nie.

Die lewe is ‘n oester (of oesters), jy weet nooit wat jy gaan vind as jy dit oopmaak nie. Jy moet waag, soek en vrede maak met die teleurstelling wat oor jou lewensstrand kan loop, maar jy moet onthou om die pêrels wat jy wel vind, op te pas en nie dit voor die swyne te gooi nie.

Shirley