Jou beste bes

“Tannie kan sien hoe netjies jy is

hoe presies alles in jou kamer

gepak is    hoe jy jou bes doen

 

hoe jy jou rooster by jou studietafel plak

hoe sorgvuldig jy jou wekker stel hoe

jy as oudste kind net jou bes doen

 

altyd jou bes doen jou heel

beste bes soos wat jy

beste besdoen verstaan

 

maar vanoggend toe jy jou sap omstamp

sien Tannie vir ‘n oomblik hoe angs uit

die hoeke van jou gesmelte groen oë flikker

 

die angs dat bes nie tel nie    dat bes niks

bring of uiteindelik tot niks lei nie dat

bes ander se beheer oor jou is     en veral

 

dat jy dalk net ‘n gewone dogtertjie is        hierdie

tannie weet hoe besdoen jou vir die res

van jou lewe hiermee ongelukkig gaan maak”  -antjie

 

Van kleinsaf word mens gekondisioneer om iets te word. Iets te doen. Nog voor jy kon skryf, moes jou bakbeentjies reguit word en jou treë langer. Jy moes op ‘n vroeë ouderdom begin “blommetjie” naas “mamma” en “pappa” sê. Jou stokmannetjies moes vinniger fatsoen aanneem en jou kwashaaltegnieke moes opgeskerp word.

‘n Mens word twee keer gebore: die eerste keer deur die geboortekanaal van jou ma (of ‘n snit gemaak deur die dokter) en die tweede; die dag wanneer ‘n droom homself huisves in jou brein saam met ‘n skamele honderd woorde, inwoners van die woonbuurt van jou woordeskat. Soos dié woordbuurt uitbrei, word jou droom se omskrywing langer en die motivering uiterbaar.

Dit dryf jou om vinniger te hardloop op die speelgrond, ‘n mooier kerskaartjie in die klas vir jou ouers te maak en mooier te sing in die koor. Dit maak die vorm van e’s ronder, jou leesspoed vinniger en jou tien-punttoetsies se antwoorde foutloos. Dit maak die voordrag van ‘n gediggie hoogstelof-gehalte en die “en toe’s” in jou self-geskryfde kinderverhale minder.

Maar wat niemand weet nie, is dat jou teddiebeertjie in die aand sopnat is, jou wangetjies rooi en oë opgeswel is en jou gemoed stukkend is soos ‘n porseleinpop wat gaargespeel is.

En dan word mens groot. Maar besdoen groei saam met jou soos hare wat nog nie hul eerste haarsny gehad het nie – totdat dit jou verby groei en soos ‘n ongewensde slieër agter jou aangesleep word. Almal trap daarop en trek dit. Dit word vuil en hak aan deurknoppe.

Ons almal se gene verskil en glo dit of nie: die lengte van jou hare word deur jou gene bepaal. Sommige van ons het die geen vir lang hare, terwyl ander se hare nooit langer as skouer- of middelruglengte sal groei nie.

Besdoen word dikwels verstrengel in jou lewe, gekoek. ‘n Vriendin het my nou die dag van ‘n Harvard-studie vertel wat oor die bestek van 75 jaar gestrek het, waar ‘n groep van ongeveer 268 mans gevolg is om vas te stel wat die grootste bepaler van geluk is. Hulle het bevind dat mense verhoudings onomwonde die grootste glimlagte nie net op gesigte maar op harte geteken het en dat geld, sukses, ‘n luukse motor of ‘n duppelverdiepinghuis, in hierdie verband goedkoper as liefde is.

Mense verhoudings en opregte liefde is dus die goue kam om hierdie koeke uit te kam. En as dié koeke eers uitgekam is, is dit jou verantwoordelikheid om jou lang lokke van besdoen te was, vas te maak en met strikkies te versier.

Dit is hoegenaamd nie ‘n versekering dat jou bokstert nie gaan swaar word of jou gaan laat sweet op ‘n vuurwarm somersdag nie, maar dit maak dit effens meer hanteerbaar.

Besdoen is beide ‘n straf en ‘n seëning, maar jy moet self besluit of jy wil hê die wêreld moet met sy vuil skoene daarop trap of dat jy ‘n geliefde gaan toelaat om dit te vleg.

Shirley