Kompas

As mens ‘n kruisie so ietwat draai (so 45 grade), maak nie saak watter kant toe nie, verteenwoordig dit nie meer ‘n kruisie nie, maar ‘n plusteken. En nog voor ons ons name kon skryf of kon tel tot tien, het ons ‘n plustekentjie met positiwiteit geassosieër, of op daardie stadium seker bloot net blydskap of om gelukkig te wees of miskien bloot net ‘n glimlag in plaas van ‘n frons.

En ek kan seker nou al afsluit, want ek het eintlik reeds gesê wat ek wou: ‘n Kruisie word vernaam op skool geassosieër met ‘n errata – hetsy dit die verkeerde antwoord is of ‘n verbode middel – ons het nie positiewe konnektasies met hierdie teken nie. (Hierdie negatiewe konnektasies word verder aangehelp deur die invul van swak taalversorgde vraelyste en die opdragte wat jou die dood voor die oë sweer indien jy enigiets buiten ‘n kruisie gebruik om die blokkie te voltooi – praat van inboksery).

‘n Glips in die lewe, die metaforiese kruisie wat soos ‘n donkerwolk oor jou gemoed hang, kan dus op twee maniere deur jou beskou word: Jy kan dit sien as ‘n kruis en jou steenig oor die feit dat jy bloot ‘n mens is, of jy kan die situasie (in dié geval die kruis) op sy kop draai en daarvan ‘n positiewe leerervaring maak – nie net om wat ookal jy verkeerd gekry het te probeer verbeter nie, maar jy kan meer leer oor jou as mens en hoe jy in sekere situasies optree. En die hartseer ding van die lewe is – as mens weet ons dikwels so baie van die wêreld en ander mense en bloedweinig iets oor onsself – partykeer selfs ‘n ronde nul, so derhalwe is leer broodnodig.

Positiwiteit – dit beteken nie jy ontken die realiteit en die negatiewe dinge in die lewe nie (‘n volstruis-mentaliteit is nie hier die alfa en die omega nie – miskien vir my hond as hy sy pellets weg probeer wens -hy hou net van menskos; of meer op die man af – hoofsaaklik draaihoender van woolies), nee – dit beteken bloot jy pak elke situasie met ‘n positiewe ingesteldheid aan. Want ‘n vyfrand is miskien nie ‘n tienrandnoot nie, maar dit is beter as ‘n leë wallet.

Negatief word al vir te lank as die vyand beskou – sonder negatief sal jy niks as positief ervaar nie, want dan was daar nooit ‘n maatstaf nie. Dan sal alles net – wees. Ons sou apaties raak oor dinge wat ons nou opgewonde maak. Sonder negatief sal jy nooit iets leer nie en bloot op ‘n arrogante wyse glo jy weet reeds alles en kan alles doen. Sonder negatief is daar nooit ‘n kruisie wat jy kan omdraai om die plusteken te vorm nie. (En natuurlik, sonder negatiewes sou ons ook geen filmfoto’s kon ontwikkel nie.)

Om die waarheid te sê: dit moet moeiliker wees om positief te bly wanneer daar nooit enige struikelblokke oor jou pad kom nie – dit is baie meer moeite om ‘n plusteken op ‘n skoon bladsy te teken as om bloot die bladsy effens op sy sy te draai om van die kruis ‘n plus te maak. As alles net altyd klopdisselboom gegaan het, sou die lewe vooruitsigloos en uitdagingloos net bestaan het – en ons as die karakters sou soos Sims-mannetjies persoonlikheidloos almal dieselfde wees. (En selfs hulle piepie van tyd tot tyd hulself nat en beland in die swembad al kan hulle nie swem nie – en dit sou nou vir navorsers rede vir bekommernis gegee het.)

Ons onderskat dikwels ons harsings. Positiewe denke sal oorspoel in goeie gesondheid, verhoudings en groei. Dit beteken nie dat jy nooit  op die duurste erf op die Monopoly-bord met 3 hotelle te lande gaan kom nie, dit beteken bloot dat jy genoeg geld gaan hê om hierdie buitensporige tarief te kan betaal – want die dobbelsteen, dié val nou maar eens nie altyd reg nie.

Waarom anders trek negatief positief aan ? Die antwoord – die positiewe groei nes fynbos in suurgrond. (Verskoon die gebruik van te veel metafore, amper so in oorvloed soos Fruit and Vegs se voorraad, maar wat ek eintlik in doodgewone (plain is so lekker woord – Karen het hom Afrikaans vir my gemaak) Afrikaans wil sê is dat: Die negatiewe is nodig vir die positiewe om te groei of altans net meer te blom. (Helaas, ek kan net nie wegkom van tierlantyntjies nie) – opsomming van dié onsamehangende paragraaf: negatief skep geleentheid vir positief.

En die mooi van die lewe, in alle opsigte, is dat ons dit deel – so as iemand ‘n horisontale minus ervaar en die ander persoon ‘n vertikale een, kan hul saam ‘n plusteken skep.

En as ons kan skater van die lag as die inkopie-sak skeur en jy gly op die tweeliter Darling melk op die grond en as ons kan glimlag al sous dit buite – mag ons dalk, net dalk, ‘n maand se gratis melk by Pick ‘n Pay kry en ‘n reënboog sien – want alles is tog relatief, negatief en positief ook.

Shirley

 

 

 

 

Maatjie na Matie

“Om groot te word
is so tussenin

Grootmensdinge is nog ver

Kinderdinge word min

Kom ons lag weer vrolik
Vir die maan se vet, geel gesig. Kom ons bring die trane
Oor ʼn dooie voëltjie terug.

Kom ons eet weer slaptjips En lek ons vingers af
Kom ons word weer kinders Kom, ons word weer laf!

Nou huil ons in ʼn kussing
en wonder waarom
nou raak ons verlief
en dink die wêreld glimlag krom.

Nou’s ons so tussenin Vals noot,
want:
Ons word groot” – Maryke Heyns

 

Na die afloop van die eindeksamen het almal spottenderwys gesê dat hul nou amptelik werkloos is: nie meer “skoolbrood” (nog nooit werklik verstaan waarom mense so na hulself sal verwys nie – niemand eet jou tog nie, en as iemand jou soos in die tieners se mond dan moet smaak, sal ek hoegenaamd nie soos ‘n grondboontjiebotter sny witbrood wil proe nie) nie en nog bloot voorwaardelik by die Universiteite aanvaar is.

Maar die dag wanneer daardie resultate se lig die retina van jou oog tref en  jou brein sin maak van dit wat jy sien (en jy natuurlik nie druip nie en darem steeds aan die minimum vereistes vir toelating voldoen) – daardie dag, of eintlik daardie oomblik, verander jy weer van vakansie-ganger sonder ‘n sent op sy naam na student met nog minder sente op sy naam.

Nooit weer gaan die skoolklok jou herinner dat jy honger is nie, nooit weer gaan daardie warm uniform jou laat sweet nie, nooit weer gaan daardie rok te kort wees of die hare te lank nie (ouens maak seker die manbuns/baarde werk vir julle – Ja, dit is ‘n modegier maar as ons nou eerlik met onsself moet wees – dit werk nie by almal se gesigvorm, -grootte en net hele voorkoms nie),  nooit weer gaan jy warmkry tydens ‘n drie-volume opvolgreeks saalbyeenkoms nie en nooit weer gaan jy sonder ‘n studente kaart iewers toegelaat word nie.

Naas die foto’tjie vir jou studente kaart, gaan jy nooit weer moet glimlag vir die kwaai Photofirst skoolfoto-amper-op-aftrede-oom nie. (Hiermee gaan die wegdoen van die bakleiery met jou ma oor die koop van die lelike foto gepaard). Hoe jy op 23 Februarie 2016 gelyk het, is hoe jy tot in lengte van dae op jou ma se koffiekoppie gaan pronk. Die naaste wat jy hieraan gaan kom is natuurlik die foto’tjie op jou studente kaart (soos ek reeds hier bo noem)- en so bly jy in jou agtienjarige vel tot jy eendag graad vang (op die foto altans- tensy jy mooi jou oefenskedule volg).

Universiteit – dit sit nog so vreemd – soos ‘n broek wat ‘n soom kort of ‘n rok wat oor jou knie-knoppe hang. Asof jy nog daarin moet ingroei, maar bang is jy val oor die te lang broekspype. Lag ek nou soos ek dit skryf – as kind het ek altyd gepraat van ‘n “lang-mou-broek” tot ek besef het dat ‘n broek nie moue het nie. En ek dink die eerste paar weke of semester altans, is juis so – jy gaan nog praat van die pype as moue.

Geen baba staan op en stap dadelik reguit met hul onkepabele bakbeentjies nie- nee, hulle hou vas aan hul mamma se roksoom of steun hulself teen die meubels (en as hul val staan hul op en somtyds huil hulle – ek vermoed ek gaan). As eerstejaars gaan ons verskeie struikelblokke kry, verdwaal, ons sente moet omdraai en moet gewoond raak aan massas werk en massas mense – maar sodra ons eers ons balans vind gaan ons kan loop en binnekort kan hardloop. (Wel – ek glo so)

Weet nie wat dit destyds met my en my woordeskat rondom klere was nie – maar ek kon ook nooit die woord, baaibroek sê nie. Vir my was dit ‘n braaibroek en klaar. (Met die tempo waarteen mense hulself gaar brand op die strand, was my woord miskien meer akkuraat as wat my ouers my voor krediet gegee het – maar in elk geval). Met die oriëntering so om die draai en klasse kort op sy hakke, voel dit partykeer asof my broek gebraai word. Vergeet van op hete kole loop – dis asof ek daarop sit: hierdie verwagting, hierdie opwinding, hierdie angs, hierdie opgewonde vrees. En dan herinner ek myself net dat ek nie die enigste een is wat ‘n braaibroek aan het nie – al die voornemende eerstejaars dra een (en ons het gedink ons is ontslae van uniform).

Helen Zille het gesê: “Die rede waarom Suid-Afrika vandag beter is as 20 – 30 jaar terug, is nie vryheid nie – dit is hoegenaamd te vaag – die antwoord is: Vryheid wat jy en ek kan gebruik om ‘n lewe te lei met betekenis. En dit is wat ek (en ek hoop elkeen wat op die voerstoep van ‘n nuwe lewensreis staan, hetsy dit studies, ‘n werk of wat okal is) beoog om te bereik uit die vryheid en die geleentheid om te kan studeer.

Dit is vir my ‘n voorreg om op my senuwees te kan wees – anders is my droom nie ‘n uitdaging nie.

Shirley

Ns. Durf die nuwe ervaring met jou te lang-broek aan en laat die sukses van jou studies die soom wees om die broek gemakliker te laat pas.

Nss. Opvoeding is ‘n voorreg – iets wat ek en jy kan en moet gebruik.

 

 

 

Pondjiebotter

As haasbek dogtertjie was ‘n R50 vir my ‘n groot som geld. Met daardie geldjie kon ek elke dag ‘n roomys of sjokolade koop in die enigste winkel op die dorp – die Struisbaai OK. Verder het ek my geld uitgegee op klein boekies by die Skulpiewinkel (die boekie het altyd soos goedkoop parfuum geruik wat vir ‘n een-meter-hoë- ek, lieflik was) en die alombekende karamel dips (ook by die einste winkel). Teen die einde van die vakansie het my pa my altyd jammer gekry en ‘n ou ekstra geldjie gegee vir ‘n mooi skulpie of twee of vir ‘n nuwe visstok, want myne het elke tweede dag tussen die rotse geskeur (my visvang stokperdjie het soos jy kan aflei, maar broekskeur – of te wel netskeur – gegaan. Ek het darem altyd die een vissie wat ek in twee jaar gevang het, terug gegooi).

As kind was vakansies by my ouma ‘n spotgoedkoop affêre. Maar intussen het ek twee liniale in lengte gegroei en saam met die beenpyn kom ‘n behoefte aan ‘n groter bankbalans – maar helaas, die bankbalans het nie noodwendig eksponensieel saam met my gegroei nie.

Nou dat vakansie te heerlik by ons almal kuier en brosbroodkoekies saam ons geniet, het ons meer tyd op ons hande en dus ook meer tyd om ons sente te probeer omdraai. En net omdat jy ‘n begroting die grootte van ‘n pondjie botter het, beteken nie dat jy droë mond deur die vakansie moet wandel nie – alles behalwe.

Die oplossing word bedien in check-plastiek bordjies en rooiwyn glasies – ‘n piekniek. En nie sommer enige piekniek nie, pieknieks mooier as die drie beertjies s’n.

Maar voor ek met die rietmandjie in die huis val – weet jy waar die naam piekniek vandaan kom? En waar dit tot stand gekom het? Moenie te skaam voel as jy na ‘n oomblik van waarheid besef dat jy eintlik glad nie die kloutjie by die oor kan bring nie – ek was ook tot baie onlangs in die duister.

So waar het pieknieks ontstaan? Die woord as sulks is afkomstig van die 17de eeuse Franse woord picque-nique wat ‘n samesyn beteken waar a handjie vol mense ietsie te ete of te drinke bring en dit met mekaar deel. Die “picque”-gedeelte kan heelmoontlik verwys na die manier hoe die mense by so geleentheid geëet het, deurdat hul met hul hande die kos ‘gepick’ het. Die “nique” gedeelte word deur baie kenners beskou as bloot ‘n simpel rymwoordjie wat by die bogenoemde woord gepas het. In doodgewone Afrikaans (sonder fancy woorde) beteken die alombekende woord bloot: Elkeen vat ‘n bietjie (en natuurlik bring ook ‘n bietjie in dieselfde asem as jy nou nie as ‘n opskeploer bestempel wil word nie). En dit is dan die woord.

Die Franse het die Engelse met dié geliefkoosde uitstappie voorgespring. Ook nie moeilik om te glo aangesien die Franse vandag steeds lief vir hul patés, kase, ingelegde uitjies en koue vleisies is – ek wonder of die meter lange Franse brood ook miskien hier sy oorsprong geniet. (Die Engelse het wel meer as die Fransman na die 1800’s begin eet op ‘n kombers onder die bloulug, maar hul spyskaart het meer roomkaas en komkommer toebroodjies ingesluit).

Maar die assosiasie met die hele idee van piekniek was nie altyd stroopsoet nie – inteendeel. Baie mense het destyds (en sommiges nogsteeds vandag) geglo dat die woord Piekniek direk van die woorde, “pic-a-nigger” (bloot ‘n weergee van inligting en hoeganaamd nie haatspraak nie) afkomstig is. Die konsep ontspring uit die idee dat mense piekniek-tipe etes geniet het terwyl hul die verbranding van ‘n slaaf (wat volgens hulle oortree het) tot die vermaak van die hele gesin aanskou het. ‘n Skokkende 4000 swart slawe is tussen 1882 en 1962 verbrand. En glo my – toe ek op hierdie brokkie inligting afkom, wou ek ook my gunsteling aktiwiteit koebaai soen – maar gelukkig is hierdie negatiewe konnektasie bloot weens ‘n misverstand.

Die waarheid is dat Pieknieks onafhanklik van hierdie gebeure tot stand gekom het – in die Middeleeuse wêreld (Robin Hood se tyd) toe jagtogte en dus ook woud-wegneem-middagetes algemeen en noodsaaklik was. Dit is bloot toeval dat mense kos saam geneem het om hierdie gru en hartelose dade te aanskou. So moet dus nie die mandjie te ver weg pak nie. (En wat leer ons hieruit – om nooit al jou eiers in een mandjie te sit nie)

En nou dat ons almal mooi ingelig is oor presies wat ons doen as ons onder die bome lê – wat sit mens in jou mandjie?

0002_00

0004_1

0005_2

0006_3

0007_4

0013_10

0009_6

Bloot riglyne vir die perfekte piekniek mandjie:

– Croissants (moet kraakvars wees, en verkieslik nog warm; ek vind dat Woolies se bakkery hemelse deegrolletjies verkoop) – hierdeur vereer ek ook die Fransman wat aan hierdie manier van samesyn en peusel gedink het. (Een of twee per persoon is meer as genoeg – die sleutel is om net genoeg te vat om ooreet te vermy – dit bederf bloot die ervaring) As jy egter ‘n gesonder opsie wil inpak (en miskien gluten-sku is, is Rogbrood ‘n wonderlike opsie of selfs koolhidraat-slim saadkoekies van Woolies – hierdie is nie ‘n advertensie vir Woolworths nie, al klink dit so)

– ‘n Pondjie plaasbotter (of ‘n neutbotter/olyfolie vir ‘n vegan alternatief)

– Gerookte forel (indien jy nie ‘n visliefhebber soos die uwe is nie, kan jy dit vervang met gerookte hoender, parma ham of wat ook al jou hart begeer. Vir ‘n vegan opsie sal ek lekker oondgeroosterde eiervrug voorstel.

– Kaas, kaas en nogmaals kaas ; seker nou nie te veel kaas nie, maar definitief ‘n goeie Camembert. Die maak wat ek sal aanbeveel is Castello. Die Brie is net so lekker. Glo my, hierdie kaas is een van daardie smake om oor huis toe te skryf. Vir ‘n vegan opsie is daar verskeie neutkase en tofu by gesondheidswinkels beskikbaar. Die tweede kaas wat ‘n absolute moet is (wel vir my altans) is egte Italiaanse sagte Mozzarella balletjies (Buffalo) – Woolies het ‘n baie lekker enetjie wat plaaslik vervaardig word – bleikbaar ‘n eg Italiaanse resep. En dan natuurlik bokkaas (chevin) is nie onderhandelbaar nie. Bepaal die hoeveelheid kaas afhangende van die hoeveelheid mense.

-Ingelegde vye ; hierdie stroopsoet delikatesse moet in enige piekniekmandjie wat sy sout werd is, pronk.  Varsvye indien die seisoen dit toelaat, is selfs beter.

– Heuning (klein bietjie net vir ingeval)

-Vuurpylblare (ek is belaglik) –  meer algemeen bekend as rocket blare. Die peperkwaliteit van hierdie groenigheid is wonderlik by kaas en ‘n vleisigheidjie.

– Avokadopeer – Ek gaan nie eens verduidelik hoekom nie, onthou net die growwe peper en die pink sout.

– Bessies (Frambose, blou-en swartbessies) – my gunsteling. Die suur is lieflik saam met al die soet smake en dit is ‘n klein natuurlike medisynetjie so tussen die bloekombome.

– Granaat – Granate maak alles mooi.

– Vrugte  – Pynappel, vleeskeperskes (mangoes), perkes

– Hummus met groente stafies/ oondgeroosterde groente

– Olywe

– Ietsie soet – Hoghouse Pan di nata tertjies

Om die palet klam te hou, is water noodsaaklik – vernaam as die son water trek. En rooiwyn – nie of nie, EN.

Eenvoudig  – dog ‘n hemelse, smullende samesyn.

Neem ‘n leesboek of twee, jou kamera, sonbril, hoed en sonbrandolie saam.

 

Shirley