Sê dankie vir die tannie

Ode aan tannie Isa

 

Niks groter as ‘n piesangbroodjie

het my ma my elke dag aan jou hande toevertrou

jy het my vasgehou

gebad

en my boude afgevee

jy het my groenboontjies gevoer

en my beloer as ek my hande was

of beskuit uit die oond steel

sonder om ‘n happie te deel

jy het my geleer speel

teken en vuilword

jy het my geleer om mens te wees

en toe ek vier word

toe sê jy vir my:

“Loop wys vir al daardie grânt kinders hoe slim jy is”

 

dankie, auntie isa

 

– Shirley van der Merwe,  30.09.2017

My mooiste en gelukkigste herinneringe van my kleuterdae speel af in Tannie Isa se sitkamer tussen die rietbanke en gekleurde blokkies op die mat. Ek onthou die reuk van die kookkos en karringmelkbeskuit. Ek onthou die gherkins-geëtery uit die potjie en die vingerkoekies. Ek onthou die ander kinders en die warm drukkies. Ek onthou die piesangboom buite die ruit en Sttttt die babas slaap (al was ek self ‘n baba).

Vaagweg onthou ek die besoeke van Vaderkersfees wat meestal op ‘n ramp afgestuur het en ek onthou Maryke en Charl. Hy het by sy huis verdrink – ons was drie en my hart is nogsteeds gebreek. Die dood het my bang gemaak, maar haar hand het gesê dit gaan ouky wees.

Ek kan nogsteeds die stroopsoet tee in die tietiebottel onthou en reënboogstroke voor die video beginne draai het. My gunsteling program was Pengu Pengu – die pikkewyne was maar karakters van min woorde – maar op een of ander wonderbaarlike manier het ek hul verstaan en bonatuurlik aanklank by hul gevind – so asof ek die klanke self in woorde in my gedagtes omskep het – miskien was dit die begin van die vorming van my eie stem. Ek lag as ek terugdink aan hul plat pienk voete wat hul met sulke klapgeluide neergeploks het in die sneeu. En naas dié lewendige beeld in my geheue – onthou ek Heidi – daar in tannie Issa se sitkamer het ek saam Heidi en Petrus in die berge gehardloop en my gunsteling episode was toe haar kat kleintjies in oupa se dak gekry het – seker nie toeval dat ek dus so versot op diere is nie.

Maar naas al die spesifieke herinneringe onthou ek die gevoel – die gevoel van absolute veiligheid en te vredenheid – iets wat ek sedert vier nie sommer elke dag beleef nie.

Tannie Isa vertel altyd hoe ontmoontlik ek was as baba – as sy my skamele drie hare op my kop moes was – sy sê altyd: “Dit was net arms en bene”, totdat die buurvrou haar aangeraai het om my in ‘n handdoek toe te draai – in haar verdediging – ek was haar eerste pasgebore baba na wie sy moes omsien lank na haar eie kinders reeds uit die huis was.  Maar naas hare was, was ek soet. Blykbaar het ek ‘n paar keer op my kop te lande gekom (die eenkeer tussen die bed en vensterbank – akrobaat van kindsbeen af) en sy was elke keer in ‘n koue sweet op die foon met my ma – maar my hardeskuif het darem nie te veel skade opgedoen nie.

In die somer het ons so klein plastiek swembadjie gehad – groot genoeg vir drie sitvlakke en slegs sit – maar baljaar het ons baljaar. Daar was ook sulke skopfietsies – verbeel ek my – ‘n pienke en bloue waarmee ek die erf platgery het – natuurlik die dat ek deesdae in helldriver op die pad uitgedraai het.

Tannie Isa het ook die mooiste roosbedding gehad – ek het natuurlik partykeer in die geheim daaroor gespring as ek lui was vir omstap – maar sover my geheue strek het ek darem geen roos ooit platgeval nie.

As ek nou in retrospek my lewe tot dusver aanskou, besef ek net al meer en meer – hoe belangrik die eerste paar jaar van ‘n kind se lewe, my lewe was – veral die eerste twee.

Die eerste 1000 dae van ‘n kind se lewe, dus van bevrugting tot en met die tweede verjaarsdag – is die tydperk waarin die brein die vinnigste ontwikkel – dus gedurende hierdie tyd is borsvoeding, voeding en stimulasie baie belangrik. Dit is ook die eerste keer wanneer die kind ‘n persepsie van vertroue opbou en sekere gedragsprosesse kan gedurende hierdie tydperk gevorm word en vasgestel wees vir die res van die individu se lewe.

Hegte verhoudings tussen die baba/kleuter en ‘n versorger, hetsy dit die ma, dagmoeder of enige ander familielid of persoon is – is ‘n broodnodige (of borsvoednodige) aspek in die ontwikkeling – dit is dus nie nodig om jou kinders te probeer leer lees op twee nie – wat belangriker is vir breinontwikkeling is speel, probleemoplossing en ‘n stabiele verhouding.

En daarom is ek my dagmoeder so ewig dankbaar – sy was ‘n konstante, ‘n tissue vir die krokkediltrane, ‘n kosyn waarteen ek kon opstaan toe ek leer loop het en ‘n houtlepel as ek stout was. Sy was die arms waarin ek veilig gevoel het as iets denkbeeldigs my in die gange jaag of as ‘n kind ‘n barbie teen my voorkop gegooi het. Sy was my muse – ek het haar nageboots in huistake, ek het haar help skoonmaak, met die ander kinders gehelp (ek hoop ek het gehelp en nie die situasie vererger nie), ek het saam gebak en sy het my leer appelkose eet.

Ek voel nog elke tekstuur – die van die mat, die growwe wit muur, die koue kombuisteëls onder my voete en die retro kombuistafel – met ‘n groen tafeltop as my geheue my nou nie fop. Ek onthou die ronde geuwels van elke vertrek. Ek onthou selfs haar reuk en die alombekende: “Loop sit; loop staan; loop eet; LOOP SPEEL (as ek ‘n pyn was); loop slaap (die een het ek ook dikwels gekry – naptime was nie my gunsteling tyd nie); loop maakskoon; loop was jou hande en ek het altyd bygevoeg om aspris te wees (uiteraard na my semantiese verstaan van woorde uitgebrei het) – loop loop.

Liefste , Auntie Isa – dankie – dankie dat jy my gevorm het, aanmekaar gesit het leggo vir leggo, houtlepelhou vir houtlepelhou, drukkie vir drukkie en stukkie vir stukkie.

Soos ek skryf – huil ek – nes die dag toe ek moes bye sê en crechè toe gaan.

Mens se rolmodel hoef nie altyd aardskuddend te wees om jou wêreld te skud nie- myne is ‘n down to earth tannie van Garries wat hou van Wimpy milkshakes.

Altyd my gunsteling tannie – my tweede ma.

Al my verlange. Al my liefde.

Shirley (stoutgat)

 

Ns. As julle my soek – ek sal by die huis wees met die icecream bush besig om tee te drink en te lag.

 

Tot die winterwederkoms

As ek die dadelsoet geur van bloeisels ruik, die kraak van klam boombas onder my voete hoor en die klank daarvan my gedagtes laat wandel na die laaste herinnering van die winter – die geknetter van ‘n kaggelvuur, as ek die oggendlug diep inasem soos ‘n verslaafde aan nikotien en net groen om my sien – dan weet ek: dit is lente. Die seisoen waar die son soos ‘n baba is wat nie kan slaap nie en die maan soos ‘n kind met groeipyne – groeipyne ter voorbereiding vir die langbeen someraande waarlangs mens kafee toe stap om chappies te gaan koop.

Bygesê – die lente is ook nie altyd die gunsteling kind hier in die Kaap nie. Sommige jare baklei Winter en Somer so wie gaan voorry vir die dag dat Lente dikwels nooit in die kar klim nie – en op ‘n dag moet die blommetjies eweskielik begin blom al trek die bloedige warm son alreeds water.

Maar hierdie jaar het Lente haar wekker gestel (as sy enigsins soos ek is – vermoed ek ‘n paar en nie net een nie) om dou voor dag flawless uit die bed te rol en die voorste sitplek te annekseer- maar hier teen dag drie moes sy deur ‘n wekker (of twee) geslaap het- want daardie dag het winter voorgery en was die suf- en somberheid self.

Die verskillende gesiggies wat vir mens kyk – die clavias in die ou man op die hoek se tuin, die petunias op die vensterbank van die middeljarige paartjie twee strate van ons, die papawers langs die vibercreet van die oom/tannie/of beide vra my elke dag so in die verbystap – mooi – dat die hond op ‘n ander grasperk briewe in geel-ink moet gaan skryf. (En my worshond is berug vir sy mooi handskrif)

Ek verloor baie dinge maar ek steel niks – maar blomme is soos daardie uitsondering klousule in die grondwet of die fynskrif in een of ander dodgy deal of kompetisie – want so nou en dan pluk ek so een of twee (eintlik so drie of vier) vir my persoonlike versameling – in die blompot op my boekrak teen my muur. Daar sal die gesiggies ‘n ogie oor my kan gooi – en net voor hul skoonheid vergaan – sal ek hul droog en hul versamel in blompotte – weer – maar die keer sonder water.

My kamer staan reeds vol verskillende seisoene en oomblikke- vasgevang in die droog – elke bossie vertel ‘n storie – die een bossie (moet ek nog raam – maar eers wanneer my skip inkom) behoort aan 3 September 2016, my matriekafskeid; iewers is hier sonneblomme van die Woordfees-repetisie-dae (van René), proteas van my neëntiende verjaarsdag, rose van die tafelversiering van die Leeuwenhof ontbyt, tulpe van Willem en gesteelde papawers van onderandere Babilonstoren en my eerste kelnerinwerk (dis net ek wat sal vra of ek die tafelversierings mag kry) . Ek het ook Lavender in ‘n potjie en sulke silwergroen blare – van my huisdans – wat my ietwat herinner aan iets uit Griekeland. Die eerstelinge van my orgideë lê ook gedroog tussen Vlam in die Sneeu en die Mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Tussen my gunsteling Teddie en Stitch lê die eerste bloeisel takkie van die seisoen – piglet-pienk.

Maar tot die winterwederkoms – skop jou skoene uit en loop kaalvoet langs die kombersgrasperke, ruik aan die parfuum van die blomme, en besluit op jou gunsteling een. Asem die sonlig in en sit vir ‘n oomblik net jou selfoon neer, en voor jy die mooi hang in jou persoonlike uitstalling in die kuberruim museum- wees net in die teenwoordigheid van die skoonheid – nou, want kort voor lank is dit tyd vir die blommetjies om hul kroonblare een vir een af te gooi en as die laaste een die grond tref moet die tulp alles behalwe sê: “Poeple loves me not.”

Shirley

Ns. As mens blomme droog hou die lente vir altyd – nes in die stad van die eikebome, jy weet mos: Dis altyd lente in die oë van die Stellenbosch studente. (Wat is ‘n blogpost sonder ‘n cheesy opmerking?)