Menskleur

Menskleur 

Toe ek klein was het ek geleer tel tot tien 

ek kon my naam skryf 

en van 

En moes show en tell mondelinge opsê

oor my gunsteling barbie 

die een met die sagte hare 

Ek kon mooi teken 

en my prentjies was gevarieërd 

Van klein na groot en vet en maer 

Van honde en katte en voëls in vlug 

Maar as ek my maatjie gevra het vir die menskleur uitdraaikryt 

Het sy oorgeleun en een so tussen geel en wit aangegee – 

en as sy my gevra het, 

het ek dieselfde een teruggegee 

Die glimlag gesiggie het ek wit ingekleur 

Teen die swart agtergrond – die teendoek 

vir die die off-white maan 

Ek is jammer 

Vergewe my 

Ek was klein 

dom  – Shirley 

Ek is skoon angstig om te begin skryf – ek is bang ek sê iets krom en skeef. Ek is bang ek trap op tone of dat my woorde soos deur ‘n vervalsde gebaretaal-vertaler verkeerd oorgedra word aan die dowes. Kom ek verdraai die idioom – en durf die brokkie skryfwerk aan as eerder dooie Jan as bang Jan.

Ek is ‘n sogenaamde freeborn – met ander woorde: ek is gebore na 1994 – vier jaar om presies te wees. Al het ek nooit die lug van ‘n Apartheid Suid-Afrika ingeasem nie – asem ek steeds elke dag die lug van apartheid in.

My kennis van die politiek strek nie verder as wat my neus lank is nie – en glo my – my neus is nie baie lank nie – inteendeel – dit was meer soos ‘n afterthought gedurende my brouery – ‘n prestick neusie. Maar dis nie die punt nie (verskoon my dat ek altyd ‘n enkel punt in drie moet verander – en dan die werk van die ellips ook sommer doen – verwoord wat die ellips aandui) Maar in ieder geval om terug te kom na die punt wat die punt was: Ek gaan nie praat oor politiek nie- ek wil praat oor die mens.

Die mens wat rasse skep binne in die einste spesie waarbinne ons onsself bevind – op grond van velkleur – net dit. Die vel is ‘n wonderlike orgaan – moenie my verkeerd verstaan nie – maar wow, het ons as mensdom so dom geword dat ons vergeet dat onder daardie laag vel – daar miljoene drie-dimensionele strukture en organe en sisteme wat die mens vorm, lê. Bygesê velkleur – dis selfs ‘n laer een – dis bloot pigment – bloot een van die komponente van die vel as sulks. Hoe durf ons die mens reduseer tot net sy vel, oftewel net die kleur daarvan- dan is die taalsweisers – wie ook al dit was – al die tyd reg – die mens is inderdaad dom – dus mensdom. (Geen toeval die die diere hulself verleen aan die diereryk – anders as ons mense in ons domskap maak die diversiteit in die dierekoninkryk hul inderdaad ryk).

Die een blom kry nie minder sonlig omdat hy rooi is en die ander een oranje of geel is nie – die son skyn en die blomme groei – nou waarom dan nie ‘n plekkie in die son vir elke skakering vel gun nie.

En dis lankal nie meer ‘n stryd van die verlede nie- dit is ‘n stryd van die hede: daar is diegene wat vasgevang is in dieselfde denkpatroon van destyds – die een dink hy is beter en die ander een wil wraak neem of op hul loure rus – deur goed net te ontvang, betaal deur die swaarkry van hul oupas en oumas, pa’s en ma’s. Die onregte van die verlede kan beslis nie ontken of misgekyk word nie – dit is daar – maar dit staan soos ‘n wit olifant nog al die jare in die vertrek – almal maak die olifant gemaklik in die vertrek al druk dit alle ander lewe en meubels plat – maar niemand dink aan ‘n plan om die deur van denke net so ietwat te verbreed dat die olifant kan ontsnap en ons kan asemhaal.

As die opvoeding van kindsbeen en nie adolosentbeen verbeter kan word – kan alle kleure beentjies saamgroei en teen die tyd dat hul uitgegroei is – ewe lank staan. As ons gaan aanhou om die storie se slot te lees voor hoofstuk een – gaan ons reeds die ontknoping verklap het en te lui wees om die boek te lees – want ons dink ons weet wat gebeur – maar doen is werklik?

En al kan ons as die gepeupel nie die besluite namens die hoë bome maak nie, kan ons praat oor ons verskille – om net te verstaan – miskien is die kleur dan nie so vreemd as jy dit wel ken nie. Leer jou kind dat die menskleur nie net daardie wit roomkleurige een is nie – maar ‘n spektrum kleure – leer jou kind dat hul getekende figure net werklik mens kan heet as hulle twee of meer kleure neem en meng.

Ek wens vir ‘n dag waar dit ouky is om na iemand te beduie as die swartman met die rooi hemp aan of die wit vrou met die pienk rok aan as jy ‘n vir ‘n mede-kelner beduie waar om die kos neer te sit- hoekom is ons so bang vir die kleur – as ons kleure van klere kan identifiseer – waarom byt ons op ons tong elke keer as ons die kleur van velle noem. Dit is daar – mens kan dit nie miskyk nie, maar as mens dit noem bloot oor wat jy sien en nie omdat jy enige gevoelens daaraan heg nie- hetsy dit haat, vrees of ‘n meer- of ‘n minderwaardigheidskompleks is, dan is dit doodnormaal. Die byvoeglike naamwoord – wit, swart, bruin, lig, donker, olyf kan mos nie dieselfde waarde dra as die naamwoord wat dit beskryf nie- die persoon wat dit beskryf – dit is beskrywend maar dit maak nie van daardie persoon minder van ‘n mens nie.

Die lewe is al klaar te: Jy is te maer, of te vet, jy is of te slim of te dom, jy is of te kort of te lank, jy dra te veel dieselfde jean en moet te veel keer vra: Skuus, herhaal gou, ek het nie gehoor nie – waar gaan ons, of eerder waar wil ons eindig as ons nog moet spartel oor of ons te wit of te swart of te bruin is. En ek verstaan – almal is te gelukkig in hul gemaksone dat niemand te veel of te min wil doen nie – maar doen ons ooit genoeg? Doen ons ooit genoeg om die persoon oorkant ons werklik te sien – kyk ons ooit mense nog in die oë en loer deur die gordyntjies wat voor hul siel hang – ongeag die kleur van hul baksteen mure.

En ja – miskien is my woorde ook niks meer as net nog een van die miljoene verlore opinies op die internet nie- maar ek is net moeg daarvoor om soos ‘n wimpy chippie getel te word.

Dit voel al meer of die wenslysie vir die wêreld vir ons kinders eendag al langer word – langer as die lysie kersgeskenke wat ek destyds aan Vaderkersfees uitgemaak het. Hoe langer ons in hierdie lugkastele van ons woon waar ons dink alles is altyd klopdisselboom – hoe hoor skuif liefde by die lys van bedreigde spesies op – en ‘n mens sonder liefde is soos ‘n renoster sonder ‘n horing. ‘n Olifant sonder ivoortande. Lente sonder blomme. Die see sonder sand en ‘n boot sonder water om op te seil.

Die mens sonder liefde is soos ‘n Kersboom sonder die Bethlehemster.

Shirley

 

 

Ode aan eerstejaar

Met vier minder tande sit en skryf ek vandag en hoop ek dat al my verstand darem nie daarmee jeen is en dat die letters wat ek so netjies langs mekaar pak – wel woorde vorm – nes aminosure wat in die regte volgorde moet wees om die regte proteïen te vorm. Vanuit die staanspoor waarsku ek dus: Lees gerus voort op eie risiko – ek mag dalk plek-plek woord mutasies die lewe gee.

So kom ek val met die deur in die huis: Eerstejaar. Medies. Klaar. Van al drie bogenoemde woorde sit die laaste die moelikste in my kieste (wat darem nie meer geswel is na my verstandtande se verwydering nie). Dit voel soos reën in die somer, piesang op rye – vreemd maar wonderlik.

Kom ek stel die jaar gelyk aan iets minder afgesaag as die alombekende wipplank. Die jaar was soos ‘n televisie-reeks  –  sommige episodes meer opwindend as ander, party net kak en ander weer so roerend dat jy dit oor en oor wil kyk – wil herleef. Maar nietemin saam het almal deel gevorm om die storie sin te laat maak – om seisoen een klaar te skiet. Soos ek nou hier tik projekteer my geheue die rol op die skerm van my denke en ek voel weer elke hallo, vinnige hartklop, sweetdruppel en traan. Ek hoor elke glimlag, voel die angs van elke noue ontkoming op die pad en sien die gesigte van die rolverdeling. Elkeen wat so goed in hul spel bygedra het tot my storie dat ek hul weer sal vra om Seisoen 2 saam my te skiet: tweede jaar.

Dis moeilik om die jaar te verwoord. Anders, is beslis die eerste mieliepit wat springmielie word in my denke – en nuut, die tweede. Die derde popcorn sal ek sê opwindend, die vierde – kennisryk, die vyfde stimulerend en die sesde – onbeskermd.

Universiteit is beslis anders, nuut, kennisryk, stimulerend en beslis onbeskermd. Mens word in ‘n see mense en ‘n see van werk ingegooi – en mens moet swem – daar word aanvaar dat hoërskool jou reeds leer swem het – maar in die eerste kwartaal toe besef ek – ja, dit is miskien so – maar leer swem buite die water en dan kom jy op universiteit en moet jy kan swem in die water – in die diepkant sonder vlerkies of noodles om te dryf – net jy.

Ek het vanaf die begin besluit om hard te skop – sodat ek nie eenkeer voel ek verdrink nie. Die gevaar kom egter in – om nie so hard te skop dat jy begin water spat en insluk nie – die sleutel is om te skop – en te swem – om vorentoe te beweeg.

Die akademie het vir my makliker gekom as die sosiale slag – maar teen die tweede semester het my asemhaling meer egalig begin word – en kon ek nie net swem nie – maar kon ek onderwater swem – kop en al – en kon ek die skoonheid onder in die see wat ek bang was my sou verswelg, geniet. En gelukkig het ek elke nou en dan asem geskep om terug te duik na onder.

En tydens die asemskep het ek al wat dinnerdates, sushi, vegan plate koekies, teaterstukke, gedigte en blomme ingeneem.

En vandag besef ek dit was dit – die sukses van my heerlike jaar was juis dit – die asemskep. Dis eending om te kan swem – maar dis ‘n ander om te weet wanneer om asem te skep – anders gaan jy in elkgeval verdrink – al kon jy swem.

(Hierdie blog post is een groot metafoor – of ek besef nou – ‘n paar – ek hoop jy volg nog…)

Ek hou eintlik daarvan as my skryfwerk so perongeluk gebeur – so daarom gaan ek voort strompel en kom ons kyk wat ontvou.

Ode aan elke liewe rolspeler (eerste metafoor) en elke liewe persoon wat of saam met my geswem het en my herinner het om asem te haal of diegene wat op die strand gestaan het – en wie se roepstem my laat terugkeer het na die kus – wie met handdoek op die strand staan en vir my wag al word hul broekspype in die vlakwaters nat. My toegedraai het soos ‘n maki en op die strand neergelê het dat ek somtyds kon droog word van die oseaan van die Universiteit.

My hart glimlag – want julle is die mense wie my oë was as ek myne toegehou het.

(So dus – ode aan bogenoemde gene – julle weet wie julle is – julle is reeds gecast vir volgende jaar – net so terloops)

En dan ode aan skryf, ode aan dig – my spesiale woorde – vandag het ek min woorde om julle mee te bedank – hoe bedank mens nou iets, of eintlik iemand met hulself – so daarom bedank ek julle met nie my woorde nie – maar breytenbach s’n:

“Liewe gedig, bly by my

Moet my nie nou so na aan die einde

in die steek laat nie. Ons kom al baie stories saam 

oor jare en tye, deur lande (ek moet nog toer met jou) en landskappe en liefdes (en liefde saam jou ervaar)

en geheime kamer waar galge getroon het, 

van die een masker na die ander 

apestreek of apostroof of begrafnis. Wie ken my beter? ” – bb

Ode aan Cooper en London: Ek het vir beide julle ook gedigte aan mekaar geweef – ek pen dit hier neer en vanaand voor slapenstyd – sal ek dit vir julle voorlees – belowe.

 

Ode aan Cooper

 

jy het jou stert geswaai

en jou om my pinkie gedraai

jy het met jou groot mensoë my belowe

ek kom die wêreld te bowe

jou pelslyf hier op my skoot

nes dit hoort  – shirley 

 

 

Ode aan die worshond (london) 

vanmiddag 

toe ek deur my kamervenster kyk 

en jou sien lê in die laaste bietjie hitte van die dag 

hoe jy jou langore agtertoe gooi 

jou neus in die lug pleit alles behalwe 

snobisme 

terwyl jy heel waarskynlik sit en 

dagdroom oor tennisballe 

sokkies en hondepellets 

die eenvoud is so underrated 

en al doen jy die naam van jou spesie ‘n onreg aan

voel ek bevoorreg om die weg vir hierdie onreg te baan 

want ek sal die pee teen die bed môre weer skoonmaak 

weer op drolle gly 

weer in jou hare slaap 

as ek kon kies 

sou ek weer vir ‘n worshond liefvoorwees 

wat is ‘n kamer wat lekker ruik dan nou eintlik? – shirley 

Ek sal die res van my hoogtepunte en laagtepunte met my dagboek deel en geheime briewe gerig aan die onderbewuste, skryf in my slaap.

Shirley

 

ns. jou wildste drome word waar – as jy waag om te droom en dan wakker word – Anders bly dit ‘n droom en nooit die werklikheid nie. En ‘n sesde daarvan staan met ‘n regmerkie teen my kas.