Krismis

Struisbaai

My kinderdae geskink in gemerkte groen koppies
My kinderdae bedek met caramel treat en ouma se sjokolade koek om 11 uur
Maar voor dit strand toe teen 9 uur ruik na suntanlotion (pizbin) en perskes vir op die strand
My kindervoete bedek met sandsokkies en die handdoekie vir die voete in die boot
Nostra draairoomyse met flakes of caramel dips
Springgety en boogie bord
“Swem tussen die lifeguard vlaggies” (mamma aan die woord)
Skulpiewinkel en kleine pienk boekies wat ruik na cheap sweeties
Vrugtetrokke op die lawn voor die apteek
Met spanspekke en waatlemoene en perskes en druiwe en mangoes en litchi’s en gemmerbier
Oupa en sy kabeljou
En ons soos drie weeskinders  een vir een my ouma se kamer soggens binne strompel met kussing en deurmekaar hare en klaasvakie stof in die oë
By my ouma inklim en morning life kyk tot 9 uur
Oupa bring dan nutriday strawberry vir ons elk in die bed met daai kellogs-mannetjie lepels – gesiggies op die handles se glimlagte glimlag vir my klein kloppende hartjie wat gelukkig en te vrede was
Saans het die see mens aan die slaap gesis en soggens die voëltjies mens wakker gesing
My broer was altyd laaste vir aanmeld in ouma se kamer en kon dus nooit langs haar lê
My sussie was meestal eerste en ek was seker tydens die hele vakansie 3 keer gelukkig
Ons pelgrimstogte af skulpie-beach toe
Die vissies vang in die rotspoele en die groot release na almal kom kyk het
Ek onthou die jagtog na seesterretjies om te sê jy het een eerste gewaar
En die soektog na toontjies (pienk skulpies met sulke tandjies- my ouma noem hul toontjies want as die sand jou tone net genoeg bedek dan lyk jou toonnaels soos klein pienk skulpies – kyk maar)
My ma was egter voorsitster van dié vereniging want vir elke 5 wat sy gekry het – het ons drie baklei oor een
Elke dag na die beach was ons na OK vir die bakkery witbroodjie met die lekker taai kors
Middagete met die Lazy Susan en die bord gerasperde gouda en tamatie
Ek onthou die reuk van kaasworsies wat warm word in bietjie water in die mikrogolf
En ouma wat al begin kook aan aandete terwyl ons nog ontbyt eet
Ek onthou die swingball, die reuk van oupa se garage , die ritte in die pad af met sy landrover en tuisgemaakte karretjies
Ek onthou die mooi tuin
Ek onthou die mooi huis
Ek onthou die mooi see
Ek onthou die varslug
Ek onthou hoe die gras en sand onder my size 1 voet gevoel het en hoe grootmens-afbuk-drukkies was
Nagsê drukkies
Ek onthou hoe die lewe van daardie hoogte af vir my gelyk het
En vandag al staan ek op my knieë – is dit nie dieselfde nie
En al breek die branders oor my voete in ‘n ander baai
Is dit nie dieselfde nie
My kinderdae opgeskryf in die Welkom-in-Struisbaai-bord
My kinderdae vasgevang in my oupa se lens
My kinderdae staan op my boekrak in glas en lê verswelg tussen pampoenkies en waaiertjies en ruik na die see
As ek die skulpe teen my oor druk – kan ek vaagweg hoor hoe ek lag in die see
Maar die wêreld van hieraf lyk nog nooit weer dieselfde nie

– Shirley,  24 Desember 2017

Elke kersfees is nie altyd maanksyn en rose nie – elke kersfees is meer skottelgoed in al die beskikbare opwasbakke en gesteelde blomme vir tafelversiering. Maar elke kersfees is die geur van gekookte groente, kalkoen, gammon en tastic rys.  Elke kersfees is die kleur van slaaie en die klink van delikate sjampanje glase, die gevoel van glimlagte en sprankel op jou tong. Elke kersfees word die gesigte in fotorame teen my ouma se mure lewendig. Elke kersete sit my oupa weer saam met ons aan tafel as my jongste niggie die seën vra met sy bekende gebed. Elke kersfees is my ouma uitgepaas op haar uitskopstoel – want dit is ‘n dag se werk om te kook en dan nog te eet ook. Elke kersfees sê my ouma dis die laaste kalkoen gaarmaak – en elke kersfees maak sy hom weer. Elke kersfees is daar een cracker grappie wat homself herhaal – en anders as elke ander kersfees, het ons hom hierdie keer onthou, maar nogsteeds nie gelag nie – by ‘n gebrek aan dit lees met ‘n swaar Britse aksent.

Elke kersfees lê ons vir vier ure en die ete verteer terwyl ons lag oor die jaar en my tannie met al haar opgehoopte data ons vermaak met facebook se Sondag beste: motivational quotes. Ons ruil foto’s uit van ons troeteldiere, gesels oor al die onregte wat kelners met ‘n knippie sout móét neem- die jaar praat ek kliphard saam – en lag oor my niggie en haar “spesiale vriend” soos my ouma dit noem. Volgens my ander niggie is hy nie net spesiaal nie, maar soos ‘n skim in die nag ook en net met die blote oog te sien op foto’s. Toe my tannie my broer vra hoe dit lyk op die meisie-front en hy sê:  “Ag nee wat tannie, ek is nog (huiwer) oraait,” kon die dag maar eindig en ek sou te vrede kon gaan slaap (Ek lag nou nog om die waarheid te sê). Verder gesels ons oor die toekoms, my nefie op die skepe en hoe hy dit regkry dat die meisies almal net vir hom wil kosmaak en sy klere wil was en stryk.  So hou ons makietie totdat iemand lus word vir poeding en dan is dit rondte nommer drie.

Daarna is die tweede span aan diens by die sunlight liquid en dan gaan sluimer almal weer so rukkie in. Ons neem ekkiekies en onsies tussen deur die sluk aan die laaste bietjie sjampanje.

‘n Kersdag ete by my ouma is ook nie voltooid sonder sjokolade wat die hele tafel volstaan en haar aftereight mints. Die beplanning hou ook nie by die spyskaart en die dekor op nie – daarna is dit tubberware beplanning en yskas-ingenieurswese om plek te maak vir al die leftovers wat ‘n huisgesin van vier nog heelweek kan voed.

Kom ons blaai terug tot voor die aansit by die feesmaal: Drie wekkers later slaap ek en my sussie nogsteeds en my ouma het al haar Estee Lauder lipstiffie aan en kort net nog die parfuum. Ek sê altyd: ” I just roll out of bed and show up – flawless like my dreams” So dit was inderdaad too late vir titteweit – so toe spring ek in my nuwe swart nommertjie met die bethlehem sterretjies op en ons verpas toe net net nie die vervoer na die kerk nie. Die tannie langs ons het met elke liedjie die noot ietwat te hoog geneem. Maar die goue randjie rondom dié singende donderwolkie is darem dat ek dié jaar self kon sing – sien, laasjaar was ek nog in denial dat my kykers nie meer gister se oë is nie. So long story short: ek en my bril kon toe sing.

Terug by die huis maak ons toe geskenkies oop. Ek geniet almal se reaksies altyd meer as my eie geskenke. Al is dit net deur woorde – is dit vir my belangrik om dankbaarheid te betoon aan my naastes.

Maar terug by die ete – of nee, skuus. Die ete is al verby. Ons is nou by die padkos-slag

So, voor almal in die pad val kry elk ‘n roomys bak – twee – een vir die oorskiet kersete en een vol tuisgemaakte kerskoekies – hertzoggies en shortbread.

As dit donker word kom die kersliggies weer aan – Stillenag speel op die radio. Die kersboom staan weer sonder sy geskenke-broek. My ouma in die kamer lees haar kerskaartjies, my sussie haar digbundel en my broer lê op sy rug en slaap.

Soos ek wonder watter foto’tjie om te post om die dag te herdenk – sien ek Inge (de Wet) se post op instagram. Kleintyd foto van haar en haar sussie iewers in ‘n ongerepte omgewing agter vaderkersfees (ek vermoed haar pa) aanloop met die inskripsie: “Mag Kersfees vandag voel soos krismis toe ons klein was” – en ja, Inge: Vandag het kersfees weer soos krismis gevoel.

My grootste geskenke vanjaar hoef ek nooit oop te maak nie – en geen tag hoef my te herinner van wie hulle kom.

Dankbaar.

Shirley

ns.  Agtergrond oor die gedig Struisbaai: My Ouma Shirley en Oupa Jan het vir jare op Struisbaai gebly. Nog voor ek gebore is. So uiteraard het ek al my Desembervakansies in die einste see-dorpie deurgebring en lê baie van my herinneringe en kindervoetspore nog daar tussen die duine. Meeste van my kersfese het ek ook daar deurgebring. Na my Oupa se dood in November 2010, het my ouma verhuis na Gordansbaai waar sy tans woon. En al vier ons Kersfees nou nie meer langs Struisbaai se kus en tussen die bekende mure van Seegenot (hul eerste huis) en Seegenot die tweede, voel kersfees steeds dieselfde as dieselfde mense om die tafel sit. Al wat kort is Oupa en die Lazy Susan (O, en die reuse gesin wat van deurklokkie tot deurklokkie loop en ‘n hele kersfeesvertoning gee uit volle bors – ons het meeste jare weggekruip agter die trap)