Om te leer ontsyfer is om te lewe

Die Here het geskommel en die dice het geval – so leer Adam ons (Adam Small nou en nie Eva se Adam – hy het vir ons ander dinge geleer – oftewel, Adam sê dis Eva en Eva sê dis die slang).

Die Here het geskommel en die dice het geval en jou armpies het gegryp na die mobile bo jou cot – die skoenlappers, voëltjies of karretjies of wat ookal destyds op uitverkoping was – jou arme ma sou iewers moes spaar aangesien daar min dinge soos stoelgange is wat die land se ekonomie aan die gang kan hou.

Die lewe is geen wensmasjien – geen vending machine waar jy jou noot indruk en kan kies tussen smarties of speckled eggs nie ( as jy my vra, neig dit meer na daai verdomde masjiene – een by die ingang van elke OK – met die kussingkies en cheap horlosies in en die honderdrandnoot ingesteek by die een en ‘n R20 by die ander: want daai masjiene – hulle het al jou Sondag kollekte (R2) opgebruik en jy is nóg met ‘n horlosie nóg met ‘n soft toy huistoe. En boonop het die ouderling jou onder sy bril beloer as jy slegs een muntstuk in die kollekte sakkie die daaropvolgende Sondag ingegooi het – Barmhartige Samaritaan, ek dan seker die tollenaar).

Ek het eenkeer my vingers so verbrand en nooit weer deurgeloop nie – want daai R100 – ek sou vir hom moes werk. En so het ek begin ontsyfer – ek het begin ontsyfer dat die hele lewe ‘n ontsyfering is – elk versteek in elke aksie, in elke laatnagstudie-sessie, elke drukkie, elke gemoedsbekakking, elke glimlag, elke traan, elke vloekwoord, elke mooiwoord, elke hou, elke soen – hoe baie jy ontsyfer – hoe baie jy verstaan – dit besluit jy.

Maar die balans – die balans is die sprokie wat die stadskind (dalk) sal vind. Ek volg hom elke nag oor swart riviere – strate van beton. Ek hou aan stap tien duisend ure – en hoop ek sal daar kom. Ek probeer my nimmer laat bind – maar dit sukkel – want ek as mens raak geheg – maar dis hoe die ou sprokie lei – en die skatkis is met ou kettings gebind aan die neonboog se punt. Ek volg hom elke nag oor swart riviere – kyk nie eenmaal om – dalk vind ek die land van Blou Saffiere – en dalk ‘n brokkie

son.

Soms moet ons wandel in die nie-verstaan en aanvaar dat seker dinge net is – nie sin maak nie – maar net is. Maar selfs dit – om te besef dat alles nie ontsyfer kan word nie – verg ontsyfering. Paradoks – ek weet.

Die lewe is soos om die skatkis te kry – dit oop te maak – net om te sien dit is leeg – want die ontsyfering en die reis en die lewe – dit was die eintlike skat wat jy (en ek) wat so besig is met alles wat ons moet doen – mis.

 

Shirley

 

 

 

 

 

 

Jarig-jobje

Granaatpraat

 

Ek wil weer en weer lag

totdat ‘n hele boom granate op die vloer lê

my hande rooi is

my tong ook

en my mondhoeke taai

van jou en my oopgebreekte granate

kom ons lag weer

kom ons praat in granaat

 

– Shirley

Lag is so mooi. ‘n Ongeskonde gevoel. ‘n Sporadiese strook van blydskap wat by die deure van jou bestaan uitbars soos kinders wat die speelgrond betree tydens pouse. Maar somtyds bly jou lag soos ‘n skaam kind in die klaskamer agter en kyk deur die ruit hoe almal speel. En ‘n skaam glimlag is al wat ontlont word soos die kind teen die deur leun maar hom nooit ver genoeg druk en oopmaak nie.

 

Ek is nie die tipiese sosiale vlinder nie – ek flok nie graag saam in ‘n swerm mense nie. Alhoewel ter viering van my twintigste verjaarsdag het ek my oë toegeknyp en meer mense genooi as wat daar maatjies was by my vyfde McDonalds verjaarsdagpartytjie – my eerste en laaste partytjie. Sien – my ma het altyd gesê ek moet kies tussen ‘n mooi geskenk en ‘n partytjie ( ek neem haar nie kwalik nie – partytjies het ‘n geneigtheid om nie net die ballonne nie, maar die sak ook met wind te vul). Nou ja – die klein materialis wat ons almal maar is (sommige meer as ander), het elke Januarie die oorhand van my gekry en moes my maatjies maar tevrede wees met een woolies cupcake elk (na ek natuurlik my pienk enetjie gegaps het).

Maar nou die dag toe ek in die tuin van Babylonstoren sit en beethummus oor ‘n slaai as spys proe en beetsap as drank geniet – almal om my gesels – almal om my lag – en die koue briesie die stilstaande hitte verlig – het ek besef dat ek as peuter, kleuter en skoolgaande dogtertjie gesoek het na die bel – sonder ‘n klok. Ek was vasoortuig dat die vreugde van die verjaarsdagkersies doodblaas  terwyl almal sing en skree dat jy ‘n wens moet maak van korte duur is en dat die geskenk (watokal ek uitgekies het) van langer genot sal wees. Maar daai somersmiddag het ek besef ek was verkeerd.  Die eintlike geskenk is mense en die glimlagte en die lag. Die herinneringe wat jy sal onthou bo enige Anatomie. Bo enige histologie – want sien – jou brein wil eintlik net heeldag lag en speel. Baljaar sonder om te bedaar – ietwat problematies as die akademiese jaar in volle swang is – veral die mediese akademiese jaar. (Lees hier in: die “See no evil emoji”)

Want net soos ‘n slang vervel – verjaar ons en los die vorige lewensjaar in ‘n hopie iewers en syl aan met ons nuwe vel – gaan aan met ons lewe – ‘n paar minute ouer as die vorige dag, maar ‘n jaar ouer as dieselfde dag ‘n jaar te vore.

En dis geen geheim – die lewe is partykeer nie ‘n wandeling in die park nie en nog minder ‘n snytjie koek – die lewe is partykeer net trane en tantrums so ja jy blêddiewil verdien om op jou verjaarsdag geluk gewens te word deur ander mense wat ook weet hoe moeilik dit is om ‘n jaar op hierdie aardbol te oorleef. (Verskoon die hiperbool – al die geswottery maak die intensiteit waarmee ek emosies beleef en voel soos die reuksintuig van ‘n bloedhond/ worshond – moerse skerp). Geen grand geskenk gaan vir jou sing of jou omhels nie. (Behalwe natuurlik as dit blomme is – maar tegnies gesproke is dit ook maatjies – want dit lewe. Digbundels mag dalk ook ‘n uitsondering wees, hulle praat met jou- maar ek is seker julle verstaan beter as ek self wat ek bedoel).

Vanaand lê ek en kyk na ‘n kinderfoto’tjie van my – en ek sê vir haar dat sy vir haar kinders eendag moet sê dat alles wat toegedraai kan word vergaan – maar dit wat nie kan nie – ja, dit mag dalk verby gaan – maar dit vergaan nie. En eendag sal ek seker maak daai dogtertjie in die foto het geluister na wat haar ouerself vandag vir haar gesê het.

Glimlag – breek mekaar se granate oop en vlek mekaar se siele met die rooi van die geluk.

Shirley

 

 

 

Telefoontjie telefoontjie

Ons sê dikwels nie hoe ons voel nie, want ons wil so graag voel iemand kan ons siele lees. Asof laasgenoemde die egtheid van iemand se omgee vir jou akkrediteer.

Ek weet nie van jou, maar ek het al telke male “niks” kliphard geuiter as iemand vir my vra wat fout is. ‘n Arrogante niks, ‘n vasberade niks. ‘n Niks wat niks beteken – ‘n niks wat alles behalwe die waarheid is. En so as mense gaan ons die lewe deur – antwoord niks as ons alles bedoel, en praat te veel as ons niks het om te sê nie.

Mense kommunikeer slegter as diere al het ons woorde in ons potloodsakkies.  Naas taal verskille nou – spruit wankommunikasie bloot uit die gebruik van te min woorde. Ons wil graag glo dat die mense die naaste aan ons ten alle tye weet hoe ons voel; weet waaraan ons dink – en ja, baie keer kom diegene baie naby- maar die enigste persoon wat ten volle weet wat in die leefarea van jou denke aangaan – is jy. En as jy nie vir die ander persoon gaan vertel wie hierdie gaste is nie – kan jy nie verwag dat hy aangename kennis gaan sê nie. Dink so daaraan – die persoon lees tog jou siel as hul kan sien iets skort – anders sou hul nie gevra het nie (die teenpool natuurlik is dat dit miskien die einste persoon is wie jou meubels so effe daarbo herrangskik het – en as dit die geval is, sal hul juis vra want hul weet heel moontlik hulle was soos ‘n bull ‘n china shop daarbo. En kom ons wees eerlik – ons almal is maar van tyd tot tyd so broos soos porselein en die trane se breekwater nie te waffers nie)

En dan die liefde – as ‘n persoon wat nog nooit in ‘n verhouding was (ja, moenie verstik aan jou rooibos nie) kan ek seker niks kwytraak oor die liefde nie. En ja, miskien weet ek nie hoe om iemand se hand vas te hou of wat om te sê as hy vir my gaan sê ek lyk mooi vanaand nie – maar ek voel wel nie soos ‘n vreemdeling in Jerusalem as ek aan die liefde dink nie – my vriende, hulle leer my wat die liefde is – en hoe dit voel.

Die liefde is baie meer as die bloos- die liefde is die vrywillige besluit om iemand se klein handelinge te ontleed – die liefde is as jy agterkom die persoon trap harder rem vandag, of ry langer in eerste rat voor hul oorslaan na die tweede, dis om agter te kom die persoon vat meer as gewoonlik aan hul hare of dat al hul naels tot op die lewe afgebyt is. Die liefde is om te sien dat hul oë ‘n ander kleur geverf is as die gewone kleur. Die liefde is al die hiperkak tye en al die wonderlike tye saam – die liefde is maar eintlik niks minder as die skilder van die ander persoon nie. Elke dag haal vir haal ‘n portret te skilder – elke donker skaduwee inteken, elke ligte lyn aandui totdat jy eendag ‘n skildery het wat soos die persoon lyk – maar nooit die persoon sal wees nie. Dis belangrik, die liefde kan mens dryf om naby te kom, maar kuns bly kuns en kuns bly abstrak en die persoon oorkant jou lewendig en alles behalwe ‘n versinnebeeld van jou verbeelding. Die liefde is dan dat daardie persoon na die skildery kan kyk en iets nuuts van hulself kan ontdek – kan sien hoe mooi hul lippe gevorm is of die fyn strepies in hul oë ontdek, maar terselfdertyd ook kan sien dat hul ‘n merkie op hul regter wang het of dat hul gesig eintlik ietwat afwyk van simmetrie.

En so help ons skryf aanmekaar.

Ek het gespring van kommunikasie na die liefde – so dus in kort – die liefde is gelyk aan kommunikeer – en mag ons nooit nie woorde hê nie. Want daar is altyd woorde solank as wat daar gevoel is. Jou woorde mag dalk min wees – maar daar is altyd woorde.

 

Shirley

 

ns. Vergelyk jou selfportret met iemand se portret van jou – jy skilder miskien abstrak en die ander persoon realisties.