Meer as net Netter

Tweedejaar laat mens tweekeer kyk. Tweekeer dink. Tweedejaar mens laat besef – hierdie is nie ‘n 100m resies nie – hierdie is ‘n maraton. En as ek voluit heelpad gaan hardloop, gaan ek nie die hele pad haal nie.

Ek dink nie ek besef aldag self die magdom inligting waarmee ek en al my mede-studente dag in en dag uit mee gebombardeer word nie. Dit word so tweede natuur om hoofstukke in die bestek van ‘n uur deur te werk. Dit is ‘n gejaag deur die een blok na die volgende. Van anatomie, histologie tot fisiologie en kliniese werk. Van tevergeefs ‘n x-straal probeer ontleed na ECG’s lees.

En op ‘n dag dan lyk selfs die berge en die wolke anders. Die blou lig het die een dag ‘n klassieke diagnose van Millary TB en die volgende dag wik en weeg jy tussen pneumonia met consolidation in die lower lobes of ‘n pleural effusion. Ander dae is die Kaap se longe nie die probleem nie, maar dan begin Tafelberg lyk na horizontal ST-elevation met Leeukop as die peaked T-wave en jou brein wandel langs die diagnose van hyperacute myocardial infarction met ‘n moontlike LAD occlusion. Dan begin jy wonder of Kaapstad ‘n middeljarige vrou is wat rook, oorgewig is en sukkel met hoë bloeddruk. Of miskien ‘n besige sakeman, wat te veel braaivleis eet of te veel stres of beide. Jy sien sy paaie as are en die verkeer word die atherosclerotic plaque aanpaksel wat hier om vieruur rupture en lei tot unstable angina en ‘n gehoet en ‘n getoet.

Partydae sit jy in die klas – in een van die 5 minute tussenposes wat die 50 minute lange lesings van mekaar skei, en jy probeer dink aan enigiets, alles, behalwe streptokinase en aspirin. Jy probeer dink aan wat die laaste reël van die mooi gedig is wat jy gisteraand gelees het, jy probeer dink aan watter resep jy dié paaasfees aanmekaar gaan slaan. Jy probeer dink aan wanneer laas jy jou onderklere gewas het en hoe lank jy nog sal kan uithou met jou vuil hare. Jy dink aan ‘n teaterstuk wat jy nog wil gaan sien en of dit nog by die Fugard draai. Jy onthou jy moet jou ma bel en jou ouma ook – en soos jy dink, hoor jy net mense praat oor toetspunte, hoeveel hulle gister geleer het, hoe vroeg hulle vanoggend opgestaan het om te leer en hoeveel hulle vandag nog moet leer. Watter bladsy hulle presies oor 5 dae, ‘n Dinsdagaand om 8 uur gaan leer en hoe hulle dit nie gaan maak as hulle nie teen môre ten minste deur die helfte kliniese werk al is nie. En dan sit jy daar, 3 minute in jou 5 minute breek met 2 minute oor en jy vergeet skoon dat jy aan iets gedink het.

Dit raak partykeer net te veel om in ‘n klas van 200 + studente te sit (ek jok, seker helfte daag op vir klas), klaar gestres, klaar moeg, om heeldag te hoor wat ander doen en wanneer hulle dit doen. Want ja, ek wil my graad hê, ek wil met Cum Laude slaag, ek wil ‘n spesialis word – maar ek wil ook Shirley wees, of altans Shirley bly. Ek wil ook partydae slaap sonder om sleg te voel daaroor of partydae spontaan stad toe gaan om sushi te eet al moet ek eintlik besig wees om onderskeid te probeer tref tussen ‘n pericarditis en ‘n myocardial infarction op die ECG.

Om waarheid te sê, verwag mens dit. As mens ‘n klomp net-uitblinkers in een lesingsaal saamgooi raak selfs daardie enorme lesingsaal partykeer te klein vir almal se sterk persoonlikhede en intellektuele kapasiteite. Maar tog wens ek so, almal wil weg beweeg van die hoërskool mentaliteit van kompetisie. Ons almal het dit gemaak. Ons almal is hier. En hard werk is nodig, maar kompeteer is beslis nie – met jouself ja, maar eendag gaan ek in elkgeval nie vrou alleen ‘n hospitaal kan beman nie. Om die waarheid te praat, ek moet dan twee hande gebruik (alhoewel die norm een is) bloot om die suurstofmasker op die persoon se gesig te hou (my hande is baie klein).

En dan iets waaraan ek ‘n kleintjie dood het – is diegene wat mense se studente nommers opsoek om te kyk wie watter punt behaal het. Daar trek ek die streep – as jou kompeterende geaardheid jou begin plaas in ‘n grysarea waar ek jou morele etiek begin betwyfel – dan is ek baie jammer maar dan is jy besig om die hele punt van swot, universiteit en vernaam medies geheel en al te mis.

Maar in elkgeval – noudat ek die aap uit die mou gelaat het oor wat bedra tot die gemoedsbekakking so elke tweede of as jy gelukkig is, derdie dag –  gaan ek skuinsvoor Paasvrydag my skoene uitskop, gedigte lees en sjokolade eet – en verbasend genoeg, nog nie my paashaas nie.

Medies is die grootste voorreg, maar as jy jouself gaan verloor – word dit ‘n onreg.

Want my grootste hoop is dat ons almal dit eendag maak. Vonkelwyn en graduasie-hoedjies in die lug gooi is tog net lekker as daar ander is om dit saam met jou te doen – ander wat verstaan hoe ver, lank, uitmergelend, maar tog belonend hierdie pad was. (Maar as tweedejaar student moet ek seker vir tyd en wyl die woord was vervang met gaan wees)

 

Shirley

 

 

 

 

‘n gewone blou Maandag

Waarom blou die swart skaap in die familie moes wees – dié weet ek nou nie, maar nietemin – wat ek wel weet, wat ons almal weet, is dat blou en Maandag so goed saam gaan – amper soos kaas en wyn. Maar in ‘n negatiewe sin van die woord – dan seker meer iets soos ‘n muskiet en frustrasie. 

Alle metafore op ‘n stokkie – ‘n Blou Maandag. Maandae word ek wakker voor die maan haar klere kan vat en kan loop na ‘n nag van passie, en die son verleë kaalgat in die deur staan – terwyl ek deur die skuifdeur aanskou hoe dié tweetjies koebaai soen.  (In kort – vroeg).

Vandag was ietwat anders.  Niks soos ‘n anatomie en histologie toetsie om die hawermout meer vas te brand as gewoonlik nie. (Ek maak nou die pap dik aan)

Terwyl ek die slagare en are hersien, die meubels in die hart se kamers benoem en probeer sin maak van die ingewikkelde draadwerk (wat lyk soos ‘n persiese mat in wording) in die nek, sing ek Ain’t no sunshine when she’s gone – moet wees met die vertrek van die maan (lees dus in: my slaap). En mind you – dit mag dalk wees waarom die son so lui is vir skyn so vroeg, want dié meneer treur nog oor sy maan.

Dis net na 11. Ek sit aan in Gerga om die eksamen af te lê. Ek aanvaar die voorwaardes en wag vir die wagwoord: net om uit te vind dit is – en nee ek is nie nou besig om die pap nog dikker aan te maak nie – blue. Die enigste genade wat die wagwoord ons wel gun – is dat dit darem nie met ‘n hoofletter begin nie. Want vir ‘n blou Maandag wil mens nou nie selfstandige naamwoord outonimiteit gee nie.

Party mense praat nie uit die slaapkamer nie, ek praat nie uit die eksamenlokaal nie.

Daarna moes ek en my van wat altyd heel laaste op die klaslys is – wag vir die spot test. In leke terme – is dit ‘n toets waar specimens geflag word en jy dan presies 45 sekondes by elke stasie het om die aangeduide struktuur te identifiseer.

Heeltemal bevrore en met ‘n kadawer klankie is ek toe verlos uit die kloue van die blue maandag.

In ‘n kleur spektrum was my Maandag seker ‘n vlakwatersee-blou.

Ek kom toe by die huis en begin lees aan my nuwe digbundel wat ek na bykans drie maande opgespoor het – ek vermoed my bestelling by Exclusives het die tweede druk van die bundel in werking gesit – so Ronelda, jy weet wie om te kontak indien jy bedankings noodsaak.

Ek slaan die bundel toe oop by haar ervaring van ‘n blou Maandag:

‘n gewone blou Maandagoggend

 

dit was ‘n gewone blou Maandagoggend

êrens het ‘n ma haar kind se lyk gaan uitken

ek het my gewas, tande geborsel en my bio-taak afgehandel

op die yskas was ‘n briefie van my ma

wat vra dat ek tog nie die breyani so sterk moet maak vanaand nie

my sussie het haar sokkies gesoek en by halfag het ek die voordeur

gesluit

en die sleutel op die ou plek gaan wegsteek

by die huiswinkel het ek twee los sigarette gekoop

en in my sokkie weggesteek

op die hoek van Wildflower- en Rosestraat

het ‘n meisie saam met haar toekomstige moordenaars gejoke

in my kop het Dylan Thomas geskreeu

do not go gentle into that good night, rage, rage against the dying of the light 

in die voorligtingsklas het my hoogswanger beste vriendin begin bloei

buite in die straat was daar ‘n paar gunshots

 

by eerste pouse was daar ‘n lyk in Skoolstraat

‘n miskraam in my klas

‘n uitstel op die bio-taak

en ‘n vrou wat gillend in die straat afhardloop

en vir die Here vra

“waar was Josef toe Jesus gekruisig is?”

 

– Ronelda Kamfer, Noudat Slapende honde

Ek is nie een wat glo dat mens jou ervarings moet vergelyk met ander om die een of die ander ongeldig te verklaar nie, maar ek kan nie help om te wonder watter kleur daardie Maandag vir haar moes wees.

Miskien ‘n diepsee-donker blou. Swartblou?

‘n Kleur wat ek self nog nie gesien het nie – so ‘n blou.

 

Shirley