Afriklaners is onplesierig

Afriklaners is onplesierig

dit kan julle glo

hulle hou van al die waiter se aandag

anders maak hulle so, anders maak hulle so

– Waiter  sien jy my

jy kan sommer vir my die manager kry –

– Shirley

 

En so sit ek en Willem so paar weke of wat terug in ‘n klein Italiaanse restaurantjie in Kaapstad en smul aan ‘n deegwieletjie en proe aan ‘n glasie cabsav.

Na ons arancini bestel het (‘n risotto rysballetjie) as ‘n lusmakertjie – kom sit daar toe twee deftig gekleede dames langs ons. Nou kyk – dié restuarantjie se sit is so dat jou buurman deel van jou gesprek word. Ek is seker g’n klant sal skroom om langs my en Willem te sit nie, want sien ons gesprekke is nogal entertaining om die minste te sê – maar ongelukkig het ons dié middag die botter met ons agterstewe misgeval en word toe deel van die twee dames se gesprek. Nie deel in die sin dat mens saam praat nie – deel in die sin dat mens alles hoor. (Partykeer luister mens al te lekker af – maar by die geleentheid kon ek nie hard genoeg kou om nie elke voorstedelik middelklas detail van hul lewens te hoor nie. ) En o, die goed waaroor hulle kla – die een gaan kwansyns nooit terug na die haarsalon waarna sy al jare gaan aangesien haar hare nie na wense vertoon nie. Ek wou op daai stadium omdraai om te sien of ek saamstem – maar genadiglik toe kom ons kelner aan met die pizzas en dit het al my aandag geverg. Maar net toe my verhouding met die fior di latte (mozzarella) kon begin, toe word ons verwittig oor hoe die ander een teleurgestel is in die reisagentskap se hulp met hul vorige oorsee trippy. Hier sit ek – myself en verbeel ek is in Italië en sy kla letterlik met die baguette onder die arm oor die kamerruit wat miskien na die verkeerde kompas kant gekyk het – te veel of te min oggendson – ek kon nie mooi agterkom.

En so ontmoet ek toe hul seuns (woordlangs altans); elk se rigting van studie; elk se instansie; elk se verhoudingsstatus; skoon verbaas ek kan vandag hier sit en weet nie wat hul skoengrootte is nie. Daarna is die petrolprys op die keper beskou en met die afskop van die gesprek dat avo’s nou goedkoop en nie kliphard is nie – kom die kelnerin nader gestap om hul kos bestelling te neem. En dis toe die eintlike fiasco begin. Hulle wou een sop in twee borde hê, die een se helfte van die porsie moet warm wees en die ander een nie te warm nie. Daarna het hulle vir ‘n halfuur elke bestanddeel in ‘n pasta-dis bespreek en bykans spaghetti oorgehad na sy alles gewithout het. Hulle het nog ander goed bestel – ook arancini, was verbaas toe hulle niks daaraan wou verander nie – en ek het skoon ‘n sug van verligting en ‘n groot sluk wyn geneem toe die kelner deurmekaar na die rekenaarskerm stap om die bestelling te plaas.

As die bestel van die kos eers so gegaan het, nou kan jy bloot jou verbeelding gebruik en indink hoe die eet daarvan was. Die een se sop was te koud – die tiemie in die pasta was te veel en die ander een wou meer knoffel op die pizza hê. Ek dink die kelnerin en later die bestuurder was so paar keer daar. Ek wou op ‘n kol omdraai en sê – verskoon my, maar eerstens praat julle so hard dat my pizza-kors in my keel vassit en tweedens die kelnerin maak nie die kos nie, sy bring dit bloot uit (Dit is iets wat min mense besef). Maar ek het maar op my tong gebyt en die figuurlike byt was amper moeiliker as ‘n letterlik byt.

Laat ek nou nie soos hulle word nie -so al my klagtes (oor hulle en niks anders) op ‘n stokkie – my ete was heerlik, my geselsskap ook. Alhoewel  – elke keer as ek vir Willem gevra het of hy ook die twee vrouens hoor dan sê hy nee en skryf dit toe aan die kosyn tussen hom en hulle.

Moenie ‘n afriKlaner wees nie. Dis onplesierig.

 

Ns. Kosyne – friend or foe?  – meestal foe as jy jou draai kortvat en hy jou pimpel en pers bederf – maar in die geval – friend. Beslis friend – vir Willem altans.

 

Shirley

 

Foto: ‘n Moedelose ek vasgevang op film deur Willem in Giulio’s (Beste pizza in Kaapstad – en ek kan jou verseker – jy sal niks hê om oor te kla nie – die twee tannies uitgesluit)

 

 

 

Vierseisoene kind

Sy roep my in die rigting van haar hart
Waar die wintervure brand
En die nagte vir die somer lê en wag
Sy giet haar trane in die see
Sy stuur haar woorde met die wind
Na die strande van lankvergete smart
Vier seisoene kind met die winter in jou oë
Waar het ek jou verloor
Vier seisoene kind met die liefde in jou palm
– kyk jou oseaan is kalm
Vier seisoene kind vier seisoene kind
Stuur my nog ’n poskaart met die wind

Sy maak vir my ’n painting van die herfs
As die akkerbome rus
En die wolke soos vlamme oor ons waai
Sy gee vir my ‘n soet Septembergeur
As die Boland lê en bloei
Met die somer wat klop hier aan my deur

– Laurika Rauch 

Dis nie net die Kaap waar daar binne die bestek van een dag vier seisoene – reën, sonskyn, wind en donderslae – onder die sambreel van ‘n enkele seisoen skuil nie – ek gee die Kaap ‘n run for haar money – ek, die vier seisoene kind.

Na ‘n halwe jaar van swot sonder tussenpose of punt – so paar kommas langs die pad, maar dit is maar dit, is ‘n twee weke lange vakansie soos ‘n paragraafbreek na ‘n moerse dialoog – helfte van die gehoorlede het die draad van die verhaal na die eerste bladsy wat 4 paragrawe moes wees, verloor en soek nogsteeds daarna soos `n wit garing op ‘n wit tapyt; en jy staan daar en probeer asemskep op die regte oomblik in die sin sodat jy die einde daarvan (die eksamen) nie insluk nie. En dan – twee weke. ‘n Skielike einde aan hoofstuk een en so ietwat van ‘n wit stukkie voor die volgende monoloog, hoofstuk twee, afskop (net so lank soos die vorige een, maar met aansienlik langer woorde en tongknopers langs die pad – die sogenaamde silly season onder studente. )

In hierdie twee weke, waarvan môre die laaste daarvan sal wees, lê mens, lê nogmaals en soos jy daar lê staan al die gedagtes, idees, vrese en drome wat in tussen in die wagkamer gesit het – op en stap jou spreekkamer binne. Almal praat gelyk en vra gelyk – amper soos tien ma’s wie almal se kinders in die hospitaal lê weens verskeie kwale, maar almal verlang nóú jou aandag om net doodseker te maak hulle bloeiseltjies sterk voor die wind aan – nou ja, skilder daardie prentjie – of eerder chaos – en dan sal jy miskien jouself kan inleef soos ‘n volwaardige vlieg teen die muur van my gemoed.

Dis lieflik om alles terselfdertyd te ervaar – mens wil alles gelyk doen – jy wil gaan stap met die hond, jy wil op ‘n padvontuur gaan terwyl jy ‘n brood bak en proe aan die kerrie om te kyk of jy nog ‘n vars rissie moet byvoeg. Jy wil ook oorsee toer soos almal in jou klas, jy wil skryf, gedigte gaan voordra by ‘n open mic-aand en glühwijn drink terwyl jy Wes Anderson by die Labia kyk. Jy wil roomys eet terwyl dit hael en dan moet jy ook nog by Topshop uitkom – want hulle verlaat die land en jy besef dis nou of nooit of jy sit sonder ‘n passende denim vir die volgende 3 jaar of totdat Suid-Afrika se rand weer sterker word. Want sien – dis al broeke wat pas. Jy beleef innerlike konflik of jy moet voort speed in regterkantse baan op die hoofpad van jou koffieverslawing en of jy moet afgear en na die middelbaan beweeg – ek ry nog one-forty al die pad, wat kan ek sê – die gees is gewillig maar die vlees is swak. Dan wil jy begin skoonmaak, foto’s herrangskik en google waarom al jou plante doodgaan en dan besef dat dit al die gegooglede raad in die eerste plek is wat agter die kap van die (doods)byl staan. Dan hoor jy ‘n mooi liedjie en huil daaroor – dan wil jy weer skryf – maar die woorde kom nie, dan wil jy slaap maar die slaap kom nie – dan word jy moeg – en dan is die twee weke ook op sy rug – en alles wat jy nog wou doen is bloot mostert na die maal, rys wat kook sonder sout in die water – en dan begin die fases van rou werskaf in jou voorportaal en mense lui jou voordeur klokkie maar jy is tans in denial en weier om die deur oop te maak. Een van daardie mense is die Urogenital system. (Sien – selfs hier bo is ek besig om nes my leermeester, die reëls van paragrawe te verontagsaam)

Maar êrens tussen al die hael, sneeu, sonskyn, stormsterk winde en dou – kom daar iemand my spreekkamer binne gestap, sonder afspraak – net sommer en herinner my om op te kyk – en dan sien ek dit: my oseaan is kalm.

 

Shirley