Klaasvakie

Snaaks hoe alle woorde wat iets in verband hou met slaap, lang klanke bevat – slaap, vaak, aan-die-slaap-raak, gaap, saans, maan, droom, kussingsloop en dan Klaas self ook – die vaakmaak soldaat wie se residu ons almal in die oggende uit die hoeke van ons oë uitvee – ook heel kreatief genoem: slaap. Teen die tyd wat mens al dié lang klanke gevorm het, word mens skoon lomerig.

In my geval overstay Klaas partykeer sy welcome  en maak van my ‘n klas-vakie  – ‘n persoon wat vaak word in die klas. Alhoewel net Klaas sal weet hoe hy dit regkry om oor soveel drumpels in een dag te loop – hy gee selfs vir Vaderkersfees ‘n run for sy money – blêddie hoogtyd dat mense deur die lugkasteel van boetie het nog ‘n trokkie nodig – die jaar in blou, begin sien.

Maar waarom dan is Klaasvakie deesdae op dagskof en nie nagskof nie? Wie is aangestel in sy plek – en hoeveel betaal ons hom?

In die nuutste National Geographic tydskryf skyn Michael Finkel ‘n interessante en insiggewend blik op slaap. (So dus – uit die staanspoor was ek my hande in ontskuld – enige onakkuraathede kan dus met die einste primêre bron opgeneem word. Ek is altans per slot van rekening nie joernalis nie – bloot verslaggewer van my realiteit en verstaan).

As mens slaap gaan jou liggaam op ‘n wonderlike reis. Jou bewussyn gaan klim soos busbestuurder een tussen die tasse in en gaan rus terwyl busbestuurder twee agter die stuur inklim. Jou liggaam word bykans verlam, jou oë dans agter geslote ooglede like no one is watching en die klein spiertjies in jou middeloor beweeg asof die doodse stilte musiek vir jou ore is. (Die paragraaf is ‘n sensoriese pakdonkie – net soos jou brein wanneer jy slaap).

Slaap is ‘n fenomeen van die menslike kondisie waaroor verskeie wetenskaplikes en filosowe oor die eeue heen bespiegel. Sommige het die lof daarvan besing terwyl ander afkeurig hul ooglede gesluit het teen die agterdoek van “onproduktiwiteit”. Maar ongeag wie gemeen het die see is blou en wie meen dit is kruisementblaargroen – beide kon nie verby hul ooglede kom wat buig as die donker kom nie.

Slaap is as so belangrik geag, dat die 2017 Nobelprys in Mediese fisiologie aan Jeffrey C. Hall, Michael Rosbash en Michael W. Young toegeken is vir hul navorsing in die molekulêre meganisme van die sirkadiese ritme – ons biologiese klok. Kranige vliegtuigsitters sal al te goed weet hoe dit voel as mens neuk met dié horlosie se meganisme – vlugvoosheid is nie ‘n grap nie (wel so sê hulle). In die lange duur kan ‘n inmenging met die liggaam se sirkadiese ritme verband hou met ‘n verhoogte risiko om siektes soos diabetes mellitus (suikersiekte), dementia en kardiovaskulêre siektes te ontwikkel.

Die een-en-twingtigeeuse leefstyl het egter min respek vir die son se doen en late en kan ons nog ‘n byvoeglike naamwoord by ons huidige era plaas: Slaapontberende.

Ons lewe in ‘n slaapontberende era.

Orals om ons is alles belig; alles flits en beweeg – van rekenaar -, slimfoon – en televisieskerms tot lampe, karligte, advertensies, diefafwerende buiteligte. Kort voor lank is dit erger as ‘n strand op nuwejaars daar binne-in jou brein – vuurwerke van gejaagdheid wat jou probeer oorreed dat slaap ook on-the-go gegryp kan word soos ‘n croissant en koffie.

Selfs Thomas Edison, die man wat die kers uitgeblaas het my sy uitvindsel – die lig, het gemeen slaap is absurd, ‘n slegte gewoonte. Hy mag dalk die lig uit gevind het – maar hierdie was beslis nie een van sy lightbulb moments nie – dit is eerder ‘n uitspraak wat saam met sy ander 1000 floppe in die donkerhoekie kan gaan sit. (Alhoewel – innoverende bemarking wat hy daar beet het).

Is die kool die sous werd? Is slaap broodnodig – of eintlik slaapnodig vir ons oorlewing?

Kom ons beskou die verskillende fases van slaap op die keper:

Fase 1: Al kan ons as mens nie besluite neem nie (lees hier in – Ek as Shirley kan nie besluite neem nie), hou ons brein – glo dit of nie – eintlik daarvan om of in die sitkamer of slaapkamer te wees, hy staan nie in deurkosyne nie, hy gaan of ‘n vertrek binne of verlaat een – jy is dus of wakker of aan die slaap.

Tydens die eerste fase van slaap, die sogenaamde vlakwater fase, stel jou pynappelklier (pineal gland – ja ek weet – voor jy klippe gooi, gaan kyk, die woordeboek sê so) melatonien vry. Jou neurone skaf die donderstorm in jou  brein af en begin ritmies en egalig boodskappe afvuur en word jou bewussyn inwaarts gekeer – weg van die wêreld. Jou sensoriese reseptore word gedemp en jy slaap.

Na sowat 5 minute word ‘n reeks vonke vanuit die diepbrein afgevuur tot in die  serebrale korteks – die huis van taal en bewussyn. Spindels word sodoende gevorm en so verlaat die brein vertrek een in ruil vir vertrek twee.

Fase 2: Die brein is nie minder aktief gedurende die nag nie – die brein is net aktief in ‘n ander manier. As wakker en slaap sport en kuns-en-kultuur was, sou ek skat dat gedurende die dag is die brein besig met sport – en gedurende die nag met kuns-en-kultuur – die fyner naianse van die lewe.

Spindelvorming is uiters belangrik om kennis wat gedurende die dag verwerf is, vas te sement in die geheue vir korttermyn sowel as langtermyn herwinning – soos ‘n biblioteek boek wat mens nou uitneem vir die prentjies en later gaan wil lees. Navorsing toon dat hoe meer iemand voor die aand se nagrus blootgestel is aan nuwe inligting en dinge, hoe meer spindels word daardie aand gevorm. Die aantal spindels wat gevorm word hou ook sterk verband met ‘n persoon se IK en die vermoë om te onthou.

Party kenners meen dat slaap sekere verbande tussen verskillende brokkies inligting en gebeure tref wat mens nooit in ‘n volle bewuste toestand sou kon tref nie – nou weet ek ook hoekom ons as mens gedurig oor dinge wil slaap – dis nie net ‘n oumens gesegde nie.

Die wakker brein versamel en die slapende brein sorteer. Maar hy sorteer met ‘n brein van sy eie.

Slaap vleg die herinnering van gebeure so diep in ons menswees in, dat baie kenners meen dat dit voordelig sou wees vir soldate om 8 ure wakker te bly na ‘n traumatiese ervaring om post-dramatiese stres sindroom later jare die hoof te bied.

Na dié spindelvorming (wat sowat 50 minute duur en sporadies daarna) is jou brein oor die hond se rug wat die slaapreis betref. Jou hartklop verstadig, jou bloeddruk neem dus af sowel as jou liggaamstemperatuur. Die laaste wortelgaringetjie van jou verbintenis met die realiteit breek en jou slaap verloor sy melktande en verruil dit vir meer permanente, grootmenstande – die ware Jakob – fase 3 en 4 – diepslaap.

Fase 3 en 4, ‘n tydelike koma-toestand wat die liggaam betree, is net so belangrik vir die brein soos kos vir die liggaam (en die brein). Dit is die sogenaamde huisvrou tydperk – vir skoonmaak en nie vir droom. Om wakker te wees is uitputtend – glo dit of nie, maar daardie rit huistoe in die verkeer, of die flankeer met die persoon in jou klas, of die langwag in die ry vir daardie koffie – is alles gedragspatrone wat deel is van ons stryd om oorlewing – bloot omdat ons nie diere moet afweer met stokke en skuil in grotte teen die reën, beteken nie al hierdie moderne dinge verg minder van jou breinkrag nie.

Dit is gedurende hierdie fases van slaap wat die liggaamselle groeihormone vrystel om dooie weefsel te vervang. Slaap is ook nodig om ‘n gesonde immuunstelsel en bloeddruk te verseker.

Maar dit is nou maar eenmaal so – mens kry slaap en dan kry mens slaap. Indien mens se liggaam nooit die dieper fases van slaap betree nie, word verskeie van hierdie funksies nie verrig nie. Dit kan dus ‘n mens se vermoë om jou gemoedstoestand te reguleer, inhibeer of bloot die herstel van ‘n verkoue ‘n onbegonne taak maak.

Verder veminder ‘n goeie nagrus ook die risiko om dementia te ontwikkel. Hierdie stelling is geskoei op navorsing wat op muise aan die Universiteit van Rochester in New York, gedoen is. Maiken Nedergaard het hiermee bewys dat die neurone gedurende die dag dig teen mekaar gepak is en die intersellulêre ruimtes gedurende slaap met sowat 60% toeneem in grootte. Hierdie vergrote ruimtes skep ruimte vir die spinale vloeistof om gevormende metaboliese afvalstowwe, onder andere beta-amiloiëde, te verwyder.  Indien hierdie stowwe sou op-hoop in die geval waar die liggaam nie hierdie besemstokaksie gegun word nie, kan Alzheimers aan die einde van die cul-de-sac staan met ‘n oop voordeur en kort voor lank sal selfs die straatnaam duister word.

Fases 1- 4 is bekend as die sogenaamde NREM fases. Daarna begin mens droom tydens die REM-fase: Rapid Eye Movement fase. Om te droom is om onoorwonne te glo jy sien wat nie bestaan nie, jy aanvaar dat tyd, plek en mense hulself in enige vorm kan giet, onthul soos die droom ontvou en verdwyn sonder waarskuwing. Om te droom is ‘n tipe psigose.

Die inhoud van droom is ‘n delikate meganisme. Daarin giet ons die soeke na die groter betekenis agter nuutverworwe oomblikke.

Selfs al is geen voetspore van ‘n droom te sien in die môreson nie, droom mens steeds. Inteendeel – ‘n teken van ‘n gesonde nagrus is juis nie afwesigheid van herroeping.

Drome is ook al gekelterhalter deur vals profete – drome is nie bloot oogwink-flitse nie, drome strek bykans oor die hele REM fase, bykans  2 ure. Nietemin, drome verouder saam met mens en neem af namate die verjaarsdagkaartjies meer word en die sjokoladekoek nie meer so exciting is soos op 7 nie. Dit kan toegeskryf word aan die feit dat die brein se soepelheid afneem en dus minder nuwe herinneringe gedurende die dag bymekaar gemaak kan word – of altans onthou kan word teen die tyd dat die bedlampie afgeskakel word.

Pasgebore babatjies slaap sowat 17 ure per dag waarvan die helfte in die aktiewe REM-toestand deurgebring word. Selfs in die moederskoot reeds – verkeer die fetus in ‘n konstante tipe REM-toestand waarbinne die brein oopgevou word.

Tydens aktiewe droom is beide die produksie van serotonien en norepinefrien geheel en al afgeskakel. Daarsonder kan breinselle nie behoorlik kommunikeer nie en word mens se vermoë om te leer en te onthou verlam. REM, anders as die komatose fase 4, verg net so veel energie van die brein soos die wakkertoestand.

En Freud was reg – drome is ‘n afgewaterde weergawe van ons primitiefste van emosies. Droom word gereguleer deur die limbiese sisteem – ‘n diepbrein sisteem wat die tuiste van ons oerinstinkte is: aggressie, vrees, liefde, vreugde en liefdemaaklus.

En al voel dit of nagmerries te veel oornag in ons stalle – is dit nie die reine waarheid nie. Dit mag dalk net voel asof ons meer nagmerries as gelukkwekende drome beleef, maar dis bloot omdat die merries oor die vermoë beskik om ons oorheerssisteem te aktiveer, ons sodoende te verwek en te verwittig.

Tydens REM word die spiere van die oog en die ore gestimuleer deur middel van die pons in die breinstem. Verder word die gedeeltes in die brein verantwoordelik vir die generering van beweging ook gestimuleer – daarom die alombekende vlieg of vallende droom. Ons droom altyd in kleur, behalwe in die geval waar mens blind gebore word – sulke persone se drome bestaan uit geen visuele beelde nie, maar neig daarna om meer emosie-gekonsentreerd te wees.

Ons breine is ons eie virtuele realiteit – ons is ten tyde die droom daarvan oortuig dat ons wakker is. Genadiglik is ons verlam vanweë ‘n sisteem in die breinstem wat die motoriese funksie van die liggaam inhibeer – altans, nie in alle gevalle nie.

Parasomnia is ‘n slaapsteurnis waartydens hierdie sisteem nie behoorlik funksioneer nie en kan diegene dus handgemeen raak en selfs gespreke aanknoop met bot-toe oë.

Die einde van REM word aangedui deur ‘n vlugtelike ontwaking. Gedurende die nag reis jou brein deur die verskillende fases verskeie kere en sou jou laaste droom jou nagrus afsluit – dis nou in ‘n ideale wêreld, sonder wekkers.

Jou liggaam kan ure tel en tydlees – mens kan dus ontwaak na genoegsame ure slaap ingkry is of as die son deur jou ooglede die retina aanraak. Die langarm van die sonhorlosie stuur dan ‘n sein na ‘n gedeelte in die diepbrein, die suprachiasmatiese nukleus wat ontwaking laat geskied.

Al die praat van slaap het my skoon aan die slaap – so dus:

Fluit-fluit, my storie is uit.

 

Ns. Interessante feite aangaande ons mede aardbewoners en hul kooiroutines.

Die internet-sensasie Sloths slaap sowat 10 ure per dag en word deur vrugte vlêrmuise uit oor lê wat sowat 15  ure per dag uiltjieknip (so ek neem dus aan na aanleiding van dié oeroue stelling dat uile nog langer slaap – maar net gedurende die dag en nie gedurende die nag nie. Mind you – miskien noem ons dit wel uiltjieknip aangesien uile in die dag slaap en uiltjieknippe mos streng gesproke verwys na middagslapies? Het ek iets hier beet of is dit net die kat se stert?

Met die huidige eeu boots ons beslis kameelperde na – die arme langbeen gediertes slaap minder as 5 ure per dag. Perde slaap ‘n gedeelte van die nag staande en die ander gedeelte lêende. Dolfyne slaap een hemisfeer van hul liggame op ‘n slag – so dus die helfte van die brein slaap terwyl die ander helfte wakker is. Sodoende kan hul aanhou swem – praat van multitasking. Sommige voëls weer het die kuns van slaap in vlug verfyn terwyl haaie maar nes ons ‘n oppervlak onder hul slapende liggame verkies, maar gebruik sommer mekaar as kussings – net daar op die oseaanvloer.

 

 

 

 

 

 

 

 

Afriklaners is onplesierig

Afriklaners is onplesierig

dit kan julle glo

hulle hou van al die waiter se aandag

anders maak hulle so, anders maak hulle so

– Waiter  sien jy my

jy kan sommer vir my die manager kry –

– Shirley

 

En so sit ek en Willem so paar weke of wat terug in ‘n klein Italiaanse restaurantjie in Kaapstad en smul aan ‘n deegwieletjie en proe aan ‘n glasie cabsav.

Na ons arancini bestel het (‘n risotto rysballetjie) as ‘n lusmakertjie – kom sit daar toe twee deftig gekleede dames langs ons. Nou kyk – dié restuarantjie se sit is so dat jou buurman deel van jou gesprek word. Ek is seker g’n klant sal skroom om langs my en Willem te sit nie, want sien ons gesprekke is nogal entertaining om die minste te sê – maar ongelukkig het ons dié middag die botter met ons agterstewe misgeval en word toe deel van die twee dames se gesprek. Nie deel in die sin dat mens saam praat nie – deel in die sin dat mens alles hoor. (Partykeer luister mens al te lekker af – maar by die geleentheid kon ek nie hard genoeg kou om nie elke voorstedelik middelklas detail van hul lewens te hoor nie. ) En o, die goed waaroor hulle kla – die een gaan kwansyns nooit terug na die haarsalon waarna sy al jare gaan aangesien haar hare nie na wense vertoon nie. Ek wou op daai stadium omdraai om te sien of ek saamstem – maar genadiglik toe kom ons kelner aan met die pizzas en dit het al my aandag geverg. Maar net toe my verhouding met die fior di latte (mozzarella) kon begin, toe word ons verwittig oor hoe die ander een teleurgestel is in die reisagentskap se hulp met hul vorige oorsee trippy. Hier sit ek – myself en verbeel ek is in Italië en sy kla letterlik met die baguette onder die arm oor die kamerruit wat miskien na die verkeerde kompas kant gekyk het – te veel of te min oggendson – ek kon nie mooi agterkom.

En so ontmoet ek toe hul seuns (woordlangs altans); elk se rigting van studie; elk se instansie; elk se verhoudingsstatus; skoon verbaas ek kan vandag hier sit en weet nie wat hul skoengrootte is nie. Daarna is die petrolprys op die keper beskou en met die afskop van die gesprek dat avo’s nou goedkoop en nie kliphard is nie – kom die kelnerin nader gestap om hul kos bestelling te neem. En dis toe die eintlike fiasco begin. Hulle wou een sop in twee borde hê, die een se helfte van die porsie moet warm wees en die ander een nie te warm nie. Daarna het hulle vir ‘n halfuur elke bestanddeel in ‘n pasta-dis bespreek en bykans spaghetti oorgehad na sy alles gewithout het. Hulle het nog ander goed bestel – ook arancini, was verbaas toe hulle niks daaraan wou verander nie – en ek het skoon ‘n sug van verligting en ‘n groot sluk wyn geneem toe die kelner deurmekaar na die rekenaarskerm stap om die bestelling te plaas.

As die bestel van die kos eers so gegaan het, nou kan jy bloot jou verbeelding gebruik en indink hoe die eet daarvan was. Die een se sop was te koud – die tiemie in die pasta was te veel en die ander een wou meer knoffel op die pizza hê. Ek dink die kelnerin en later die bestuurder was so paar keer daar. Ek wou op ‘n kol omdraai en sê – verskoon my, maar eerstens praat julle so hard dat my pizza-kors in my keel vassit en tweedens die kelnerin maak nie die kos nie, sy bring dit bloot uit (Dit is iets wat min mense besef). Maar ek het maar op my tong gebyt en die figuurlike byt was amper moeiliker as ‘n letterlik byt.

Laat ek nou nie soos hulle word nie -so al my klagtes (oor hulle en niks anders) op ‘n stokkie – my ete was heerlik, my geselsskap ook. Alhoewel  – elke keer as ek vir Willem gevra het of hy ook die twee vrouens hoor dan sê hy nee en skryf dit toe aan die kosyn tussen hom en hulle.

Moenie ‘n afriKlaner wees nie. Dis onplesierig.

 

Ns. Kosyne – friend or foe?  – meestal foe as jy jou draai kortvat en hy jou pimpel en pers bederf – maar in die geval – friend. Beslis friend – vir Willem altans.

 

Shirley

 

Foto: ‘n Moedelose ek vasgevang op film deur Willem in Giulio’s (Beste pizza in Kaapstad – en ek kan jou verseker – jy sal niks hê om oor te kla nie – die twee tannies uitgesluit)

 

 

 

Die prys van eiers

Mense lê soveel eiers – meer as ‘n supermark halwe dosyn; of selfs dosyn. Ek sweer mense lê meer eiers as wat die Rainbow chicken’s doen om die nasie cholesterol te voer. En dan op ‘n warm dag, wanneer die son water trek – word dié opinies gaar op jou bonnet. Jy gee mense dan die eindproduk van hul kommentaar – en selfs dan het hulle ‘n tweede eier te lê oor dit wat jy daarvan gemaak het – want hulle verkies omelet of roereier bo gebak. En dan staan jy daar met die gebakte “eiers” (pere) en hulle met ‘n mond vol tande – en dan sê ek vir hulle – ek eet nie eiers nie  (ek steur my nie aan jou opinie nie) –  hulle vra dan wat dit met die prys van eiers uit te waai het – en dan sê ek vir hulle – alles – want anders as die broodnodige, word daar nou 15% BTW daarop gehef.

As mens heeldag almal se menings moet opvreet, die sogenaamde eiers metafories gesproke, gaan jou LDL – in leke terme is dit die slegte cholesterol – deur die dak skiet en mag jy dalk net atherosclerosis ontwikkel – in leke terme is dit nou weer vetaanpaksels in jou slagare, en op ‘n dag kan jy ‘n plaque rupture kry, acute coronary syndrome – en worst case scenario ‘n ST-elevated myocardial infarction. (In leke terme is bogenoemde basies waar die vetaanpaksel bars, ‘n bloedklont ontwikkel en dit blokkeer dan jou slagare wat die hart moet voorsien van bloed en gevolglik kry jy ‘n hartaanval). Disclaimer – verskoon die mediese metafore en fancy benaming = ek het vandag die kardiologie teoreties blok afgehandel en moet darem iewers spog met die feite wat ek ken en hulle nie gevra het nie – classic geval met vraestelle of hoe? 

In elkgeval waar was ek – die eiers en die hartaanval. Basies wat bogenoemde met ‘n Kaapsedraai probeer verduidelik – is dat as mens dag in en dag uit jouself gaan steur aan die opinies van ander, maak nie saak in watter area van jou lewe nie, gaan dit later net opbou en opbou totdat jou gemoed op ‘n dag net heeltemal die gees gaan gee.

Verstaan my mooi – ek sê nie mens moet soos ‘n kleuter met jou vingers in jou ore en jou tong uitgesteek deur die lewe gaan as iemand jou teregwys nie – maar mens moet jouself leer om te kan onderskei tussen konstruktiewe kommentaar en kommentaar wat net sout in wonde smeer. (Nog ‘n kitsfeit – matigheid voor oë as dit by die stout kom – hoë bloeddruk is die sogenaamde dief-in-die-nag-moordenaar).

Sien, die ding met opinies is dat dit aan ander behoort, maar tenspyte daarvan gee hulle dit vir jou, gevraagd en ongevraagd – en dan word dit jou realiteit – ‘n skynrealiteit. En dan is die koeël (of die thrombus) deur die kerk (of die coronary artery- ouky, ek sal nou ophou).

Identifiseer jouself met dit wat aan jou behoort en distansieër jouself aan dit wat vreemd is. Want in hierdie geval is die finders die keepers en ongelukkig die weepers ook – so kyk mooi na wat jy optel, en of dit wat jy gaan optel iets gaan wees wat jy teen jou muur wil hang.

 

Shirley (‘n moeë Shirley wat voel soos ‘n holosystolic murmur)

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Tot die winterwederkoms

As ek die dadelsoet geur van bloeisels ruik, die kraak van klam boombas onder my voete hoor en die klank daarvan my gedagtes laat wandel na die laaste herinnering van die winter – die geknetter van ‘n kaggelvuur, as ek die oggendlug diep inasem soos ‘n verslaafde aan nikotien en net groen om my sien – dan weet ek: dit is lente. Die seisoen waar die son soos ‘n baba is wat nie kan slaap nie en die maan soos ‘n kind met groeipyne – groeipyne ter voorbereiding vir die langbeen someraande waarlangs mens kafee toe stap om chappies te gaan koop.

Bygesê – die lente is ook nie altyd die gunsteling kind hier in die Kaap nie. Sommige jare baklei Winter en Somer so wie gaan voorry vir die dag dat Lente dikwels nooit in die kar klim nie – en op ‘n dag moet die blommetjies eweskielik begin blom al trek die bloedige warm son alreeds water.

Maar hierdie jaar het Lente haar wekker gestel (as sy enigsins soos ek is – vermoed ek ‘n paar en nie net een nie) om dou voor dag flawless uit die bed te rol en die voorste sitplek te annekseer- maar hier teen dag drie moes sy deur ‘n wekker (of twee) geslaap het- want daardie dag het winter voorgery en was die suf- en somberheid self.

Die verskillende gesiggies wat vir mens kyk – die clavias in die ou man op die hoek se tuin, die petunias op die vensterbank van die middeljarige paartjie twee strate van ons, die papawers langs die vibercreet van die oom/tannie/of beide vra my elke dag so in die verbystap – mooi – dat die hond op ‘n ander grasperk briewe in geel-ink moet gaan skryf. (En my worshond is berug vir sy mooi handskrif)

Ek verloor baie dinge maar ek steel niks – maar blomme is soos daardie uitsondering klousule in die grondwet of die fynskrif in een of ander dodgy deal of kompetisie – want so nou en dan pluk ek so een of twee (eintlik so drie of vier) vir my persoonlike versameling – in die blompot op my boekrak teen my muur. Daar sal die gesiggies ‘n ogie oor my kan gooi – en net voor hul skoonheid vergaan – sal ek hul droog en hul versamel in blompotte – weer – maar die keer sonder water.

My kamer staan reeds vol verskillende seisoene en oomblikke- vasgevang in die droog – elke bossie vertel ‘n storie – die een bossie (moet ek nog raam – maar eers wanneer my skip inkom) behoort aan 3 September 2016, my matriekafskeid; iewers is hier sonneblomme van die Woordfees-repetisie-dae (van René), proteas van my neëntiende verjaarsdag, rose van die tafelversiering van die Leeuwenhof ontbyt, tulpe van Willem en gesteelde papawers van onderandere Babilonstoren en my eerste kelnerinwerk (dis net ek wat sal vra of ek die tafelversierings mag kry) . Ek het ook Lavender in ‘n potjie en sulke silwergroen blare – van my huisdans – wat my ietwat herinner aan iets uit Griekeland. Die eerstelinge van my orgideë lê ook gedroog tussen Vlam in die Sneeu en die Mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Tussen my gunsteling Teddie en Stitch lê die eerste bloeisel takkie van die seisoen – piglet-pienk.

Maar tot die winterwederkoms – skop jou skoene uit en loop kaalvoet langs die kombersgrasperke, ruik aan die parfuum van die blomme, en besluit op jou gunsteling een. Asem die sonlig in en sit vir ‘n oomblik net jou selfoon neer, en voor jy die mooi hang in jou persoonlike uitstalling in die kuberruim museum- wees net in die teenwoordigheid van die skoonheid – nou, want kort voor lank is dit tyd vir die blommetjies om hul kroonblare een vir een af te gooi en as die laaste een die grond tref moet die tulp alles behalwe sê: “Poeple loves me not.”

Shirley

Ns. As mens blomme droog hou die lente vir altyd – nes in die stad van die eikebome, jy weet mos: Dis altyd lente in die oë van die Stellenbosch studente. (Wat is ‘n blogpost sonder ‘n cheesy opmerking?)

 

Kafeïne

Ek is seker my verlore opinie op die internet is nie te veel gemis nie. Al opwindende nuus sedertdien ek laas gepen het, is my nuutgevonde verslawing aan koffie – nes my stilstuipe  – ook weens studeer.

Maar so met die os op die jas af – Koffieverslawing is eintlike ‘n heel aanvaarbare verslawing om te hê (my subjektiewe twee-sent) – bygesê ook net as jy dit kan beheer: soos ek – tot minimum een en maksimum twee per dag. Alhoewel, dit is dan ook net daar waar die vangplek inkom – want minimum een beteken dat jy alles in jou vermoë sal doen om wel daardie een te kry en dan natuurlik is die grootste slaggat ook die grootte –  tel ‘n tall of selfs ‘n grandé werklik net as een?

Mens is ook nie net verslaaf aan die koffie nie, maar ook die verskoning vir geselsskap. Koffie-drink is darem meer produktief as net blote plafonstaar. Geselsskap maak my koffie bittersoet – sonder die byvoeging van suiker of melk.

Ek is nou geen koffie-connoisseur nie, maar weet tog waar my koppie geskink word. Die versoeking het ontstaan om die staatmaker van ‘n gesegde: aan watter kant my broodjie gebotter is, te gebruik, maar helaas, ons is in gesprek oor die boon. In ieder geval – ek was besig om te vertel oor my gunsteling koffie – so kom ek hervat: Seattle bly ‘n staatmaker – dis hier naby die Tygereiland en ‘n klipgooi van my huis. As ek in die stad kom geniet ek- Honest (Trump and Timble) of enige plek wat Deluxe koffie voorsit. In Stellenbosch is Hazz my gunsteling. Ongelukkig is ek gestraf met die gebrande smaak van Vida op kampus. Werklik nie ‘n aanhanger nie, maar die Q is altyd lank – so miskien is daar wel studente wat daarvan hou of miskien is hul desperaatheid vir kafeïne voor op die wa. (Somtyds settle ek – maar ek probeer my smaakknoppies meeste kere te gemoed kom)

As dit of uit ‘n plunger se vuis of uit ‘n filter se hand kom, sal net Deluxe deeg. Ek trek die streep (dubbelstreep) by garage-koffie.

Koffie is ‘n geldrowende verslawing – ‘n aangename een nietemin;  en beslis nie ‘n foster kid in my dopamine sisteem nie – maar ‘n aangenome kind.

Matigheid voor oë.

(En as jy kan – wys suiker en melk die hoof)

 

Shirley

 

 

 

 

 

Ons voel in emoji’s

“dis tyd vir introspeksie en meditasie

stip studie van ons kommunikasie:

‘n emoji-dialoog meer ondeursigtig

en dubbelsinning as die boek Obadja.

ek ontsyfer ons versierde Whatsapp-teks

soos ‘n raaisel, analiseer my: “resiesperd

heuningpot,” en jou antwoord:”dolfyn pyn-

appel. dolfyn. dolfyn. dolfyn. pynappel.”

oningeligtes sal aanneem dis verspot

dié piktogramme van riete, ballonne

en roomkleurige ramme, maar ons maak

op die vloeibaarheid staat om gelyktydig

met en verby mekaar te praat in emoji

kan ons dinge sê sonder om onsself tussen klipmure van sin vas te keer.”

-bibi slippers, fotostaatmasjien (slegs ‘n gedeelte van volle gedig)

 

Het ons vergeet om te lag? Lag ons regtig of lag die emoji met die trane wat loop, namens ons.

Plaas ons ‘n blommetjie aan die einde van ‘n Whatsapp boodskap om onrealistiese versoeke so ietwat meer aanvaarbaar te maak?  Praat ons in emoji om te verhoed dat ons tussen die klipmure van sin vasgekeer word?

Ons almal weet dat die “video killed the radio-star”, maar het ons almal dit al oorweeg dat emoji-taal dalk die skim in die nag is wat ons skryfvernuf punt vir punt, komma vir komma en intensiewe vorm vir intensiewe vorm voor ons neuse gaps.

As dit kom by inklusiwiteit kan daar geen klippe na emoji -taal gegooi word nie: naas die feit dat alle mense ongeag hul taal die emoji’s min of meer dieselfde kan interpreteer, kan mens ook enige velkleur, haarstyl of beroep van jou keuse wees en versprei. En sommer so met-‘n-deur-in -die-huisval-opmerking, emoji’s sluit  ook gesigsuitdrukkings, liggaamstaal asook voorwerpe in- alles natuurlik voorwerpe wat daagliks emosie in ons ontlok, so ek neem aan die klassifikasie is seker gedeeltelik korrek. (bv. die suggestiewe eiervrug)

Maar met hierdie diversiteit staan emoji’s ook aan die voorgrond van diskriminasie soos seksisme, rasisme ens. Emoji’s is soos ‘n giftige spinnekop wat nie kan byt nie – die gebruik daarvan los veel te wense aangesien jy kan invoeg soos jy wil en die wêreld moet hierdie piktogram-taal, lees of ietwat meer ontsyfer. En so kan ‘n mens op ‘n baie subtiele manier ‘n klip in die bos gooi sonder dat die lesers weet of dit ‘n klip is.

In ‘n nuwe lyfie se eerste duisend dae vasgestring aan die wêreld en nou nie meer aan hul moeder nie, kommunikeer die kleine breintjie grotendeels deur middel van emosies en later hier en daar woorde. Alhoewel hul woordeskat daagliks uitbrei, praat hul nou nie in komplekse sinne nie. En aangesien die mensdom daarin faal om terug te keer na die fetale posisie (behalwe natuurlik saans op hul sy), gryp mens na enigiets met die buitelyne van kleintyd, sorgvrye-tyd. Maar met die onverpoosde najaag van geelgesiggies en spraaklose emosies wat ontsyfer moet word, lei mense se vermoë om hulself oor ‘n elektroniese boodskap en selfs in die lewe beide met woord en gesig uit te druk, daaronder.

Emoji’s veroorsaak dat mense nie meer emosies kan uitdruk of omskryf nie.Mense sê nie meer vir mekaar hulle is lief vir mekaar nie. Ons hartjie mekaar en dan moet die ontvanger maar twee en twee by mekaar sit.

En nee, daar is niks verkeerd met ‘n brander emoji langs die boodskap wat handel oor die reëlings aangaande die wandeling op die strand nie, hoegenaamd nie, emoji gerus so voort in vrede – moet net nie so lui word vir kommunikeer dat jy jou woorde met emoji’s begin vervang nie. Want op skrif bestaan ‘n appel uit 5 letters en twee lettergrepe en nie bloot uit ‘n rooi-ronde-appelfatsoen-slim-inligtingstegnologie-ontwikkelaar-prentjie nie.

Emoji’s is die sokkie en nie die skoen nie. Die skoen kan die sokkie dra, maar die sokkie kan nie die skoen dra nie. (Leidraad in die ontsyfering van hierdie metafoor: Die skoen is woorde)

Wat is hierdie snaakse prentjies in jou boodskappe, Shirley?” Want al emoji’s wat my ouma ken, is kruisie sirkeltjie kruisie sirkeltjie – soentjie drukkie soentjie drukkie. (Hier waar die ouderdom onskuld bring en die jeug beïnvloedbaarheid)

‘peer.’ wanneer die sagteware soveel verouder het dat ons fone artefakte word en ons voice notes onhoorbaar, sal iemand darem nog hierdie notas kan lees en probeer interpreteer. wat van ons sal oorbly is ‘sestig snye pizza.’ ‘sonbesie. shiba inu.’ ‘nukkerige panda-gesig.’ ‘bisep.’ ‘suggestiewe eiervrug.’

 

Shirley E.

Naskrif: Ek is stout vir ‘n emoji of twee. En ek moet seker bieg: ek het deur ‘n emoji fase gegaan tot woorde my regterbrein kom annekseer het.

 

 

 

 

Pondjiebotter

As haasbek dogtertjie was ‘n R50 vir my ‘n groot som geld. Met daardie geldjie kon ek elke dag ‘n roomys of sjokolade koop in die enigste winkel op die dorp – die Struisbaai OK. Verder het ek my geld uitgegee op klein boekies by die Skulpiewinkel (die boekie het altyd soos goedkoop parfuum geruik wat vir ‘n een-meter-hoë- ek, lieflik was) en die alombekende karamel dips (ook by die einste winkel). Teen die einde van die vakansie het my pa my altyd jammer gekry en ‘n ou ekstra geldjie gegee vir ‘n mooi skulpie of twee of vir ‘n nuwe visstok, want myne het elke tweede dag tussen die rotse geskeur (my visvang stokperdjie het soos jy kan aflei, maar broekskeur – of te wel netskeur – gegaan. Ek het darem altyd die een vissie wat ek in twee jaar gevang het, terug gegooi).

As kind was vakansies by my ouma ‘n spotgoedkoop affêre. Maar intussen het ek twee liniale in lengte gegroei en saam met die beenpyn kom ‘n behoefte aan ‘n groter bankbalans – maar helaas, die bankbalans het nie noodwendig eksponensieel saam met my gegroei nie.

Nou dat vakansie te heerlik by ons almal kuier en brosbroodkoekies saam ons geniet, het ons meer tyd op ons hande en dus ook meer tyd om ons sente te probeer omdraai. En net omdat jy ‘n begroting die grootte van ‘n pondjie botter het, beteken nie dat jy droë mond deur die vakansie moet wandel nie – alles behalwe.

Die oplossing word bedien in check-plastiek bordjies en rooiwyn glasies – ‘n piekniek. En nie sommer enige piekniek nie, pieknieks mooier as die drie beertjies s’n.

Maar voor ek met die rietmandjie in die huis val – weet jy waar die naam piekniek vandaan kom? En waar dit tot stand gekom het? Moenie te skaam voel as jy na ‘n oomblik van waarheid besef dat jy eintlik glad nie die kloutjie by die oor kan bring nie – ek was ook tot baie onlangs in die duister.

So waar het pieknieks ontstaan? Die woord as sulks is afkomstig van die 17de eeuse Franse woord picque-nique wat ‘n samesyn beteken waar a handjie vol mense ietsie te ete of te drinke bring en dit met mekaar deel. Die “picque”-gedeelte kan heelmoontlik verwys na die manier hoe die mense by so geleentheid geëet het, deurdat hul met hul hande die kos ‘gepick’ het. Die “nique” gedeelte word deur baie kenners beskou as bloot ‘n simpel rymwoordjie wat by die bogenoemde woord gepas het. In doodgewone Afrikaans (sonder fancy woorde) beteken die alombekende woord bloot: Elkeen vat ‘n bietjie (en natuurlik bring ook ‘n bietjie in dieselfde asem as jy nou nie as ‘n opskeploer bestempel wil word nie). En dit is dan die woord.

Die Franse het die Engelse met dié geliefkoosde uitstappie voorgespring. Ook nie moeilik om te glo aangesien die Franse vandag steeds lief vir hul patés, kase, ingelegde uitjies en koue vleisies is – ek wonder of die meter lange Franse brood ook miskien hier sy oorsprong geniet. (Die Engelse het wel meer as die Fransman na die 1800’s begin eet op ‘n kombers onder die bloulug, maar hul spyskaart het meer roomkaas en komkommer toebroodjies ingesluit).

Maar die assosiasie met die hele idee van piekniek was nie altyd stroopsoet nie – inteendeel. Baie mense het destyds (en sommiges nogsteeds vandag) geglo dat die woord Piekniek direk van die woorde, “pic-a-nigger” (bloot ‘n weergee van inligting en hoeganaamd nie haatspraak nie) afkomstig is. Die konsep ontspring uit die idee dat mense piekniek-tipe etes geniet het terwyl hul die verbranding van ‘n slaaf (wat volgens hulle oortree het) tot die vermaak van die hele gesin aanskou het. ‘n Skokkende 4000 swart slawe is tussen 1882 en 1962 verbrand. En glo my – toe ek op hierdie brokkie inligting afkom, wou ek ook my gunsteling aktiwiteit koebaai soen – maar gelukkig is hierdie negatiewe konnektasie bloot weens ‘n misverstand.

Die waarheid is dat Pieknieks onafhanklik van hierdie gebeure tot stand gekom het – in die Middeleeuse wêreld (Robin Hood se tyd) toe jagtogte en dus ook woud-wegneem-middagetes algemeen en noodsaaklik was. Dit is bloot toeval dat mense kos saam geneem het om hierdie gru en hartelose dade te aanskou. So moet dus nie die mandjie te ver weg pak nie. (En wat leer ons hieruit – om nooit al jou eiers in een mandjie te sit nie)

En nou dat ons almal mooi ingelig is oor presies wat ons doen as ons onder die bome lê – wat sit mens in jou mandjie?

0002_00

0004_1

0005_2

0006_3

0007_4

0013_10

0009_6

Bloot riglyne vir die perfekte piekniek mandjie:

– Croissants (moet kraakvars wees, en verkieslik nog warm; ek vind dat Woolies se bakkery hemelse deegrolletjies verkoop) – hierdeur vereer ek ook die Fransman wat aan hierdie manier van samesyn en peusel gedink het. (Een of twee per persoon is meer as genoeg – die sleutel is om net genoeg te vat om ooreet te vermy – dit bederf bloot die ervaring) As jy egter ‘n gesonder opsie wil inpak (en miskien gluten-sku is, is Rogbrood ‘n wonderlike opsie of selfs koolhidraat-slim saadkoekies van Woolies – hierdie is nie ‘n advertensie vir Woolworths nie, al klink dit so)

– ‘n Pondjie plaasbotter (of ‘n neutbotter/olyfolie vir ‘n vegan alternatief)

– Gerookte forel (indien jy nie ‘n visliefhebber soos die uwe is nie, kan jy dit vervang met gerookte hoender, parma ham of wat ook al jou hart begeer. Vir ‘n vegan opsie sal ek lekker oondgeroosterde eiervrug voorstel.

– Kaas, kaas en nogmaals kaas ; seker nou nie te veel kaas nie, maar definitief ‘n goeie Camembert. Die maak wat ek sal aanbeveel is Castello. Die Brie is net so lekker. Glo my, hierdie kaas is een van daardie smake om oor huis toe te skryf. Vir ‘n vegan opsie is daar verskeie neutkase en tofu by gesondheidswinkels beskikbaar. Die tweede kaas wat ‘n absolute moet is (wel vir my altans) is egte Italiaanse sagte Mozzarella balletjies (Buffalo) – Woolies het ‘n baie lekker enetjie wat plaaslik vervaardig word – bleikbaar ‘n eg Italiaanse resep. En dan natuurlik bokkaas (chevin) is nie onderhandelbaar nie. Bepaal die hoeveelheid kaas afhangende van die hoeveelheid mense.

-Ingelegde vye ; hierdie stroopsoet delikatesse moet in enige piekniekmandjie wat sy sout werd is, pronk.  Varsvye indien die seisoen dit toelaat, is selfs beter.

– Heuning (klein bietjie net vir ingeval)

-Vuurpylblare (ek is belaglik) –  meer algemeen bekend as rocket blare. Die peperkwaliteit van hierdie groenigheid is wonderlik by kaas en ‘n vleisigheidjie.

– Avokadopeer – Ek gaan nie eens verduidelik hoekom nie, onthou net die growwe peper en die pink sout.

– Bessies (Frambose, blou-en swartbessies) – my gunsteling. Die suur is lieflik saam met al die soet smake en dit is ‘n klein natuurlike medisynetjie so tussen die bloekombome.

– Granaat – Granate maak alles mooi.

– Vrugte  – Pynappel, vleeskeperskes (mangoes), perkes

– Hummus met groente stafies/ oondgeroosterde groente

– Olywe

– Ietsie soet – Hoghouse Pan di nata tertjies

Om die palet klam te hou, is water noodsaaklik – vernaam as die son water trek. En rooiwyn – nie of nie, EN.

Eenvoudig  – dog ‘n hemelse, smullende samesyn.

Neem ‘n leesboek of twee, jou kamera, sonbril, hoed en sonbrandolie saam.

 

Shirley

 

Agter die Boereworsgordyn

Agter hierdie gordyn is dit uitdagend om nie in ‘n voorstedelike middelklas gewoonte te verval nie. Dikwels lei diegene wat hou van die fyner dinge in die lewe, die wie se palet aangepas is by forel of salm (NIE BOEREWORS EN TJOPPIES NIE), hieronder. Diegene wat ‘n glase Boschendal merlot saam ‘n perfek geflaméde stukkie fillet (of beeshaas) geniet of per spesiale geleentheid ‘n glasie van die beste Franse sjampanje (nie vonkelwyn nie) soos ‘n trapsuutjie proe-proe. Maar wanneer Tafelberg nie deur hierdie digte gordyn loer nie, drink my mede noordelike voorstede inwoners, die biertjie sommer uit die bottel terwyl die kole lieflik in die aandlig glinster. (Ek verkies egter die glinster van die stadsliggies. Of selfs bloot die sterre wat skaarser as hoendertande is – alhoewel stadsjapies is seker meer verantwoordelik vir die hemelruim se beurtkrag as Gerhard en sy boep)

En ten spyte van die feit dat die dieselfde koerante  hier en in die stad versprei word (afhangende van jou keuse van taal natuurlik), vermy dié ywerige vuurmakers aardverwarming geheel en al. Om saans met jou natneusie (hond) te gaan stap, is uit soos koekies in ‘n weeshuis weens die digte rookmis wat ‘n bors, wat reeds na sy asem jaag, in kroniese asma sal laat verval.

Saterdae aande is die strate leeg en die rusbanke gepak met bultende spiere, biltong, droëwors en daardie biertjie waarvan ek julle vertel het – hul oë vasgenaal op die televisieskerm en Bakkies Botha (of die man nog rugby speel, sal ek nie weet nie) en sy ronde kuitspiere. Intussen is daar eintlik ‘n wonderlike ballet by die Kunstekaap te sien, ‘n teaterproduksie by die Baxter, ‘n kunsuitstalling in Kloofstraat en ‘n boekbekendstelling by die boekwinkeltje op die hoek van Roelandstraat, maar die geleenthede gaan verby soos die wolke op ‘n bewolkte dag, want die voorstedelike televisie-stelle of radio’s (vir die desperate persone op pad huistoe), is ingeskakel op die sportkaneel. En ongelukkig, kan die gekultiveerde geleenthede nie opgeneem en herhaal word soos in die geval van die laasgenoemde nie. En gevolglik is die wit swaan in Swan Lake se swanesang nie net vir die liefde wat sy verloor het nie, maar ook vir al die rusbankaartappels wat nie hulself kan help nie.

Hiermee verklaar ek nie dat sportliefhebbers hul stokperdjies moet staak nie, al wat ek sê is dat dit nodig is om van tyd tot tyd hierdie boereworsgordyn oop te trek sodat Tafelberg in al haar glorie, prentjiemooi deur die venster kan pronk. Om nou en dan ‘n skildery te ontleed of ‘n digbundel van hardeband tot hardeband te lees, gaan beslis nie skade doen nie, en as die skoen jou groottoon platdruk, kan jy hom uittrek, maar moenie ander hinder om dit aan te pas nie. Jy mag dalk nooit weet nie, miskien is jy of die ander persoon, Aspoestertjie en die verlore glasskoentjie mag dalk net jou behoort.

Shirley