Ode aan Cooper

In die gekrulde verlenging van jou rugstring, het ek myself gebêre.  Jou pels het ek om my gebrei soos ‘n woltrui vir daardie dae wat ek soms so bietjie koud kry.

Verder terug in die voue van geheue – onthou ek jou lyfie kleiner as wat dit nou is, daardie langbeen aand in September van 2010. Met jou naelstring vars afgeval – het ek jou toegedraai in jou geel kombersie en huistoe geneem met die noukerigheid van ‘n kardosie eiers dra. Ek was so bang jy sou breek, disintegreer. Ophou asemhaal.

Ek het nie die vaagste benul gehad hoeveel en wanneer jy moet eet. Hoe baie jy moet pee en poep en hoeveel ure se slaap jy per dag (of snags) moet inkry nie. Slaap in ‘n hondemandjie wou jy niks van weet nie. Kort voor lank was my bors jou kussing en my hartklop die agtergrondmusiek in jou hondedrome.

In my slaapontberende toestand het ek wel my graad-6 maaltafels gedek met goeie uitslae en Afrikaans geslaag met nie te veel spelfoute nie – inteendeel, net mooier opstelle.

Toe jy so paar maande oud was en pas die terrible two’s in die honde weergawe betree het (dié weergawe behels die volgende gedrag: Onthoof van lappoppe, gate byt in komberse, ander dinge doen met komberse… , tydskrifte verskeur, ontsnap sonder leiband, gromgeluidjies maak en glo dit of nie – nog met tennisballe speel – ja, Cooper – jy het dit op ‘n tyd gedoen) – maar ja, toe jy omtrent só oud was- toe wys my ma vir my ‘n prentjie agter op ‘n brief aan Vader Kersfees – dit was ‘n klein swart hondjie in my beste kinderkuns geteken op ‘n trap. Die inskripsie het omskryf hoe graag ek só een wou hê daardie jaar. Nou ja, jare na daardie vriendelike versoek het Vader kersfees se Elfies toe tog my adres gevind en nes fiela se hanskind – jou aan my toebetrou. Ten minste betyds vir daardie Kersfees en al die ander.

Ons verbintenis neem ‘n diepte aan wat die verbeelding te bowe gaan – dieper as die geboortevlies van die Melkweg. Groter as Venus – verder as die maan.

Jou gefotografeerde gelaat het my party-trick geword. Jou pels my kleenex, jou oë my bybel, jou geblaf my musiek – soms heavy metal wat my teen die mure uitdryf, ander kere Lisa se klavier.

Sommige mense skryf oor die lane van Stellenbosch, die betowering van die stadsliggies en Parys in die somer – maar ek wil net skryf oor hoe opgewonde jy raak  saans as ek jou hondebakkie slaan soos tamboeryn om etenstyd aan te dui.

So Cooper – long story short – ‘n nobelprys kom jou eintlik toe – vir die baanbrekerswerk wat jy in my lewe verrig het en elke dag steeds doen.

Slaap sag en droom snuffelend van souserigheid vanaand – want jirre my hond, jou geboorte is mirre.

 

(jou) Shirley

 

Jammer vir al die koue aande se voor die hek sit en vir my wag as ek weer gallivant.

 

 

Sibbe

vir Nastassja

 

Die wonderlikheid van lewe is om na jare nog wakker te word en vlugtig te onthou hoe mens eens ‘n kind was en in tasbare ruimtes van koue en klank ‘n haantjie te hoor kraai, asof hy so pas die wêreld so groot soos ‘n dag geskep het.

As klein dogtertjie het ek altyd my suster verbeel slaap buite op die dakterras bo die stad van glisterende koepels en ‘n versiersuikerde Eiffeltoring as vuurkolom. Ek het geweet ek sal eendag met oop oë lê en kyk hoe die hemel se beweging soos waterverf stol tot die kleure van haar voor die Arc di Triomphe. Ek sou glimlag met die wete dat haar hartsbegeerte gestol is na jare van vloeibaarheid – daar waar sy langs die Seine met ‘n glasie cabernet sauvignon, croissant breek en deel met die eend-halsnoer – van groot na klein gerangskik.  En as mens sou inkyk op dié toneel sou mens jou ‘n Vincent Van Gogh kon verbeel met net genoeg kwashale om te weet dis sy.

Ons albei het grootgeword op cocopops, op gedeelde badwater en op payday speckled eggs en uitstappies na Sterkinekor. Ek het nog altyd geglo die mooiste skeppings kom van die eenvoudigste van grondstowwe – en in my gebroke kennis van kunstenaars en hul heenkome sal ek my suster aanvoer as rede.

Sibbe, susters – beide sinoniem met deel. Die deel van ‘n ma, die deel van ‘n pa, die deel van ‘n baarmoeder, van en stem en soms, soos in ons geval, die deel van ‘n slaapkamer. Per geleentheid het hierdie gedeelde kamer te klein geword vir haar tienerprivaatheid en ek en al my barbies en al my waaroms en al my hoekoms – as mens klein is, is ‘n sesjaar gaping seker meer as net ‘n sprong, maar soos die jare aanstap sluk ouderdom die verskil in. Maar ander kere weer as die nag te helder was vir slaap – het ons mondmaak ‘n net geweef om die sterre een vir een mee te vang soos skoenlappers. Ek was boonop bang vir die donker so deel was nie regtig ‘n vuurhoutjie vir kla as jy my sou vra.

As die lewe die nerf van my knie kom afvee het, het sy die sekelmaan uit die lug gehaal, die sterre tot garing geweef en my seer toegesteek. Die wonder van wonde deel is om mekaar te belet om rofies wat soms jik – oop te krap.

Om ‘n ouer suster te hê is om haar storieboeke van kant tot kant te lees as sy al lankal daarmee klaar is en tot dieselfde of soms ander gevolgtrekkings te kom. Om te sien hoe sy grootword terwyl jou eie voete nog nie in haar nou-te-klein-vir-haar skoene pas nie – en dan op ‘n dag soos Aspoestertjie dit aan te trek en ander myle daarmee te stap, maar steeds tot ‘n mate weet hoe dit voel om in haar skoene te loop.

Ek dink nie mens kan ooit volkome kind wees sonder baklei wie soggens voorry. Kinderjare sal bloot buitelyne hê sonder ‘n suster om dit bont in te kleur, oor die lyne en binne die lyne met die vetkryte van vetpret.

Om ‘n suster te hê is soos om vir jouself in die spieël te kyk – na te boots, te reflekteer en te weet daar is altyd iemand daar wat vir jou loer as die dag kantelson en een plus een nie meer twee is nie.

 

Shirley

Ode aan Juffrou Bekker

Opgedra aan Juffrou Erika Bekker, my laerskoolonderwyseres, wat na 28-jaar by Laerskool Bellville-Noord, uit die onderwys tree.  

Mens kom nie net iets sleg oor nie – mens het ‘n bloutjie geloop. Mens sê of doen nie net iets te laat nie – dis soos mostert na die maal of die koeël is deur die kerk; mens storm nie net by die huis in nie – mens val met die deur in die huis. Mens is nie net mensku nie – maar mens ry met Jan Tuisbly se kar; mens is nie net versigtig nie- mens is eerder bang Jan as dooie Jan. Mens is nie net doodgewoon of ‘n plain Jane nie – maar ‘n Jan Alleman. (Bygesê êlke Jan Rap en sy maat se  naam is ook Jan). Mens is nie net baie slim nie – maar so slim soos die houtjie van die galg. Mens verklap nie net iets nie – maar mens laat die aap uit die mou. Dis nie net jou swakheid nie – dis jou Achilleshiel. Mens is nie net verlief nie – mens is beenaf. ‘n Uitverkoping is nie net ‘n sale nie – dis ‘n appel-en-ei-verkope (toegegee: ek het hierdie een so ietwat gebeitel).

Nou as jy ‘n goeie begrip het – hoef ek seker net ‘n halwe woord te gee en jy sal weet dat beenaf is ek oor my taal. En as daar nou een persoon is wat soos ‘n paal bo water uitstaan vir hierdie eenbeen-liefde van my –  is dit Juffrou Erika Bekker. Ek dink ek het met my gat in die botter geval toe Juffrou Bekker oor my pad gekom het. Om die waarheid te sê – toe ek hoor ek is in juffrou se klas – het ek die koffie gedrink soos die kan hom skink.

Vir haar – was geen gedraadsit, geen getou-ingooiry, geen gegouer by die bak as by die vak aanvaarbaar nie. Volgens haar – kon ons net die badwater uitgooi en nie die baba nie.

Sy het my ook nooit laat vergeet dat die berg (meestal) ‘n muis baar; sy het my my eie berg maak hike as ek een van ‘n molshoop geskep het. Sy het my leer liefword vir my taal.

Sy het my geleer dat my wortels nie net vertikaal maar ook horisontaal moet strek na die wortels van ander – want die lewe is ‘n rukwind en hoë bome vang die meeste wind. Sy  sou tien teen een nou gesê het – ek is net besig om mooi broodjies te bak met dié inskrywing aan haar. (Maar ek kan nie net met ‘n mond vol tande bly sit as laerskool orrelstryk gegaan het te danke aan haar)

Nou kyk – my oggend en môre-praatjies stem nie altyd ooreen nie (ek heet maar ook net mens – so indien jou huis ook ondergeskik is aan die derde varkie s’n en soos myne van glas gebou is – moenie klippe gooi nie) – maar net soos ‘n koei ‘n feit is – was sy aan my adres gerig.

Sy het my geleer om nooit wie ek is vir ‘n bord lensiesop te verkoop nie.

Sy het my geleer om altyd te onthou dat tussen die hand en die mond val die pap op die grond – maar dat mens dan net gods water oor gods akker moet laat loop.

Haar hande het verniks verkeerd gestaan nie.

Sy het my ook geleer om nooit die persoon te word wat my ouma leer om die paplepel vas te hou nie. Bygesê – ook te skep as dit pap reën die dag.

Sy het my geleer dat ons elkeen seer het – ons almal eet dieselfde poeding maar net met ‘n ander sous. Dis soms ‘n moeilik en bitter pil om te sluk, maar selfs hierdie bitterigheid in die mond, maak die hart gesond.

Sy het my geleer dat die môrestond altyd vir my goud in die mond sal hê.

Sy het skoolgegee met die ingesteltheid van: die een hand was die ander skoon.

Juffrou kon land en sand aanmekaar praat – oor koeitjies en kalfies – oor murg en oor been.

En al het ek my kinderskoene ontgroei – my skoolbaadjie opgehang – is dit juffrou se handskrif wat staan voorin my HAT nes die dominie s’n in my Bybel. Juffrou dan tog die persoon wat my gedoop het in ons taal. Leer praat het met werkwoorde aan die einde van sinne, dubbel nie’s en leer loop in die een rok en twee skoene van die woord Interessant.

Ek het nou ‘n Kaapse draai geneem om eintlik net te sê: Juffrou Bekker – ek haal my hoed vir juffrou af – vir die 28 jaar wat juffrou die evangelie van klinkers, konsonante, woorde,  digters en geskiedenisfigure gestalte gegee het in die wese van hordes kinders – want daar sal nooit enigiemand by Juffrou kan kersvas hou nie.

 

Shirley

 

Ns. Jammer as ek partykeer voor op die wa was, of myself rammetjieuitnek gehou het – maar die kool was darem die sous werd – sien – ‘n oogappel is mos maar eintlik die spreekwoordelike toffie-appel.

 

 

 

 

 

 

Sê dankie vir die tannie

Ode aan tannie Isa

 

Niks groter as ‘n piesangbroodjie

het my ma my elke dag aan jou hande toevertrou

jy het my vasgehou

gebad

en my boude afgevee

jy het my groenboontjies gevoer

en my beloer as ek my hande was

of beskuit uit die oond steel

sonder om ‘n happie te deel

jy het my geleer speel

teken en vuilword

jy het my geleer om mens te wees

en toe ek vier word

toe sê jy vir my:

“Loop wys vir al daardie grânt kinders hoe slim jy is”

 

dankie, auntie isa

 

– Shirley van der Merwe,  30.09.2017

My mooiste en gelukkigste herinneringe van my kleuterdae speel af in Tannie Isa se sitkamer tussen die rietbanke en gekleurde blokkies op die mat. Ek onthou die reuk van die kookkos en karringmelkbeskuit. Ek onthou die gherkins-geëtery uit die potjie en die vingerkoekies. Ek onthou die ander kinders en die warm drukkies. Ek onthou die piesangboom buite die ruit en Sttttt die babas slaap (al was ek self ‘n baba).

Vaagweg onthou ek die besoeke van Vaderkersfees wat meestal op ‘n ramp afgestuur het en ek onthou Maryke en Charl. Hy het by sy huis verdrink – ons was drie en my hart is nogsteeds gebreek. Die dood het my bang gemaak, maar haar hand het gesê dit gaan ouky wees.

Ek kan nogsteeds die stroopsoet tee in die tietiebottel onthou en reënboogstroke voor die video beginne draai het. My gunsteling program was Pengu Pengu – die pikkewyne was maar karakters van min woorde – maar op een of ander wonderbaarlike manier het ek hul verstaan en bonatuurlik aanklank by hul gevind – so asof ek die klanke self in woorde in my gedagtes omskep het – miskien was dit die begin van die vorming van my eie stem. Ek lag as ek terugdink aan hul plat pienk voete wat hul met sulke klapgeluide neergeploks het in die sneeu. En naas dié lewendige beeld in my geheue – onthou ek Heidi – daar in tannie Issa se sitkamer het ek saam Heidi en Petrus in die berge gehardloop en my gunsteling episode was toe haar kat kleintjies in oupa se dak gekry het – seker nie toeval dat ek dus so versot op diere is nie.

Maar naas al die spesifieke herinneringe onthou ek die gevoel – die gevoel van absolute veiligheid en te vredenheid – iets wat ek sedert vier nie sommer elke dag beleef nie.

Tannie Isa vertel altyd hoe ontmoontlik ek was as baba – as sy my skamele drie hare op my kop moes was – sy sê altyd: “Dit was net arms en bene”, totdat die buurvrou haar aangeraai het om my in ‘n handdoek toe te draai – in haar verdediging – ek was haar eerste pasgebore baba na wie sy moes omsien lank na haar eie kinders reeds uit die huis was.  Maar naas hare was, was ek soet. Blykbaar het ek ‘n paar keer op my kop te lande gekom (die eenkeer tussen die bed en vensterbank – akrobaat van kindsbeen af) en sy was elke keer in ‘n koue sweet op die foon met my ma – maar my hardeskuif het darem nie te veel skade opgedoen nie.

In die somer het ons so klein plastiek swembadjie gehad – groot genoeg vir drie sitvlakke en slegs sit – maar baljaar het ons baljaar. Daar was ook sulke skopfietsies – verbeel ek my – ‘n pienke en bloue waarmee ek die erf platgery het – natuurlik die dat ek deesdae in helldriver op die pad uitgedraai het.

Tannie Isa het ook die mooiste roosbedding gehad – ek het natuurlik partykeer in die geheim daaroor gespring as ek lui was vir omstap – maar sover my geheue strek het ek darem geen roos ooit platgeval nie.

As ek nou in retrospek my lewe tot dusver aanskou, besef ek net al meer en meer – hoe belangrik die eerste paar jaar van ‘n kind se lewe, my lewe was – veral die eerste twee.

Die eerste 1000 dae van ‘n kind se lewe, dus van bevrugting tot en met die tweede verjaarsdag – is die tydperk waarin die brein die vinnigste ontwikkel – dus gedurende hierdie tyd is borsvoeding, voeding en stimulasie baie belangrik. Dit is ook die eerste keer wanneer die kind ‘n persepsie van vertroue opbou en sekere gedragsprosesse kan gedurende hierdie tydperk gevorm word en vasgestel wees vir die res van die individu se lewe.

Hegte verhoudings tussen die baba/kleuter en ‘n versorger, hetsy dit die ma, dagmoeder of enige ander familielid of persoon is – is ‘n broodnodige (of borsvoednodige) aspek in die ontwikkeling – dit is dus nie nodig om jou kinders te probeer leer lees op twee nie – wat belangriker is vir breinontwikkeling is speel, probleemoplossing en ‘n stabiele verhouding.

En daarom is ek my dagmoeder so ewig dankbaar – sy was ‘n konstante, ‘n tissue vir die krokkediltrane, ‘n kosyn waarteen ek kon opstaan toe ek leer loop het en ‘n houtlepel as ek stout was. Sy was die arms waarin ek veilig gevoel het as iets denkbeeldigs my in die gange jaag of as ‘n kind ‘n barbie teen my voorkop gegooi het. Sy was my muse – ek het haar nageboots in huistake, ek het haar help skoonmaak, met die ander kinders gehelp (ek hoop ek het gehelp en nie die situasie vererger nie), ek het saam gebak en sy het my leer appelkose eet.

Ek voel nog elke tekstuur – die van die mat, die growwe wit muur, die koue kombuisteëls onder my voete en die retro kombuistafel – met ‘n groen tafeltop as my geheue my nou nie fop. Ek onthou die ronde geuwels van elke vertrek. Ek onthou selfs haar reuk en die alombekende: “Loop sit; loop staan; loop eet; LOOP SPEEL (as ek ‘n pyn was); loop slaap (die een het ek ook dikwels gekry – naptime was nie my gunsteling tyd nie); loop maakskoon; loop was jou hande en ek het altyd bygevoeg om aspris te wees (uiteraard na my semantiese verstaan van woorde uitgebrei het) – loop loop.

Liefste , Auntie Isa – dankie – dankie dat jy my gevorm het, aanmekaar gesit het leggo vir leggo, houtlepelhou vir houtlepelhou, drukkie vir drukkie en stukkie vir stukkie.

Soos ek skryf – huil ek – nes die dag toe ek moes bye sê en crechè toe gaan.

Mens se rolmodel hoef nie altyd aardskuddend te wees om jou wêreld te skud nie- myne is ‘n down to earth tannie van Garries wat hou van Wimpy milkshakes.

Altyd my gunsteling tannie – my tweede ma.

Al my verlange. Al my liefde.

Shirley (stoutgat)

 

Ns. As julle my soek – ek sal by die huis wees met die icecream bush besig om tee te drink en te lag.