Jarig-jobje

Granaatpraat

 

Ek wil weer en weer lag

totdat ‘n hele boom granate op die vloer lê

my hande rooi is

my tong ook

en my mondhoeke taai

van jou en my oopgebreekte granate

kom ons lag weer

kom ons praat in granaat

 

– Shirley

Lag is so mooi. ‘n Ongeskonde gevoel. ‘n Sporadiese strook van blydskap wat by die deure van jou bestaan uitbars soos kinders wat die speelgrond betree tydens pouse. Maar somtyds bly jou lag soos ‘n skaam kind in die klaskamer agter en kyk deur die ruit hoe almal speel. En ‘n skaam glimlag is al wat ontlont word soos die kind teen die deur leun maar hom nooit ver genoeg druk en oopmaak nie.

 

Ek is nie die tipiese sosiale vlinder nie – ek flok nie graag saam in ‘n swerm mense nie. Alhoewel ter viering van my twintigste verjaarsdag het ek my oë toegeknyp en meer mense genooi as wat daar maatjies was by my vyfde McDonalds verjaarsdagpartytjie – my eerste en laaste partytjie. Sien – my ma het altyd gesê ek moet kies tussen ‘n mooi geskenk en ‘n partytjie ( ek neem haar nie kwalik nie – partytjies het ‘n geneigtheid om nie net die ballonne nie, maar die sak ook met wind te vul). Nou ja – die klein materialis wat ons almal maar is (sommige meer as ander), het elke Januarie die oorhand van my gekry en moes my maatjies maar tevrede wees met een woolies cupcake elk (na ek natuurlik my pienk enetjie gegaps het).

Maar nou die dag toe ek in die tuin van Babylonstoren sit en beethummus oor ‘n slaai as spys proe en beetsap as drank geniet – almal om my gesels – almal om my lag – en die koue briesie die stilstaande hitte verlig – het ek besef dat ek as peuter, kleuter en skoolgaande dogtertjie gesoek het na die bel – sonder ‘n klok. Ek was vasoortuig dat die vreugde van die verjaarsdagkersies doodblaas  terwyl almal sing en skree dat jy ‘n wens moet maak van korte duur is en dat die geskenk (watokal ek uitgekies het) van langer genot sal wees. Maar daai somersmiddag het ek besef ek was verkeerd.  Die eintlike geskenk is mense en die glimlagte en die lag. Die herinneringe wat jy sal onthou bo enige Anatomie. Bo enige histologie – want sien – jou brein wil eintlik net heeldag lag en speel. Baljaar sonder om te bedaar – ietwat problematies as die akademiese jaar in volle swang is – veral die mediese akademiese jaar. (Lees hier in: die “See no evil emoji”)

Want net soos ‘n slang vervel – verjaar ons en los die vorige lewensjaar in ‘n hopie iewers en syl aan met ons nuwe vel – gaan aan met ons lewe – ‘n paar minute ouer as die vorige dag, maar ‘n jaar ouer as dieselfde dag ‘n jaar te vore.

En dis geen geheim – die lewe is partykeer nie ‘n wandeling in die park nie en nog minder ‘n snytjie koek – die lewe is partykeer net trane en tantrums so ja jy blêddiewil verdien om op jou verjaarsdag geluk gewens te word deur ander mense wat ook weet hoe moeilik dit is om ‘n jaar op hierdie aardbol te oorleef. (Verskoon die hiperbool – al die geswottery maak die intensiteit waarmee ek emosies beleef en voel soos die reuksintuig van ‘n bloedhond/ worshond – moerse skerp). Geen grand geskenk gaan vir jou sing of jou omhels nie. (Behalwe natuurlik as dit blomme is – maar tegnies gesproke is dit ook maatjies – want dit lewe. Digbundels mag dalk ook ‘n uitsondering wees, hulle praat met jou- maar ek is seker julle verstaan beter as ek self wat ek bedoel).

Vanaand lê ek en kyk na ‘n kinderfoto’tjie van my – en ek sê vir haar dat sy vir haar kinders eendag moet sê dat alles wat toegedraai kan word vergaan – maar dit wat nie kan nie – ja, dit mag dalk verby gaan – maar dit vergaan nie. En eendag sal ek seker maak daai dogtertjie in die foto het geluister na wat haar ouerself vandag vir haar gesê het.

Glimlag – breek mekaar se granate oop en vlek mekaar se siele met die rooi van die geluk.

Shirley

 

 

 

Hibiscus baba

Ek is gebore in die tyd toe kaalvoete soos addidas was – ‘n Tyd toe posbusse die e-pos was en die posman op sy fiets die draadlose internet. In ‘n tyd toe alles op die lawn van jou pophuis aangegaan het – behalwe ‘n ‘te koop’ bordjie; ‘n tyd toe kinders kaalgat deur die sproeiers gehardloop het, die bashew trok deur die woonbuurte gery het en mense nog mnet gekyk het.

Ek is gebore in die tyd toe perms nog high fashion was en grootglaasbrille ‘n aksensieërstuk. ‘n Tyd toe mense nog mekaar se huisfoonnommers geken het en mense ontwikkelde foto’s met koevert en brief aan mekaar gepos het te poskantoor en nie airdrop nie. ‘n Tyd toe die ouderlinge kiertsregop gesit het oor Madonna en kollekte kleingeld was en nie EFT nie. ‘n Tyd toe John Travolta almal se Mooimanmaandae was. Rugrat’s cooler was as Stranger Things en Happy meals kinders nog gelukkig gemaak het. ‘n Tyd toe Britney Spears nog musiek gemaak het en Whitney Houstan die wêreld aan haar lippe laat hang het. ‘n Tyd toe Celiné Dion se hart nog aangegaan het en die Spice Girls soos Aromat was – gaan saam met alles. Kougom was nog te koop op rolle en ma’s nog na skool by kafees gestop het vir melk, brood en Wilson toffees. ‘n Tyd toe Kate Moss and Noami Campbell die loopplak oorheers het Volkswagen Cicco’s die Polo’s was.

Ek is gebore in ‘n tyd toe die Tandemuis en sy kollega, Kersvader nog bestaan het en Beatrix Potter boeke nog gelees is.

Ek is gebore in ‘n maand toe die Hibiscus begin blom het – ek is gebore in Januarie. Ek is gebore in die somer. Ek is gebore in die Kaap. Ek is gebore in die vroeë oggendure van Hibiscusmaand.

Sedert ek kan onthou – het ons ‘n reuse Hibiscusboom in ons tuin – soos ‘n toebroodjie vulsel tussen twee snye Bottlebrush. Reuse pienk blomme – elke blomblaar – lyk soos ‘n sagte pienk babakombers wat donker pienk na die middel loop as hul hande vashou om blom te vorm. En dan die mooiste – die stempel wat lyk soos ‘n bossie blomme in sy eie reg – so asof die blom blomme vir die bytjie bring – meer progressief as wat ons mense kan sê – want dis mos gewoonlik die bytjie wat vir die blommetjie blomme koop.

Die Hibiscus blom vinnig – eendag ‘n knop, volgende dag ‘n blom en dan die drom. Aangesien dit my maand se blom is – wou ek al van kleinsaf die betekenis daarin vind – my eie een opmaak. Op my tiende verjaarsdag het ek voor die boom gestaan en kyk na al die blomme wat die aarde vir my gebring het; ‘n blom het op die grond geval. Ek het dit opgetel en begin dissekteer. Die detail het my gefassineer en net daar het ek agter die kap van die byl gekom – of te wel agter die bloei van die blom – die boom wou my iets leer: Elke oomblik in jou lewe is soos ‘n hibiscus – dit bloei vinnig, blom vinnig en val tot die grond – maar die blom is nie die boom. Die mooi is nie eenmalig nie, geluk ook nie – ‘n oomblik gaan nie veraltyd hou nie, maar mooi oomblikke gaan soos Hibiscusse gebore word terwyl jy nog besig is om die vorige oomblik op te hark.

Ek is ‘n Hibiscus baba – ‘n somer baba – ‘n amper millennium baba.

En nou die dag toe ek by die huis kom en ons boom soos ‘n pou sy blomme afshow – toe besef ek, ek verjaar amper. Toe besef ek, met twee dekades agter my naam onder my voetsole, is ek nie meer ‘n tiener nie.

 

Shirley

 

Krismis

Struisbaai

My kinderdae geskink in gemerkte groen koppies
My kinderdae bedek met caramel treat en ouma se sjokolade koek om 11 uur
Maar voor dit strand toe teen 9 uur ruik na suntanlotion (pizbin) en perskes vir op die strand
My kindervoete bedek met sandsokkies en die handdoekie vir die voete in die boot
Nostra draairoomyse met flakes of caramel dips
Springgety en boogie bord
“Swem tussen die lifeguard vlaggies” (mamma aan die woord)
Skulpiewinkel en kleine pienk boekies wat ruik na cheap sweeties
Vrugtetrokke op die lawn voor die apteek
Met spanspekke en waatlemoene en perskes en druiwe en mangoes en litchi’s en gemmerbier
Oupa en sy kabeljou
En ons soos drie weeskinders  een vir een my ouma se kamer soggens binne strompel met kussing en deurmekaar hare en klaasvakie stof in die oë
By my ouma inklim en morning life kyk tot 9 uur
Oupa bring dan nutriday strawberry vir ons elk in die bed met daai kellogs-mannetjie lepels – gesiggies op die handles se glimlagte glimlag vir my klein kloppende hartjie wat gelukkig en te vrede was
Saans het die see mens aan die slaap gesis en soggens die voëltjies mens wakker gesing
My broer was altyd laaste vir aanmeld in ouma se kamer en kon dus nooit langs haar lê
My sussie was meestal eerste en ek was seker tydens die hele vakansie 3 keer gelukkig
Ons pelgrimstogte af skulpie-beach toe
Die vissies vang in die rotspoele en die groot release na almal kom kyk het
Ek onthou die jagtog na seesterretjies om te sê jy het een eerste gewaar
En die soektog na toontjies (pienk skulpies met sulke tandjies- my ouma noem hul toontjies want as die sand jou tone net genoeg bedek dan lyk jou toonnaels soos klein pienk skulpies – kyk maar)
My ma was egter voorsitster van dié vereniging want vir elke 5 wat sy gekry het – het ons drie baklei oor een
Elke dag na die beach was ons na OK vir die bakkery witbroodjie met die lekker taai kors
Middagete met die Lazy Susan en die bord gerasperde gouda en tamatie
Ek onthou die reuk van kaasworsies wat warm word in bietjie water in die mikrogolf
En ouma wat al begin kook aan aandete terwyl ons nog ontbyt eet
Ek onthou die swingball, die reuk van oupa se garage , die ritte in die pad af met sy landrover en tuisgemaakte karretjies
Ek onthou die mooi tuin
Ek onthou die mooi huis
Ek onthou die mooi see
Ek onthou die varslug
Ek onthou hoe die gras en sand onder my size 1 voet gevoel het en hoe grootmens-afbuk-drukkies was
Nagsê drukkies
Ek onthou hoe die lewe van daardie hoogte af vir my gelyk het
En vandag al staan ek op my knieë – is dit nie dieselfde nie
En al breek die branders oor my voete in ‘n ander baai
Is dit nie dieselfde nie
My kinderdae opgeskryf in die Welkom-in-Struisbaai-bord
My kinderdae vasgevang in my oupa se lens
My kinderdae staan op my boekrak in glas en lê verswelg tussen pampoenkies en waaiertjies en ruik na die see
As ek die skulpe teen my oor druk – kan ek vaagweg hoor hoe ek lag in die see
Maar die wêreld van hieraf lyk nog nooit weer dieselfde nie

– Shirley,  24 Desember 2017

Elke kersfees is nie altyd maanksyn en rose nie – elke kersfees is meer skottelgoed in al die beskikbare opwasbakke en gesteelde blomme vir tafelversiering. Maar elke kersfees is die geur van gekookte groente, kalkoen, gammon en tastic rys.  Elke kersfees is die kleur van slaaie en die klink van delikate sjampanje glase, die gevoel van glimlagte en sprankel op jou tong. Elke kersfees word die gesigte in fotorame teen my ouma se mure lewendig. Elke kersete sit my oupa weer saam met ons aan tafel as my jongste niggie die seën vra met sy bekende gebed. Elke kersfees is my ouma uitgepaas op haar uitskopstoel – want dit is ‘n dag se werk om te kook en dan nog te eet ook. Elke kersfees sê my ouma dis die laaste kalkoen gaarmaak – en elke kersfees maak sy hom weer. Elke kersfees is daar een cracker grappie wat homself herhaal – en anders as elke ander kersfees, het ons hom hierdie keer onthou, maar nogsteeds nie gelag nie – by ‘n gebrek aan dit lees met ‘n swaar Britse aksent.

Elke kersfees lê ons vir vier ure en die ete verteer terwyl ons lag oor die jaar en my tannie met al haar opgehoopte data ons vermaak met facebook se Sondag beste: motivational quotes. Ons ruil foto’s uit van ons troeteldiere, gesels oor al die onregte wat kelners met ‘n knippie sout móét neem- die jaar praat ek kliphard saam – en lag oor my niggie en haar “spesiale vriend” soos my ouma dit noem. Volgens my ander niggie is hy nie net spesiaal nie, maar soos ‘n skim in die nag ook en net met die blote oog te sien op foto’s. Toe my tannie my broer vra hoe dit lyk op die meisie-front en hy sê:  “Ag nee wat tannie, ek is nog (huiwer) oraait,” kon die dag maar eindig en ek sou te vrede kon gaan slaap (Ek lag nou nog om die waarheid te sê). Verder gesels ons oor die toekoms, my nefie op die skepe en hoe hy dit regkry dat die meisies almal net vir hom wil kosmaak en sy klere wil was en stryk.  So hou ons makietie totdat iemand lus word vir poeding en dan is dit rondte nommer drie.

Daarna is die tweede span aan diens by die sunlight liquid en dan gaan sluimer almal weer so rukkie in. Ons neem ekkiekies en onsies tussen deur die sluk aan die laaste bietjie sjampanje.

‘n Kersdag ete by my ouma is ook nie voltooid sonder sjokolade wat die hele tafel volstaan en haar aftereight mints. Die beplanning hou ook nie by die spyskaart en die dekor op nie – daarna is dit tubberware beplanning en yskas-ingenieurswese om plek te maak vir al die leftovers wat ‘n huisgesin van vier nog heelweek kan voed.

Kom ons blaai terug tot voor die aansit by die feesmaal: Drie wekkers later slaap ek en my sussie nogsteeds en my ouma het al haar Estee Lauder lipstiffie aan en kort net nog die parfuum. Ek sê altyd: ” I just roll out of bed and show up – flawless like my dreams” So dit was inderdaad too late vir titteweit – so toe spring ek in my nuwe swart nommertjie met die bethlehem sterretjies op en ons verpas toe net net nie die vervoer na die kerk nie. Die tannie langs ons het met elke liedjie die noot ietwat te hoog geneem. Maar die goue randjie rondom dié singende donderwolkie is darem dat ek dié jaar self kon sing – sien, laasjaar was ek nog in denial dat my kykers nie meer gister se oë is nie. So long story short: ek en my bril kon toe sing.

Terug by die huis maak ons toe geskenkies oop. Ek geniet almal se reaksies altyd meer as my eie geskenke. Al is dit net deur woorde – is dit vir my belangrik om dankbaarheid te betoon aan my naastes.

Maar terug by die ete – of nee, skuus. Die ete is al verby. Ons is nou by die padkos-slag

So, voor almal in die pad val kry elk ‘n roomys bak – twee – een vir die oorskiet kersete en een vol tuisgemaakte kerskoekies – hertzoggies en shortbread.

As dit donker word kom die kersliggies weer aan – Stillenag speel op die radio. Die kersboom staan weer sonder sy geskenke-broek. My ouma in die kamer lees haar kerskaartjies, my sussie haar digbundel en my broer lê op sy rug en slaap.

Soos ek wonder watter foto’tjie om te post om die dag te herdenk – sien ek Inge (de Wet) se post op instagram. Kleintyd foto van haar en haar sussie iewers in ‘n ongerepte omgewing agter vaderkersfees (ek vermoed haar pa) aanloop met die inskripsie: “Mag Kersfees vandag voel soos krismis toe ons klein was” – en ja, Inge: Vandag het kersfees weer soos krismis gevoel.

My grootste geskenke vanjaar hoef ek nooit oop te maak nie – en geen tag hoef my te herinner van wie hulle kom.

Dankbaar.

Shirley

ns.  Agtergrond oor die gedig Struisbaai: My Ouma Shirley en Oupa Jan het vir jare op Struisbaai gebly. Nog voor ek gebore is. So uiteraard het ek al my Desembervakansies in die einste see-dorpie deurgebring en lê baie van my herinneringe en kindervoetspore nog daar tussen die duine. Meeste van my kersfese het ek ook daar deurgebring. Na my Oupa se dood in November 2010, het my ouma verhuis na Gordansbaai waar sy tans woon. En al vier ons Kersfees nou nie meer langs Struisbaai se kus en tussen die bekende mure van Seegenot (hul eerste huis) en Seegenot die tweede, voel kersfees steeds dieselfde as dieselfde mense om die tafel sit. Al wat kort is Oupa en die Lazy Susan (O, en die reuse gesin wat van deurklokkie tot deurklokkie loop en ‘n hele kersfeesvertoning gee uit volle bors – ons het meeste jare weggekruip agter die trap)

Kindsbeen

Om klein te wees – ‘n gedagte wat so nou en dan popspeel op die agterstoep van jou geheue. Partykeer is dit so vaag soos die eerste snak na asem na jou eerste swemles, maar partykeer is dit so eg soos die drukkies van jou oupa terwyl jy klein soos ‘n pop op sy skoot sit. En maak nie saak hoe onstuimig die amper-grootmens lewe partykeer mag wees nie, jou kleintydnagmerrie sal veroorsaak dat jy eendag grys en krom steeds na jou hangkas loer – om net doodseker te maak die monster besluit nie om na al die jare weer homself onder jou bed tuis te maak nie.

As kind was die grootste kruispad waarvoor ek dikwels tot stilstand gekom het, die keuse tussen kleinspeel of grootspeel. Kleinspeel het my Barbie- en Bratz poppe in hul pophuis behels, terwyl grootspeel my Cicola (wat ek gedurende my kinderjare aan die dood moes afstaan – het wel ‘n begrafnis gehou met suikervruggies as begrafniskos) en later my Baby Born genaamd, Ruby, behels het. Van doeke omruil, stootwaentjies stoot, klashou, inkopies doen, storieboeke lees – my poppe het beslis ‘n vol lewe gelei.

En dan natuurlik – die softtoy obsessie het al seker reeds in die baarmoeder pos gevat. Vandat ek kan onthou het ek ‘n pienk piglet gehad. Die piglet het ek orals rondgedra en soms (maar selde) het ek my aandag verdeel tussen my Piglet, Pippie Langkous en my Barney (sag en pers). En soos enige klein dogtertjie van die neëntiger jare – het ek ‘n Raak-verbode-porseleinpop besit. Uitgesoek om min of meer dieselfde gelaatstreke as ek te hê- bruinhare met groen oë en ‘n olyfkleurige vel. Maar natuurlik het my vingers gejik en een Saterdagoggend (toe my ma nog in dromeland was), het ek Cindy vir die oggend van haar vertoonrakkie ontslaan. Ek en Cindy het skaars die tweede kosyn in die gang bereik, toe haar been (volgens my) net eweskielik gebreek het, maar wat werklik gebeur het, het ek destyds nie vir my ma vertel nie en intussen vergeet. Maar vandag pronk Cindy nog ewe mooi op my vertoonkas – niks wat kouelym (poppe gips) nie kan herstel nie.

En dan natuurlik die Tandemuis, Vaderkersfees en al die ander wolhaarstories wat ouers met goue gare voor hul kinders spin: die het in my sesde/sewende lewensjaar die stopstraat bereik. Die hele episode het afgespeel skuins na 12, die aand van my eerste tandwisseling. Die tandemuis het ewe pligsgetrou opgedaag, maar weens my natuur (dit is nou natuurlik die geneigtheid om my skoene en klere op die kamervloer te strooi – iets waaraan ek vandag steeds werk), het die tandemuis oor ‘n paar Buccaneer skoenskoene geval en ‘n aardige geluid gemaak. Ek het natuurlik wakkergeskrik en weens my fobie vir die donker, was my ma in al haar tandemuisglorie in die helder buitelig gehul – en die fabel se deuntjie het doodgeloop. Die volgende oggend toe ek hierdie katastrofiese gebeure ontleed het, het Vaderkersfees ook soos ‘n reënboog verdwyn – eweskielik. Kersfees en tandwisselings was dus makliker aangesien wensbriefies nou met ‘n bypassende gesigsuitdrukking gepaard gegaan het, net om die besluitnemingsproses so ietwat aan te help.

Om ‘n kind te wees beteken jy ruik en eet die koekies voordat jy die kalorieë agterop lees. Dit beteken Dirkies (alle 90’s babas behoort hierdie gegeurde kondensmelkbuisies met ‘n keppie dekseltjie te onthou) is steeds te koop in Friendly. En natuurlik was geen Dirkiesbelewenis voltooid sonder dat jy die mure toffietaai gevat het nie. Om ‘n kind te wees beteken Sewende Laan was die enigste grootmensprogram wat ouderdomsgeskik was, dit beteken ‘n bakleiery oor wie eerste in die aand gaan bad, kuiertjies van ouma en haar karamelsjokoladekoek (en ouma wat onverpoos soek na die versiersuikerdief – my broer was reeds voor enige verhoor skuldig bevind), oorslaappartytjies en kaskarkenades. Om ‘n kind te wees beteken om bloot aan te trek wat skoon is, om gedurig herinner te word om ‘n baadjie saam te neem vir die koue aandluggie, swart skopfietsies wat die bure teen die mure uitdryf tot nerf-af knie te ry, aarbei Nesquick voor slapenstyd, ‘n prentjie Bybel en opsê gebedjies.

Babalela en die Boenk, Winnie the Pooh, Sneeuwytjie en Raponsie, die varkies en die drie beertjies, prinsesse en ertjies en reënboë en ‘n muis met ‘n trekklavier. Om ‘n bokstertbogsnuitertjie te wees beteken dat die karakter populasie in jou verbeelding dié van die werklikheid oorskry. Biebie, Kalla en Vlooi, Flappie, Wilma, Wim, Ma en Pa – almal bewoners van dié verbeeldingswêreld. ‘n Woonbuurt met huisies wat lyk soos dié van Gaudi. Met ondergrondse tonnels na Peter Rabbit, Tom Kitten en Jemima Puddle Duck. ‘n Sprokieswêreld wat die grysstof van ouer garde nie kan betree nie, want ons het almal reeds die sleutel tot onskuldigheid lankal langs die kronkelpad verloor.

Shirley