the gentlewoman

“en wie spoel dan uit in die woorde?

wie se skaduwee spoel uit die stilte?

soos ‘n lyk op papier

terwyl jy aanhou beweeg agter die woorde aan

met jou sakke vol klippies

om die ewigheid in te haal

en te stenig sonder

om ‘n wêreld se geraas te maak?

aanhou doen dan

om nie te verslib in skreeuende stilte nie”

– breyten breytenbach

Althena Malgas   Alyssa Botha   Amber Strydom   Amy Biel   Andiswe Zweni   Aneeqah Fakier   Anene Booysen   Angela Marinus   Angelique Clarke-Abrahams   Angelique Harmse   Angelique Vanessa Pattenden   Anika Smit   Anisha van Niekerk   Annatjie Myburgh   Anne Marie Aylward   Anne Roebert   Annette Kennealy   Anni Dewani   Ann-Mari  Wapenaar   Anthea Thopps   Antoinette Botha   Anzunette du Plessis   Arina Muller   Ashika Singh   Avlwe JamJam   Babongile Nzama   Baby C   Baby Jordan Leigh Norton   Beryl Lamberth   Bongiswa Majikijela   Brenda Fairhead   Brenda Rwando   Busiswe Busi Ngwadla   Cameron Britz   Cara Austen Jenkins   Carmelitta Baaitjies   Carol Fabriek   Carol Pienaar   Caroline Jacobs   Catherine Krog   Cathy Purdon   Cecile Potgieter   Cecile Smit   Celeste Smith   Celine Cowley   Ceri Duvenhage McCrae   Chanel de Toit   Chanelle Henning   Chantelle Borcher   Chantelle Matthysen   Charmaine Cannings   Charmaine  Mare   Charmaine Piers   Christel Steenkamp   Courtney Petersen   Cyntheria Rex   Danel Rooskrans   Daphne Mavis Higgins   Dawn Basedeo   Denise Gawler   Denisha Govindasamy   Edwina Thomas   Eileen Allister   Elaine Conradie   Elaine Venter   Eleanor Wyngaardt   Elizabeth Jacomina Dercksen   Elize Juries   Elmien Steyn   Elsje Wouda   Elzona May   Emma Wall   Erika Croeser   Ernestine van Wyk   Esmeralda Isaacs   Evangeline Brockman   Eureka Human   Faith Qwelane   Fatiema Ebrahim   Fatima Patel   Felicia Oktober   Fezikile Ntsukela Kuzwayo   Fiona Harvey   Franziska Blochlinger   Frieda Arendse   Gabisile Shabane   Gabriela Alban   Gail Benting   Gail Stokell   Genoveve Assegaai   Georgia Blume   Geraldine Vienna   Gil Packham   Gina van der Merwe   Gio Arendse   Gwen Wall   Hannah Cornelius   Hansie Visser   Helen Fanaroukis   Helen Janse van Vuuren   Helen Lotter   Helga van Wyk   Henriëtte Phillips   Hester Rawstone   Hester Wessels   Hettie Niehaus   Hilary van Rooyen   Hilda Uys   Hope Zinde   Ilse Barge   Ina van der Berg   Inge Lotz   Isabella Maria Henry   Itumeleng Julia Tsenase   Jade Inggs   Jana van Zyl   Jana Venter   Jandy Pestana   Janet Delport   Janet Scott   Janet Verity   Janine Arendse   Janine Drennen   Janika Mallo   Jayde Govindasamy   Jean Mark   Jill Fernandez   Joan Anderson   Joan Horn   Joan Mark   Jo-anita Schulz   Johanna Charlotte Beangstrom   Jocylin Jolly   Jodene Pieters   Joey van Niekerk   Jolandre Tolli   Jopie Durieux   Joyce Baardman   Joyce Denise Irwin   Julia Fairbanks-Smith   June Nefdt   Karabo Mokoena   Karien Bezuidenhout   Kathleen van Coppenhagen   Kayla Meyer   Kayla Rawstorne   Keelyn Amy Clayton   Keisha Kortjie   Kelly Bain   Kia Fairhead   Kim Lemini   Limeera Rajbunsi   Kungawa Mazembi   Lauren Sleep   Leah Merchant   Leanor Lambert   Lebo Kwababa   Lebogang Lemola   Lee-Ann Palmarozza   Leigh Matthews   Leslie van Zyl   Liesel van der Linde   Liesl Bredenhann   Liesl Nel   Lindiwe Mangxingaza   Lindsay Boyd   Lithemba Jama   Lorraine O’Connell   Lorraine Shepheard   Louise de Waal   Luisa Cristiano   Lumka Payita   Lyn Rush   Lynette Volschenk   Lynne Johnson   Magda Harington   Makhozi Manyayiza   Mandy Mesias   Manene Cairns   Manuela Pietropaolo   Margaret de Goede   Maria Adamson   Marie Ostbo   Marian Bruwer   Marietjie Meyer   Marietjie van Rheede   Marike de Klerk   Marilyn Moses   Maritza van der Merwe   Marna Engelbrecht   Marshay Louw   Meghan Cremer   Melinda Lee Bam   Melissa Heinse   Melissa van der Merwe   Mercia Kotze   Michaela Adriaanse   Michelle Nyumba   Michelle Raymond   Miemie Bergh   Minah Kinnear   Mishka Petersen   Mitashja Lee   Mundolene Venter   Mundolene Vosloo   Mymie Fraser   Nadia Strydom   Naledi Chaka   Naledi Lethoba   Nandipha Phama   Naomi Barkhuizen   Natasha Mans   Nicky Blume   Nicola Pienaar   Nicolene Kroese   Nikita Govindsamy   Nikita Lewis   Noeline Koekemoer   Nokubonga Msolwa   Nolundi Vumsindo   Nompumelelo Nomcebo Basi   Noxolo Xabeka   Ntombi Siphungu   Poppie van der Merwe   Portia Michaelis   Pralenie Reddie   Privilege Mabvongwe   Rachel Dolly Tshabalala   Rachel Saunders   Reeva Steenkamp   Refilwe Masakala   Reinette Vorster   Rejoice Mdluli   Renate Kellerman   Rene Roman   Rene Slater   Rene Vermeulen   Rentia de Wet   Ria Oosthuizen   Riana Louw du Toit   Rina Pringle   Robyn Pearce   rochelle Fourie   Rosa Piel   Rosalie Bloch   Rowena Murray Brown   Roxanne Higham   Rozel Botha   Rubeena Booley   Sadieka Newman   Sakina Grimwood   Samantha May   Sandi Jacobson   Sandisiwe Mona   Sandra Forson   Sharon Potgieter   Shayleen Arendse   Sheila Marais   Sheila Margaret Stander   Shelly van der Walt   Siam Lee   Simni Mfengu   Sinoxolo Mafevuka   Sonja Swartz   Stacey Adams   Stacha Arendse   Stacy-Leigh Philander   Stefani Gouws   Stephne Evans   Susan Abel   Susan Howarth   Susan Rhode   Tamsin Garth-Davids   Tamsyn Verity   Tatum Louw   Tebogo Ndlovu   Tercia Kindo   Tersia Coetzer   Thandiwe Mavanene   Thelma Shirley Koopman   Thembisile Yende   Theresa van Breda   Tracy-Lee Scott Crossley   Uyathandwa Stuurman   Uyinene Mrwetyana   Uzelda Slatter   Valencia Farmer   Vanessa Barends   Veronica Thomas   Veronica Uitenbogaart   Versha Kandasmy   Verusha Padayachee   Vicky McLachlan   Victoria Stadler   Viwe Dalingozi   Vuyokazi Poppie Jane van Wyk    Wilma van Tonder   Wilma Viljoen   Winnie Rust   Yadhana Jadoo   Yolanda Cupido   Yolandi Badenhorst   Yolizwa Sibiya   Zahnia Woodward   Zanele Dumela   Zanele Khumalo   Zarah-Jane Hector  Zelda van Niekerk

en al wat oorbly is lyke op papier.

 

Die dooie kan nie teruggeprop word in die leemte van die lewe se lyf nie. Ek sukkel om die leegte wat ons lewe in Suid-Afrika noem, te verteer. Hoeveel nog, voor die sterre se oë begin traan en die hemelruim kaal staan?

Die maan is die geheue aan vrouwees – maar die maan, sukkel deesdae uit sy sekel om vol te word.

Vanaand is ek intens bewus van hierdie lyf. Log, soos dit deur ruimte beweeg met ‘n slak se ongemak. Bang om in die spieël te kyk  – my as vrou te herken wat die nag (dag) oorleef het – my as Anene te herken – my te herken as Hannah –  te herken as Meghan –  herken as Uyinene – ken as dood – as moord.

Hoe nader jy kom aan ‘n einde hoe verder sién jy – of is dit maar net dat jy moet aanhou kyk oor jou skouer om jou oë nie toe te maak nie?

Ek dink my hul laaste oomblikke in – wat nou bloot aan liggaam uitgewys word, maar nooit weer bewys kan word nie.

In ‘n samelewing waar moord en verkragting opgedroom word deur die jeug so asof dit ewe maklik is as die skink van ink in teks – met die vrou as embleem van die misdaad – rol daar ‘n traan oor die wang van die vrou in die kraamsaal toe die vroedvrou vir haar sê dis ‘n dogtertjie.

Soos ek die hospitaal verlaat deur dieselfde deure waar nog ‘n jong vrou die vorige dag gekaap, genaak en verkrag is – groet ek my mense in my gedagtes, net vir ingeval.

Dis tyd om te ontwaak uit ons woordstilte. Dis tyd om die boot in the water met die skeepvrag gepekel met kanne en kruike en kratte vol name van slagoffers – die diepsee van aandring op verandering, in te laat vaar. Want vrouens is moeg vir die ween van die wind om die wrakke. 

Mans – ek sê weer – julle moet kom help hier waar daar werk is vir vele hande om die dood by die deur af te keer en op te fok.

Want ek is bevrees(gevange), hier waar die see die rotse soen, het ‘n ou skoen vol water uitgespoel – en it’s indeed a long walk to freedom.

 

aanhou doen dan om nie te verslib in skreeuende stilte nie

 

Shirley

 

(Opgedra aan al die vrouens wat hul lewens verloor het bloot omdat hul vrou is)

 

Sans

– sonder

 

Hulle elkeen staan daar – soos ‘n voetnoot onder die onleesbare bladsy geskiedenis.

Staan daar met hul penne sonder ink, met hul reënverweerde kartonbokskante en vra om kos, vra om werk, vra om skuiling en bedank die Here by voorbaat. Hulle elkeen staan daar – Sans. 

Die verkeerslig slaan groen en ek versnel sans om ‘n vyfrand te laat klink in die leë tamatiesmoor blikkie. Sans oplossing. Avec (met) frustrasie.

Het iemand koffie oor hul lewensverhale gemors en die ink laat vloei; of het die pen opgedroog; of het ‘n kind met vetkryt die toekoms bekrap? In watter hoofstuk is die plot verdraai? Het die dwelms en drank eerste gekom of is dit eers gebore in die strate? Het hulle alle familie-lede se telefoon nommers verloor of het almal nuwe simkaarte? Of is dit bloot net dat die gebruik van please-call-me’s gestaak is?

 

Die oggende wat ek deur Boston kampus toe ry – rys die bedelaar bevolking soos vetkoekdeeg in die lou oond. Gaargebrand, uitgeteer soos snoekgraat en uitgespoeg op die straat. Elk sing min of meer dieselfde deuntjie en ek en my mede motoriste met ‘n bestemming aan stuur van óns reis – was ons hande in onskuld – in ons verdediging – waarin moet ons dit was – as al die landswater reeds deur armoede besoedel is en as die drol in die drinkwater ‘n staatsgeheim is?

My oë lees die permanent marker op sy karton: “Help asseblief met kos en werk. Die Here bedank u.” Daarna lees my oë ‘n politieke party se blinkgedrukte “Let’s build South Africa together” langs ‘n man wat breed glimlag in pak en krawat. En ek sidder om te dink waarvoor die here my bedank?

Die lig slaan groen en ek versnel tot die volgende stilstand langs nog ‘n prototipe; langs nog ‘n plakaat wat Suid-Afrika propageer as die tuin van eden. Die keer man en vrou – kaalgestroop soos Adam en Eva – en ons almal bewus van hul naaktheid versnel voort in ons gekleedheid.

In die wegdraai – draai ek my kop – en dis toe toe ek die paar ogies tussen die vrou se bene vir my sien loer – Hongerogies.

Ek ry verder, op pad kampus toe, op pad om nog babas in armoede in te help, om nog babas huistoe te stuur met die skyn bate van ‘n child-dependancy grant. Om nog siek-briefies uit te skryf dat die skool sal verstaan waarom sy al vir ‘n week wiskunde misloop.

Wat staan ‘n mens te doen? Gee jy ‘n stukkie brood? ‘n Slukkie water dalk? Of kleingeld met berisping daarby?

Wil vir my voorkom asof die Here nie vir almal opgestaan het nie –

Die kat se blad

Die kat se blad – lek dit nat dan weet jy wat.

Ek wil nou nie op tone trap of soos klein klippies in skoene wees nie, maar ek is amper net so moeg vir al die amateur raadgewers op sosiale media soos vir die Harcourts-eiendomsagent wat my elke dag om elfuur bel en vra of ek “my” huis in die mark wil sit.

Om die waarheid te sê – finished soos ‘n staysoft-bottel wat maandeinde al drie keer gedilute is met kraanwater vir nog ‘n bondel wasgoed.

Sosiale media, hetsy die platform, Instagram, Facebook, Twitter (gebruik iemand dit nog – naas Trump en Zille nou) of selfs ‘n blog is – bly ‘n fantastiese platform om kwessies aan te spreek, inligting te deel, wêreldnuus mee te versprei, opvoedkundige punte aan te raak, deel te neem aan gesprekke rakende (kontroversiële) kwessies, stokperdjies mee te deel, resepte aan te stuur of selfs net ‘n private dog publieke foto-album te skep.

Alhoewel deesdae het ek al ‘n paar kleintjies dood aan diegene wat die platform heeltemal misbruik. Diegene wat dag in en dag uit lewendige stories maak van hoe hulle besig is om ‘n pakkie in die pos oop te maak – alhoewel ons almal reeds op die ouderdom van drie instinktief weet dat ons ‘n knoop net met twee hande en meeste vingers los kan maak. Diegene wat heeldag die nuutste gesondheidseise maak en dan oor ‘n maand hulself weerspreek met ‘n nuwe een. Diegene wat altyd voor in die koor is om die volgende millennium-hype se lof te besing. Diegene wat hul lyf dieetkundige, dokter, prokureur, joernalis, sielkundige en nimmer eindige hoeveelhede ander profesies hou.

Dit alles terwyl sekere mense jare lank gaan swot het of besig is om te swot – nie gratis nie, maar met ‘n string lenings agter hul naam nog voor enige sente hulle kante kom. Terwyl laasgenoemde by professionele liggame soos die HPCSA onderandere geregistreer is – reeds as studente – wat dus nie net sekere stellings kan maak indien dit nie op gegronde, nagevorsde feite (evidence based research) geskoei is nie.

Die leek verstaan dikwels nie – dat indien mens as ‘n professionele persoon sulke stellings maak wat iemand moontlik in een of ander manier leed aan kan doen – dat mens gedagvaar kan word en mens se loopbaan wat skaars begin vorm kry het, in die drange geplaas kan word. Maar in tussen sit Sannie in haar woonstel in Kloofstraat en praat met haar foon sonder om te blik of te bloos. Nie met ‘n mens in lewendige lywe nie, nee – met die vyftig duisend volgelinge wat almal al te graag luister net soos ‘n hond wat vir ure voor die spieël spring en blaf sonder om te besef dis hulself. Maar so ploeter ons voort as blindes met die Eenoog as koning – en vreet alles vir soetkoek op – min wetend dat vanaand se gluten free koek môre-oggend nou gluten in het maar genadiglik eggfree is.

As vrywaring wil ek dit ook net duidelik maak dat ek weet dat baie mense inligting deel wat wel op navorsing gebaseer is en wat wel bleik om die waarheid te wees (niks is tog absoluut nie, sekere dinge sal altyd ‘n veranderde kuns bly); en tweedens sal ek myself weerspreek as ek nie te kenne gee aan die die feit dat inligting en die vrye toegang daartoe beslis mense bemagtig om goeie keuses uit te oefen – ek meen bloot dat mense moet onthou dat die leek alles sal glo wat hul op die internet lees – en daarom is dit belangrik om hul te laat glo in waarhede. Ek besef ook ‘n derde ding – dat die onkunde dikwels wederkerig is en dat dit nie gedeel word met die bedoeling om onakkuraat te wees nie.

Dit is dan ook so dat sekere kwessies wel deur gekwalifiseerde persone behartig moet word. Mens sal graag wil glo dat mens net iets kan google en jouself kan genees van alle kwale en skete- maar daar is egter ‘n rede waarom diegene wat wel in sekere rigtings in spesialiseer dit doen en waarom Universiteite dit noodsaak om dit as kursusse aan te bied.

Ons het almal die reg tot vryheid van spraak, die reg tot vryheid van uitdrukking, die reg tot inligting – maar ook die reg om nie mislei te word nie so daarom – ter samevatting – deel met diskresie, deel binne perke en neem alles wat jy lees met ‘n knippie sout.

Nog iets wat my geduldgraatjie staan en uitraffel is dié wat skyn mindfulness nastreef op hul instagram accounts – maar vir die volle uur van die hike sal hul besig wees om met hul foon te praat en vir Candice in die Paarl te vertel en te wys oor hoe goed die klank van die voëltjies nou vir hul gemoed is – terwyl al wat ek hoor die gepraat met ‘n foon is wat die stilte ontwrug en spreek dit nie tot mindfulness nie, maar eerder tot ‘n mind full van hulself en hul foonverslawing en hul skyn insta-fame en alles behalwe teenwoordigheid.

Jy kan die kat se blad natlek – maar ek is bevrees jy gaan nie weet wat nie. Laat die kat maar homself natlek as hy glo hy is vuil.

Ns. Laaste ding – moet asseblief nie deel hoe en wanneer jy bowel movements beleef nie – vertel dit vir jou dagboek, ma of dokter.

 

Shirley

 

 

Dit is die taal van my hart

Ek wens vandag my taal kon vir haarself opstaan en ‘n interdik kry teen al diegene wat haar misbruik. Al diegene wat haar kaaluittrek. Al diegene wat haar saam met die vuilwasgoed op die draad hang vir die duiwe om op te kak in die verbygang. Al diegene wat haar die spaghettihaarmop maak om die gemors agter hulle op te mop. Al diegene wat haar fop en omdop op haar kop totdat sy soos Vreemdeling in Jerusalem in ons Universiteite rondloop, saam met die potte saans in die kombuiskaste gebêre word om saam met môre aand se kapokaartappels opgekook te word – die rou uit haar uit te bak – stadig oor lae hitte – bewaar net jou siel  as jy vergeet om te onthou dat jy mashpotato saans (saam met jou bangers) eet en nie kapokaartappels nie.

Ek dig in my taal. Ek ontsyfer trane in my taal – of die tande wat jy vir my wys. Ek slaap in my taal en vleg nie-fiksie sprokies in my brein met mense sonder figure, dae sonder ure. Ek huil in my taal. Ek wys mindervinger in my taal. Ek is lief in my taal. Ek word gelief in my taal. Ek skinder in my taal en bak poetse in my taal teen 180 grade. Ek eet in my taal. Ek breek appelkose oop in my taal. Ek groet in my taal. My taal kleur die buitelyne van ‘n blindeman se ervaringsraamwerk in – met oorgawe en oor die lyne. Ek is grootgemaak in my moedertaal wat my eerste woorde, sinne geborsvoed het.

Maar my woorde word gereduseer tot die taal van die onderdrukker. Die taal van ‘n rasis – en ek en my taal word voor die hof uitgedaag, sonder regsverteenwoordiger, sonder stem, waar ons verhouding op die keper beskou word – gevonnis word – opgesluit word.

As ek wou vloek in my taal – kon ek. So ook kan ek dit doen in Engels, Xhosa, Duits of elke ander taal. As ek wou haatspraak in my taal – kon ek – so ook in Engels, Xhosa, Duits of elke ander taal. As ek rasisties wou wees in my taal – kon ek – so ook in Engels, Xhosa, Duits of elke ander taal. As ek wou seermaak in my taal, kon ek dit ook doen – so ook in Engels, Xhosa, Duits of elke ander taal. Maar ek kies om sonsondergange te vertaal van natuurbeeld tot woord.

Om iemand te takseer op sy baadjie is verkeerd – maar so ook om die baadjie te takseer op die draer. Ek ontken nie die verlede en die feit dat my taal die onreg aangedoen is om as tolk die Apartheidsera aan die gebroke nasie te verkondig nie. Om saans die propagande te lees op die sewe-uur nuus of om op bankies en kleedkamers se deure mense te verdeel nie.  Maar taal diskrimineer nie teen die monde wat haar kou en verteer nie. Sy is bloot die verf – maar ons as die skilders kan met haar maak en breek soos ons lus kry – ons kan besluit om net gedrogte te skilder met uitsluitlik swart en navi blou  gemeng met rooi tot ‘n bruinwarboel. Of, ons kan besluit om granaat met tulp te skilder, dubbelreënboë oor oopvlaktes en bokbaaivygies. En dan natuurlik – kan ons besluit watter van dié twee kunswerke ons in ons leefarea gaan ophang.

Maar asseblief – kan ek net dig – dit het fokkol met politiek uit te waai.

Shirley

 

 

 

 

Menskleur

Menskleur 

Toe ek klein was het ek geleer tel tot tien 

ek kon my naam skryf 

en van 

En moes show en tell mondelinge opsê

oor my gunsteling barbie 

die een met die sagte hare 

Ek kon mooi teken 

en my prentjies was gevarieërd 

Van klein na groot en vet en maer 

Van honde en katte en voëls in vlug 

Maar as ek my maatjie gevra het vir die menskleur uitdraaikryt 

Het sy oorgeleun en een so tussen geel en wit aangegee – 

en as sy my gevra het, 

het ek dieselfde een teruggegee 

Die glimlag gesiggie het ek wit ingekleur 

Teen die swart agtergrond – die teendoek 

vir die die off-white maan 

Ek is jammer 

Vergewe my 

Ek was klein 

dom  – Shirley 

Ek is skoon angstig om te begin skryf – ek is bang ek sê iets krom en skeef. Ek is bang ek trap op tone of dat my woorde soos deur ‘n vervalsde gebaretaal-vertaler verkeerd oorgedra word aan die dowes. Kom ek verdraai die idioom – en durf die brokkie skryfwerk aan as eerder dooie Jan as bang Jan.

Ek is ‘n sogenaamde freeborn – met ander woorde: ek is gebore na 1994 – vier jaar om presies te wees. Al het ek nooit die lug van ‘n Apartheid Suid-Afrika ingeasem nie – asem ek steeds elke dag die lug van apartheid in.

My kennis van die politiek strek nie verder as wat my neus lank is nie – en glo my – my neus is nie baie lank nie – inteendeel – dit was meer soos ‘n afterthought gedurende my brouery – ‘n prestick neusie. Maar dis nie die punt nie (verskoon my dat ek altyd ‘n enkel punt in drie moet verander – en dan die werk van die ellips ook sommer doen – verwoord wat die ellips aandui) Maar in ieder geval om terug te kom na die punt wat die punt was: Ek gaan nie praat oor politiek nie- ek wil praat oor die mens.

Die mens wat rasse skep binne in die einste spesie waarbinne ons onsself bevind – op grond van velkleur – net dit. Die vel is ‘n wonderlike orgaan – moenie my verkeerd verstaan nie – maar wow, het ons as mensdom so dom geword dat ons vergeet dat onder daardie laag vel – daar miljoene drie-dimensionele strukture en organe en sisteme wat die mens vorm, lê. Bygesê velkleur – dis selfs ‘n laer een – dis bloot pigment – bloot een van die komponente van die vel as sulks. Hoe durf ons die mens reduseer tot net sy vel, oftewel net die kleur daarvan- dan is die taalsweisers – wie ook al dit was – al die tyd reg – die mens is inderdaad dom – dus mensdom. (Geen toeval die die diere hulself verleen aan die diereryk – anders as ons mense in ons domskap maak die diversiteit in die dierekoninkryk hul inderdaad ryk).

Die een blom kry nie minder sonlig omdat hy rooi is en die ander een oranje of geel is nie – die son skyn en die blomme groei – nou waarom dan nie ‘n plekkie in die son vir elke skakering vel gun nie.

En dis lankal nie meer ‘n stryd van die verlede nie- dit is ‘n stryd van die hede: daar is diegene wat vasgevang is in dieselfde denkpatroon van destyds – die een dink hy is beter en die ander een wil wraak neem of op hul loure rus – deur goed net te ontvang, betaal deur die swaarkry van hul oupas en oumas, pa’s en ma’s. Die onregte van die verlede kan beslis nie ontken of misgekyk word nie – dit is daar – maar dit staan soos ‘n wit olifant nog al die jare in die vertrek – almal maak die olifant gemaklik in die vertrek al druk dit alle ander lewe en meubels plat – maar niemand dink aan ‘n plan om die deur van denke net so ietwat te verbreed dat die olifant kan ontsnap en ons kan asemhaal.

As die opvoeding van kindsbeen en nie adolosentbeen verbeter kan word – kan alle kleure beentjies saamgroei en teen die tyd dat hul uitgegroei is – ewe lank staan. As ons gaan aanhou om die storie se slot te lees voor hoofstuk een – gaan ons reeds die ontknoping verklap het en te lui wees om die boek te lees – want ons dink ons weet wat gebeur – maar doen is werklik?

En al kan ons as die gepeupel nie die besluite namens die hoë bome maak nie, kan ons praat oor ons verskille – om net te verstaan – miskien is die kleur dan nie so vreemd as jy dit wel ken nie. Leer jou kind dat die menskleur nie net daardie wit roomkleurige een is nie – maar ‘n spektrum kleure – leer jou kind dat hul getekende figure net werklik mens kan heet as hulle twee of meer kleure neem en meng.

Ek wens vir ‘n dag waar dit ouky is om na iemand te beduie as die swartman met die rooi hemp aan of die wit vrou met die pienk rok aan as jy ‘n vir ‘n mede-kelner beduie waar om die kos neer te sit- hoekom is ons so bang vir die kleur – as ons kleure van klere kan identifiseer – waarom byt ons op ons tong elke keer as ons die kleur van velle noem. Dit is daar – mens kan dit nie miskyk nie, maar as mens dit noem bloot oor wat jy sien en nie omdat jy enige gevoelens daaraan heg nie- hetsy dit haat, vrees of ‘n meer- of ‘n minderwaardigheidskompleks is, dan is dit doodnormaal. Die byvoeglike naamwoord – wit, swart, bruin, lig, donker, olyf kan mos nie dieselfde waarde dra as die naamwoord wat dit beskryf nie- die persoon wat dit beskryf – dit is beskrywend maar dit maak nie van daardie persoon minder van ‘n mens nie.

Die lewe is al klaar te: Jy is te maer, of te vet, jy is of te slim of te dom, jy is of te kort of te lank, jy dra te veel dieselfde jean en moet te veel keer vra: Skuus, herhaal gou, ek het nie gehoor nie – waar gaan ons, of eerder waar wil ons eindig as ons nog moet spartel oor of ons te wit of te swart of te bruin is. En ek verstaan – almal is te gelukkig in hul gemaksone dat niemand te veel of te min wil doen nie – maar doen ons ooit genoeg? Doen ons ooit genoeg om die persoon oorkant ons werklik te sien – kyk ons ooit mense nog in die oë en loer deur die gordyntjies wat voor hul siel hang – ongeag die kleur van hul baksteen mure.

En ja – miskien is my woorde ook niks meer as net nog een van die miljoene verlore opinies op die internet nie- maar ek is net moeg daarvoor om soos ‘n wimpy chippie getel te word.

Dit voel al meer of die wenslysie vir die wêreld vir ons kinders eendag al langer word – langer as die lysie kersgeskenke wat ek destyds aan Vaderkersfees uitgemaak het. Hoe langer ons in hierdie lugkastele van ons woon waar ons dink alles is altyd klopdisselboom – hoe hoor skuif liefde by die lys van bedreigde spesies op – en ‘n mens sonder liefde is soos ‘n renoster sonder ‘n horing. ‘n Olifant sonder ivoortande. Lente sonder blomme. Die see sonder sand en ‘n boot sonder water om op te seil.

Die mens sonder liefde is soos ‘n Kersboom sonder die Bethlehemster.

Shirley

 

 

jou ma glo jou nie

“Daar is sekere dinge

wat ‘n mens kan vergewe en vergeet

dan is daar sekere dinge

wat jy altyd moet haat en onthou

ek dra swaar aan my ma

sy’s die een wat my nie gekies het nie

sy’t gesê dis fine

en as jy ‘n dogter is en jou ma glo jou nie

kan die Here afkom aarde toe

en vir jou ‘n kroon op jou kop sit

dit sal fokkol beteken nie

jy is die dogter

en jou ma glo jou nie” – daar is sekere dinge, ronelda kamfer

 

“Jy bly stil want jy is skaam en dit voel vuil. En hoe langer jy stilbly, hoe skamer word jy.” – Dis ek, Anna.

Onlangs het die aanskou van die film wat op die gebeure van Anna Bruwer se lewe gebaseer is, my koud gelaat. My brein is gans te klein om te vergryp hoe – hoe is dit moontlik? Hoe gebeur so iets – en hoe vind dit ongesiens onder die kleed van die nag plaas? Hoe?

Die woord Pedofiel is afkomstig van die Griekse woord “pedophile”. “pedo” beteken “kind” en “phile” beteken “liefde”. ‘n Pedofiel is dus ‘n sogenaamde “kinderliefhebber” wat seksuele bevrediging uitsluitlik by kinders verkry.

Die oortreder se voorkeur kan homo – of heteroseksueel van aard wees. ‘n Pedofiel is verder ook iemand wat as kind steurnisse in normale seksuele ontwikkeling ondervind het en daarom seksueel ontoereikend ontwikkel het.

Pedofilie kom voor onder mans en vrouens, maar die verskynsel kom meer algemeen onder mans te voorskyn. (Pienaar en De Swardt, 1989:44; Petropulos, 1987:201)

Daar word onderskeid getref tussen verskillende tipes pedofiele: Gefikseerde pedofiele is ‘n oortreder wat reeds vanaf adolesensie ‘n bepaalde gedragspatroon handhaaf. So ‘n pedofiel is oor die algemeen ‘n alleenloper en word nie seksueel geprikkel deur volwassenes nie. Aangetrokkendheid tot jong kinders is die gevolg hiervan en daardeur beleef die persoon ‘n herlewing van sy/haar jeug. Die persoon wen kinders jonger as 12-jarige ouderdom se vertroue en na dié ouderdom vervaag die aangetrokkenheid. Dit is verder uit my navorsing ook opvallend dat die meeste van hierdie pedofilie-lyers self as kind gemolesteer is.

Naas bogenoemde kry mens die sogenaamde regressiewe pedofiel: Dié persoon kan ‘n huwelikheidsmaat en gesin hê. Die oortreder se huwelikslewe is vir hom ontoereikend en hy wend hom tot kinders om sy drang na mag en gesag te bevredig.

Verder word pedofilie onder verskillende optredes geklassifiseer:

Die sjarmante pedofiel: Hierdie sjarmante heer gaan te werk deur ‘n goeie verhouding met sy slagoffers aan te knoop. Die persoon is dikwels ‘n familielid (oupa, oom, pa, stiefpa, neef) wat jongelinge met komplimente, geskenke en aandag omkoop. Die persoon sal nie skroom om bloedskande te pleeg nie.

Die ontoereikende pedofiel: Die pedofiel ontmoet sy slagoffers op openbare plekke en molesteer hul dikwels eenmalig. Hy knoop dikwels ‘n verhouding met ‘n vrou aan om haar as sleutel te gebruik om die vertroue van haar kinders oop te sluit. Bloedskande is ook ‘n deur wat so ‘n persoon met ‘n glimlag oopsluit.

Die sadistiese pedofiel: Hy verkry seksuele bevrediging deur geweld. Die oortreder kan die kind ontvoer en selfs vermoor.

Pedofilie vind in verskillende fases plaas:

  • Aanknopingsfase: In hierdie fase kruis die pedofiel en die slagoffer se paadjies vir die eerste keer en vind verleiding plaas.
  • Seksuele interaksiefase: Hier geskied seksuele aktiwiteite insluitende onwelvoegende betasting, ontbloting en gaan dit meestal oor tot gemeenskap of afwykende seksuele gedrag. (Jong kinders se samewerking moet nie met toestemming verwar word nie.)
  • Geheimshoudingsfase: Die pedofiel maak van belonings of dreigemente gebruik sodat die kind sal stilbly. Daar word op die kind se gevoel gespeel en die kind word oortuig dat hy/sy die vark in die verhaal is.
  • Onthullingsfase: Die mishandeling duur dikwels ‘n geruime tyd voort voordat onthulling deur middel van hulpkrete, betrapping of ‘n swangerskap aan die lig kom.
  • Onderdrukkingsfase: Wanneer seksuele misbruik onthul word, ontken die betrokke partye en familielede dikwels die gru dade uit vrees dat hul gesinne uitmekaar gaan skeur en dat die glashuisgemeenskap klippe gaan gooi.

“Ek het vir hom gesê om op te hou. Hy wou nie. Wat kon ek doen?” “My man is ‘n ouderling en dien op die raad van die kerk. Hy is ‘n goeie man en doen baie vir welsyn.” – ma’s

Om aan te voer dat die persoon ‘n goeie hart het en ‘n Christen is – het niks met die prys van eiers uit te waai nie. Pedofilie is ‘n sielkundige afwyking. Kraakvars navorsing het getoon dat die bedrading in ‘n pedofiel se brein ‘n perd van ‘n ander kleur is. MRI-skanderings het bewys dat pedofiele wat veg teen die drang van molestering en verkragting beter impulsbeheer het as diegene wat nie aan pedofilie lei nie asook diegene wat wel antwoord op die roepstem van die monster in hul grysstof.

Of jy nou ‘n goeie mens is wat verkrag en of jy ‘n slegte mens is wat verkrag – jy bly ‘n pedofiel.

 

“die Here kan afkom aarde toe

en vir jou ‘n kroon op jou kop sit

dit sal fokkol beteken nie

jy is die dogter

en jou ma glo jou nie”

En die hartseerste hoofstuk in die lewe van ‘n slagoffer is die feit dat familielede, dikwels ma’s, nie hul dogters (seuns) glo nie. Baie ma’s raak jaloers op die legio aandag wat hul lewensmaat aan hul kind bestee en raak dus bitsig teenoor die kind eerder as om die probleem aan te spreek. Baie keer is die vrouens bang vir hul mans – bang dat hul mishandel sal word, bang dat die gemeenskap hul sal blameer, bang dat hul hul aansien sal verloor, op straat sal sit. Meeste kere verdrink die situasie en die kind in die onkunde en naïwiteit van familielede.

Net omdat jy geboorte geskenk het, maak nie van jou ‘n ma nie. ‘n Ma (of enige voog in daardie geval) is verantwoordelik om hul kind te beskerm – en as daardie rol vervaag word deur ‘n pinkie-gedraaiery, is die titel ma nie daardie vrou beskore nie – sy is dan bloot ‘n biologiese serogaat.

Naas die toeverf binne in gesinne – word liters verf dag en nag in sekere kerke aangeskaf om seksuele uitbuiting (veral van jong seuntjies) toe te smeer met pynlik presiese kwashale. Die film Spotlight werp die lig op hierdie sensitiewe onderwerp: Hier word priesters van die katolieke kerk se pedofilie deur ‘n media-groep op die lappe gebring. Die film plaas ook die kollig op verskeie waansinnige redes wat die priesters aanvoer hul motiverings is – baie van hulle voel dit is hul reg. En weereens, om skande te vermy – staan die gemeente (en die slagoffer se ouers inkluis) vierkantig agter hierdie priesters.

Pedofilie word deur ‘n groot verskeidenheid van eksterne en psigologiese redes veroorsaak, maar net soos die Kleptomaan gearresteer word as hy/sy iets gaps en die bipolêre pasiënt sy gemoedstabiliseerder elke dag moet neem – kloksslag, so ook moet die pedofiel nie voorgedoen word as ‘n mak skapie nie, maar moet die wolf in hierdie skaapklere eerder onthul word.

Pedofiele moet volgens hul dade en nie volgens wie hul is, takseer word.

‘n Verkeerde prys op die winkelrak gaan nie die produk goedkoper maak nie – die tellermasjien skandeer dit steeds teen die korrekte prys – al was jy as koper nie daarvan bewus nie – soortgelyk kan ons nie langer lugkastele bou en wag dat hierdie probleem sak saam met die son nie – ons (en veral diegene wat direk hierdeur geraak word, of daarvan weet) moet ons kinders hiervan bewus maak en hul leer om te skree as nie eers die maan hul in die aand hoor nie en die sterre nie wil luister nie.

Mens kan net vir so lank die dogtertjie probeer beter dokter met ‘n vlegsel en spookasem. Mens kan net vir solank die seuntjie in die kerkkoor hou totdat sy stem breek. Mens kan net vir solank ‘n kind se tong knoop en mens kan net vir solank maak asof jy nie hoor nie – want daar is een ding erger as om ‘n slagoffer van ‘n pedofiel te wees en dit is die wete dat jou eie ma (of ‘n geliefde) jou nie glo nie.

Shirley

 

Ns. Meisies kan nie as gevolg van hul uitrustings blameer word vir die dade van ‘n pedofiel nie – ‘n pedofiel sien jong meisies naak – met of sonder klere.

 

 

 

Verf met as en bloed

Tussen die dooie liggame van gister

waarom die skraal sipresse waak

moet ek twee nuwe grafte grawe

en soos ‘n digter my vermaak

sal ek bepeins hoe die siel ontvlug

en hoe die stoet wat hier sal staan

‘n dooie maat begraaf en dan 

verleë oor hom huis toe gaan

en meer modern sal ek dink

hoe lê my lewe in die stof 

en telkens om my op te beur 

sing ek vir my ‘n lied van lof

maar elke dag sal ek onthou 

hoe jy vertrek het uit my huis 

tussen die grafte voel ek my

vandag en elke dag meer tuis

hier waar die skraal sipresse waak

het ek ook jou begraaf my kind

sonder gebed of ‘n lied of ‘n graf 

net ek en die winterwind – IJ

In Westerse lande is die strate geverf in groen, goud en rooi ter viering van die kersseisoen; terwyl die strate van Sirië met bloed en as geskilder word. Gesiggies word nie geverf met gesigverf in die vorm van ‘n skoenlapper nie – nee, dit word geverf met trane. Longe word nie gevul met suurstof van die bloekombome nie – maar met chloorgas. Die Geelson baljaar nie in die blousee van die lug nie – dit staan uit soos ‘n pitsweer teen die grys dag.

Terwyl ons mekaar toedraai in ‘n waatlemoen-handdoek of met ‘n wolkombers kyk hoe die sneeuflokkies ‘n balletvertoning aanbied – word mans, vrouens, seuntjies, dogtertjies, babas – se lyke toegegooi met doek.

Terwyl ons kaartjies vir ons geliefdes skryf  maak weerlose Siriese burgers sogenaamde Death Bulletin video’s.

Terwyl ons huil oor ons gebreekte poppe of die pophuis se deur wat op een skanier hang, huil ma’s oor hul dooie kinders, kinders oor hul dooie ma’s en pa’s oor hul dooie gesinne.

Terwyl ons seks misbruik en ons verbeel dat Ingrid by ons sal wees, dronk word teen die afgrond van ons brein en baljaar in teepartytjies van die valsheid; klim jong vlugteling meisies selde van skepe met hul maagdelikheid (of hul lewens) af.

Terwyl ons ons vergryp aan massa-geproduseerde vleis en vrugte weggooi as gevolg van ‘n kneusplekkie so klein soos die oog van ‘n naald, staan uitgeteerde kindertjies verhongerd voor ‘n Lang Winter – sonder skuiling, sonder kos, sonder geloof, sonder hoop.

En terwyl ons ons daaglikse gebeure soos ‘n blommetjie in die kuberstroom laat beweeg – weet baie min van ons werklik waaroor die Siriese oorlog handel:

Die konflik het reeds so vroeg as Maart 2011 begin vlamvat nadat ‘n groep studente graffitti-kuns, wat volgens bewering in opstand gekom het teen die staat,teen ‘n skoolmuur geverf het. Die polisie het op die jongelinge begin skiet en verdere slagoffers in ‘n spervuur tydens die begrafnis van die gesneuwelde kinders – was die laaste strooi.

Die betogings wat aanvanklik begin het as ‘n protes om vryheid en die aandringing op die bedanking van President Assad (Die Assad familie is al sedert 1971 aanbewind), het teen  2012 in ‘n burgeroorlog ontaard.  Verskeie rebellie groepe het ontstaan en teen 2015 het die dodetal tot ‘n skokkende 250 000 burgers geklim.

Naas bomwerping, verkragtings en die weerhouding van voedsel, het die inspan van chemiese wapens in Augustus 2013 in Damascus tot die verdere dood van honderde mense gelei. Ten spyte van ‘n wanhopige poging deur die VN en die Verbod op die gebruik van chemiese wapens, het die gebruik van dodelike chloorgas toegeneem.

Sedertdien het meer as 4,5 miljoen Siriese burgers as vlugtelinge die land verlaat en skuiling gaan soek in hul buurlande: Lebanon, Jordan en Turkye. Ongeveer 10% het na Europa gevlug waar ‘n warm verwelkoming nie altyd aanwesig was nie.

‘n Verdere 6,5 miljoen Siriese burgers is vasgevang in hul oorloggeteisterde land – waarvan die meeste dakloos in die strate die bomme en skote probeer ontduik.

Ongeveer 70% van die mense het nie toegang tot skoon drinkwater nie; 1 uit 3 persone het nie toegang tot die leefbare hoeveelheid voedsel nie; 2 miljoen kindertjies is van hul opvoeding ontneem en 4 uit 5 gesinne lewe in armoede.

Die VN het beraam dat die astronomiese bedrag van ongeveer 3,2 biljoen dollars benodig word om 13,2 miljoen mense uit hul verknorsing te help asook die 6 miljoen ongeskoolde kinders.

Om verder olie op die vuur te gooi het die Islamitiese staat ook intussen betrokke geraak en Islamiete en Jihadiste saai chaos en vrees deur die lewelose, bewerige strate. Rusland het ook tot die stryd getree in ‘n poging om die terroriste uit te wis, maar het tot op hede bloot die teenoorgestelde uitwerking gehad.

Middel Oktober 2016 het die staat die beheer oor die oorgrote meerderheid van die hoofstede begin oorneem en die rebellie groepe begin uitstoot. Op 15 Desember is daar op ‘n skietstilstand ooreengekom en ‘n ontruimingsprojek was wel onderweë toe die rebelle kop uittrek en is tans besig om massamoorde in Aleppo en op die grens uit te voer. Vrouens en kinders word koelbloedig op die ontruimingsbusse morsdoodgeskiet en duisende mense is tans besig om vrede te maak met die dood en hul lot in die lewe.

Assad’s militians are maybe 300 meters away. So this is my last. I hope you can do something – do something for the people of Aleppo and for my daughter. I hope you can do something to stop the expected massacres. They are satisfied that we are being killed. Yesterday there were many celebrations on the other part of Aleppo. They were celebrating on our bodies. It’s OK. It’s life. But at least we know that [deep sigh] we are free people. We wanted the freedom. I hope you can remember us.” – Prof. Alhamdo

En as dit kom by die koerant neersit en die webtuiste toemaak omdat “die nuus my tog nie direk raak nie”, is ek die eerste een om my hand op te steek – ek self het eers onlangs werklik begin oplees oor presies waaroor die verwoesting wat gesaai word, handel. Ek wou my kop soos ‘n volstruis in die Karoo-grond druk, myself knyp om wakker te word van hierdie nagmerrie – ander se nagmerrie wat ek as buitenstaander moet aanskou – ‘n riller film waarvoor ek geen toegangsfooi betaal het nie.

Hiermee verklaar ek nie dat ons onsself moet ontneem van die voorreg van relatiewe vrede nie, ek sê nie dat ons roosterbrood op kersdag moet eet en die  kalkoen moet weggee nie (jy kan dit doen as jy graag wil – ek twyfel of jou ouma beïndruk gaan wees) , ek sê nie ons moet ons heeldag opsaal met die hartseer nuus van die wêreld  en vergeet om te lag vir die glad-nie-snaaks-grappies in die crackers nie – al wat ek uitlig is dat ons nie die riller film moet weier as dit draai nie, maar eerder daarna kyk, die bioskoop verlaat en bloot net dink aan hierdie mense: aan hulle dink as ons ons geliefdes omhels, aan hulle dink as die koel seewater oor ons tone hardloop en aan hulle dink as ‘n kind lag – en as denke kan oorgaan tot die teken van ‘n petisie of die skenk van ‘n  bedrag van jou kersfeesbonus aan ‘n organisasie, sal een sterretjie helder skyn in die donker nag.

Ek hou nie van die riller film wat tans in die wêreld draai nie, ek raak partykeer vreesbevange en knyp my oë toe. Ek hou vas aan my sitplek en skree dikwels saam met die akteurs – totdat ek besef dat hul nie akteurs is nie en dat die film nie ‘n regisseur het en verfilm is nie – maar dat hul mense is en die gebeure werklik gebeur en dit vasgevang word op die eenvoudige kamera van hul Nokia’s.

Ek weet nie aldag of die oorlog die leier soek en of die leier die oorlog soek nie – maar die mens sal altyd ‘n manier vind om oorlog te saai: Uit vrees om verkeerd te wees? Uit vrees om iets te verloor? Uit vrees om iets op te gee? Uit vrees om minder as iemand anders te hê? – Ek weet nie. Al wat ek weet is dat daar nie genoeg liefde in die wêreld is om al die krake mee toe te plak nie en die bietjie liefde wat daar wel is – almal het iets daaroor te sê.

Shirley

Meer as net ‘n ribbebeen.

Portret van ‘n vrou

“Die Lewe het haar arm van gees gemaak
omdat sy met haar liggaam hom moet dien
en niemand het soos sy, naby en naak,
sy wrede wispelturigheid gesien.

Dit bly haar enigste geheim want sy
het weinig van die wysheid wat bewus
vergader word; haar stille dade kry
’n sin wat dieper as gedagtes is.

Want alles aards en alledaags en klein
het sy met daardie liefde aangeraak
wat die onskone dinge helder maak;

en so verheerlik sy die brood en wyn
tot hul opnuut genadetekens word:
Liggaam en Bloed gebreek en uitgestort.” (Die stil avontuur; 1939 – eybers)

Van kleinsaf word mens gekonfronteer met wat die wêreld se idee van vrouwees is: ‘n voorskoot, ‘n kind op die heup, wasgoed op die draad en die botterskorsiesop wat prit op die stoof. Vir generasies is ons grootgemaak dat beroepe soos ‘n mediese dokter,’n  ingenieur en selfs ‘n veearts slegs ‘n vaandel van ‘n wolhaardroom is. ‘n Lugkasteel op wie se troon ‘n vrou nie mag sit nie.

Vir te lank is die Feministiese beweging sinoniem met ‘n haat vir mans en die uitsluitlike dra van broeke. Maar om Feminisme so te definieër is soos om te bly op die derde vloer van ‘n dubbelverdieping huis. Feminisme is nie die bakleiery oor wie die deur moet opmaak nie, wie eerste moet loop of wie die broodwinner moet wees nie. Feminisme is politiese, ekonomiese en sosiale gelykheid vir mans en vrouens. As jy beter spaghetti bolognese as jou lewensmaat kan maak, dan is dit heel logies dat jy saans die gesin se smaakknoppies gaan prikkel en hongergromme stom gaan maak. En as jou man die boor beter as jy kan hanteer, is dit logies (en weens veiligheidsredes natuurlik) dat jy hom gaan toelaat om die nutsman in en rondom die huis te wees. MAAR – kom ons draai die papbakkies onderste-bo: veronderstel die vrou kan skaars ‘n eier bak of roosterbrood maak sonder om dit houtskool te verbrand, terwyl die man gedurig na Kokkedoor kyk: dan stel ek voor jou man dis die spys en drank op. Soortgelyk is dit ook nie een van die sewe doodsondes as die vrou die loopbaangedrewe-paadjie stap en die man ‘n halfdagwerk het om die kinders by die skool op te laai nie (solank die man net nie een van die sewe doodsondes teenoor sy vrou pleeg nie – met verwysing na jaloesie). Die bakpoeier wat dus as rysmiddel in die huweliksbrood dien, is blote kommunikasie en ‘n gesamentlike besluit oor wie die bevoegste is in die verskillende aspekte van wees en doen.

Feminisme is beslis nie net ‘n term wat met vrouens verband hou nie. Vir te lank is die rol van ‘n pa in ‘n kind se lewe onderskat, vir te lank is mans bang om oor hul gevoelens te praat weens die vrees om van hul manlikheid ontneem te word, vir te lank het die samelewing ‘n traan op ‘n man se wang te vinnig afgevee. Mans en vrouens trek beide aan die kortste ent van die samelewing se stereotiperingstou.

Feminisme is dus die verwydering van dié lus om ons nekke. Om mans te bevry sal vrouens se vryheid as ‘n nagevolg in die hand gewerk word: as mans nie aggressief hoef te wees om hul manlikheid aan die wêreld te verkondig nie, hoef vrouens nie onderdanig aan hul te wees nie; mishandel te word nie. As mans die geleentheid gegun word om hul emosies te beheer deur uitdrukking, hoef hul nie hul vrouens te beheer nie.

As ons besef ons is almal mens mag ons dalk, net dalk, weer die hasie wat in die maan skuil – sien of selfs die prentjies in die wolke en die glimlag van ‘n persoon – skop die wêreld wat jou brein annekseer uit. Laat hom die pad vat en maak plek teen die muur van jou gedagtes om die son wat jy gevang het, op te hang.