Die strandstand van ons bestaan

‘n Brander sal altyd sy pad strand toe vind.

Seker die soveelste keer wat ek myself kry die lewe staan en gelykstel aan ‘n strand. Daar kan een van twee redes aangevoer word vir bogenoemde herhaling: Een – my kreatiwiteit lê miskien dor en droog soos die binneland of twee – die waarheid herinner jou aan sy bestaan meer as eenkeer.

Ek sal hoop my woord-reservoir is nog nie soos ‘n geflopte koek – droog nie; en dat nommer twee die waarheid heet.

Hoe dit ook al sy – ek kan land en sand gesels oor hierdie strand van my.

Partydae is dit asof die lewe jou wil indoen deur aan jou seashells te probeer verkansel – verkryg van jou eie sheashore. So asof jy weer moet om verskoning vra vir die verkalking van jou verlede – weer moet opdok om jouself terug te koop.

Ander kere weer, is daar ongenooide strandlopers wat die kind in jou gemoed se sandkastele kom plattrap en die kleurvolle sambrele een-vir-vir laat toevou en ingelaai word in die kattebakke terug huis toe – ons almal weet tog niemand het iets verloor op ‘n strand as die skemer eers sy kelkie kom skink het nie.

En onder al daai stand wat die dae korrel vir korrel kom aanvul – lê ontelbare hoeveelhede verlore plakkies, emmertjies, grafies, poppe, ringe, sonbrille, perskepitte, baaibroeke, sonhoede, sjampanje-kurke  – verloor deur hul eens-op-tyd eienaars – ontoegeëien.

Seker ietwat van ‘n paradoks – maar ‘n strand wat aan ‘n mens gelyk gestel is – is geen eiland nie (in ‘n strand se kapasiteit as uitsluitlik dit – strand en met geen beeld op sy lapel nie, is sommige strande wel eilande – toegeken). Die aanslae van die lewe sal altyd hul pad na die soom van jou bestaan vind – want ‘n brander is gemaak om te breek en so ver my kennis strek, breek branders op die strand. Selfs tydens laagwater kom die branders in – hul is bloot kleiner – maak minder nat, stamp minder om, spoel minder seegras uit, stoot laer op teen jou oewers – maar kom kom hulle en breek breek hulle. Branders wys geen id om toegang nie- hul vra nie mooi of stoot die stoel terug na ete nie –  hul val met die deur in die huis in of jy nou in jou baaiklere is of nie.

Die vertroosting lê darem daarin dat as jou Sunday’s best op ‘n dag onseremonieēl gedoop word – dat jy bloot jouself kan monteer op die sand en wag vir die son om jou droog te bak – want as jy eers droog is kan jy al die seer wat aan jou vaskleef, afskud.

Ander dae weer is jy braaf genoeg om die branders sommer uit vrye wil aan te durf. Die wonder van die lewe is dat jy nie altyd alleen hoef te gaan swem nie en selfs op die dae wanneer jy wel moet – is daar êrens ‘n lewensreder uitgekit met verkyker, rooi-swembroek en die hele works wat vir jou uitkyk – wie of in watter vorm dit ook al mag wees.

 

Shirley

 

Glimlag

Glimlag 

 

Bietjie geluk is al wat mens nodig het 

soos spekko rice 

it goes a long way 

(een koppie glimlag – vier koppies geluk) 

 

– Shirley 

Met die hartseer wat saam met die blomme dié jaar bloei in die nuus, het ek en my een vriendin (Nadia) ‘n nuwe gebaar ingestel – om om seweuur elke aand vir mekaar ‘n boodskap te stuur oor ‘n oomblik in die dag wat ons laat glimlag het.

En al klink hierdie taak so eenvoudig soos die konstruksie van ‘n stokmannetjie met vetkryt – kry ek my meeste aande vir ‘n kwartuur lank en wonder en besin oor wat dit presies daardie dag was; en soms kan ek bloot net nie onthou nie. Ek kan boekdele skryf oor die antitese van hierdie oefening terwyl die mooi my dikwels ontgaan.

Miskien is dit omdat ek dink dat wat ook al dit is of was moet vreeslik goed op papier (of altans) skerm klink of lyk. So asof die oomblik perfek gecurate moet wees dat die ander persoon dit vir hulself kan indink. Asof ek die oomblik afwater tot niks as ek dit herhaal in my gedagtes en dit eweskielik so doodgewoon klink – so asof ek bang is dat dit nie genoeg van ‘n oomblik was om ‘n glimlag te regverdig nie. Asof die glimlag moet wees oor weeldige laventel lane in plaas van kleine madeliefies wat tussen die onkruid dans. Asof dit nie kan afspeel teen ‘n vibrecrete muur in plaas van teater-gordyn nie.

Met die koms van die son, het ‘n nuwe seisoen kom loseer in my gedagtes. Sonder vorm soos ons ken, of met geslag gebrandmerk – bloot geken aan die naam – wyshede uit die oude doos, sit ons twee toe een dag en praat oor ‘n koppie koffie. En net daar in ‘n oomblik  van suisende stilte, soos daai oomblik voor die uitpaas, besef ek – dat dit is juis dit – die mooi skuil in die klein goedjies – elke glimlag verdoesel en toegedraai soos ‘n papawer wat wag om gebore te word en die steeksel-kappie af te gooi.

Ek was nog nooit een vir dassie te veel stert kry nie (gesê van iemand wat eweskielik hoogmoedig raak) – dit nou oor toekennings of sulke dinge. Partykeer as ek iets behaal en mense my versmoor in gelukwensings is ek dikwels die een wat ‘n glimlag in waterverf op my gesig drapeer – gelukkig – maar dit voel net soos nog ‘n oomblik, terwyl ander mense besig is om namens my olieverf werke gestalte te gee – dakkuns daarvan te maak (dit opsig self is baie mooi – dat mense so bly vir ander kan wees). En dan is ek dikwels skaam om te erken dat my koffie wat vanoggend perfek gerooster is, of die feit dat ek my hande op die heel laaste vegan millionaire gekry het (van Thankgoodness Foods – ek is verslaaf om die minste te sê) of dat my nuweling digbundel nog na die drukkers ruik; my eintlik gelukkiger gemaak het, wel altans van oor tot oor laat glimlag het. Of soos die gevoel van ‘n ontwikkelde spoel terugkry, of as woorde net langs mekaar wil staan as mens ‘n gedig aanmekaar weef. Of as iemand vir jou iets bak. Of as Cooper sy gesig trek so asof hy gekookte eier ruik en dan soos ‘n mens nies. Of as ‘n drukkie van iemand die arms van angs om jou borskas verlos – as al hierdie dinge in isolasie jou meer laat glimlag as ‘n konstelasie goeie punte, sertifikate – bly ek maar stil en oorreed myself dat dit hoegenaamd nie die rede kan wees vir Maandagoggend se glimlag nie.

Ek is in die proses om myself te leer om nie vooropgestelde idees te hê oor wat my gelukkig maak nie. Ek is besig om myself te leer dat al klink wat ook al dit was wat my laat glimlag het hoe banaal vir my, dat dit vir Shirley gelukkig gemaak het. Want dikwels staan ons buite ons liggame en kyk onsself deur van kop tot tone en kritiseer onsself van top tot tone en beskuldig dan ander dat hulle die heeltyd vir ons kyk – terwyl dit eintlik ons is – ons kyk vir ons en ons sê vir ons waarvan ons mag hou en waarvoor ons mag en nie mag lag nie.

Maar op die ou einde van die dag is dit die bestanddeel wat in die kleinste hoeveelheid in die baksel ingegooi word, wat die koek laat rys.

En daarom kan ons (ek) dikwels nie onthou wat ons (my) laat glimlag het nie – aangesien dit dikwels soos Wally tussen alles anders skuil. Maar met oefening – oefening sonder kompetisie (bygesê), kan mens jouself leer om atent daarop te wees as jy wel lag – dat jy stil staan en werklik voel hoe dit voel om jou mond te trek. Hoe die wêreld lyk deur glinserende oë wat soos ‘n  brekende brander oor jou gemoed kom en gaan.

Vind jou bakpoeier vir elke dag. Glimlag.

Shirley

Ns. Dit is seker dus heel gepas dan om te deel wat vandag my laat glimlag het – dit was ek – ek het myself laat glimlag want ek het gedans in die stort as ‘n special addition tot my gewone net-sang.

Gister was dit Pistacchio gelato.

Eergister – die pienkvygies wat die paadjie na die lesingslokaal omsoom en my herinner het aan die warmer weer.

 

 

 

 

Om te leer ontsyfer is om te lewe

Die Here het geskommel en die dice het geval – so leer Adam ons (Adam Small nou en nie Eva se Adam – hy het vir ons ander dinge geleer – oftewel, Adam sê dis Eva en Eva sê dis die slang).

Die Here het geskommel en die dice het geval en jou armpies het gegryp na die mobile bo jou cot – die skoenlappers, voëltjies of karretjies of wat ookal destyds op uitverkoping was – jou arme ma sou iewers moes spaar aangesien daar min dinge soos stoelgange is wat die land se ekonomie aan die gang kan hou.

Die lewe is geen wensmasjien – geen vending machine waar jy jou noot indruk en kan kies tussen smarties of speckled eggs nie ( as jy my vra, neig dit meer na daai verdomde masjiene – een by die ingang van elke OK – met die kussingkies en cheap horlosies in en die honderdrandnoot ingesteek by die een en ‘n R20 by die ander: want daai masjiene – hulle het al jou Sondag kollekte (R2) opgebruik en jy is nóg met ‘n horlosie nóg met ‘n soft toy huistoe. En boonop het die ouderling jou onder sy bril beloer as jy slegs een muntstuk in die kollekte sakkie die daaropvolgende Sondag ingegooi het – Barmhartige Samaritaan, ek dan seker die tollenaar).

Ek het eenkeer my vingers so verbrand en nooit weer deurgeloop nie – want daai R100 – ek sou vir hom moes werk. En so het ek begin ontsyfer – ek het begin ontsyfer dat die hele lewe ‘n ontsyfering is – elk versteek in elke aksie, in elke laatnagstudie-sessie, elke drukkie, elke gemoedsbekakking, elke glimlag, elke traan, elke vloekwoord, elke mooiwoord, elke hou, elke soen – hoe baie jy ontsyfer – hoe baie jy verstaan – dit besluit jy.

Maar die balans – die balans is die sprokie wat die stadskind (dalk) sal vind. Ek volg hom elke nag oor swart riviere – strate van beton. Ek hou aan stap tien duisend ure – en hoop ek sal daar kom. Ek probeer my nimmer laat bind – maar dit sukkel – want ek as mens raak geheg – maar dis hoe die ou sprokie lei – en die skatkis is met ou kettings gebind aan die neonboog se punt. Ek volg hom elke nag oor swart riviere – kyk nie eenmaal om – dalk vind ek die land van Blou Saffiere – en dalk ‘n brokkie

son.

Soms moet ons wandel in die nie-verstaan en aanvaar dat seker dinge net is – nie sin maak nie – maar net is. Maar selfs dit – om te besef dat alles nie ontsyfer kan word nie – verg ontsyfering. Paradoks – ek weet.

Die lewe is soos om die skatkis te kry – dit oop te maak – net om te sien dit is leeg – want die ontsyfering en die reis en die lewe – dit was die eintlike skat wat jy (en ek) wat so besig is met alles wat ons moet doen – mis.

 

Shirley

 

 

 

 

 

 

Telefoontjie telefoontjie

Ons sê dikwels nie hoe ons voel nie, want ons wil so graag voel iemand kan ons siele lees. Asof laasgenoemde die egtheid van iemand se omgee vir jou akkrediteer.

Ek weet nie van jou, maar ek het al telke male “niks” kliphard geuiter as iemand vir my vra wat fout is. ‘n Arrogante niks, ‘n vasberade niks. ‘n Niks wat niks beteken – ‘n niks wat alles behalwe die waarheid is. En so as mense gaan ons die lewe deur – antwoord niks as ons alles bedoel, en praat te veel as ons niks het om te sê nie.

Mense kommunikeer slegter as diere al het ons woorde in ons potloodsakkies.  Naas taal verskille nou – spruit wankommunikasie bloot uit die gebruik van te min woorde. Ons wil graag glo dat die mense die naaste aan ons ten alle tye weet hoe ons voel; weet waaraan ons dink – en ja, baie keer kom diegene baie naby- maar die enigste persoon wat ten volle weet wat in die leefarea van jou denke aangaan – is jy. En as jy nie vir die ander persoon gaan vertel wie hierdie gaste is nie – kan jy nie verwag dat hy aangename kennis gaan sê nie. Dink so daaraan – die persoon lees tog jou siel as hul kan sien iets skort – anders sou hul nie gevra het nie (die teenpool natuurlik is dat dit miskien die einste persoon is wie jou meubels so effe daarbo herrangskik het – en as dit die geval is, sal hul juis vra want hul weet heel moontlik hulle was soos ‘n bull ‘n china shop daarbo. En kom ons wees eerlik – ons almal is maar van tyd tot tyd so broos soos porselein en die trane se breekwater nie te waffers nie)

En dan die liefde – as ‘n persoon wat nog nooit in ‘n verhouding was (ja, moenie verstik aan jou rooibos nie) kan ek seker niks kwytraak oor die liefde nie. En ja, miskien weet ek nie hoe om iemand se hand vas te hou of wat om te sê as hy vir my gaan sê ek lyk mooi vanaand nie – maar ek voel wel nie soos ‘n vreemdeling in Jerusalem as ek aan die liefde dink nie – my vriende, hulle leer my wat die liefde is – en hoe dit voel.

Die liefde is baie meer as die bloos- die liefde is die vrywillige besluit om iemand se klein handelinge te ontleed – die liefde is as jy agterkom die persoon trap harder rem vandag, of ry langer in eerste rat voor hul oorslaan na die tweede, dis om agter te kom die persoon vat meer as gewoonlik aan hul hare of dat al hul naels tot op die lewe afgebyt is. Die liefde is om te sien dat hul oë ‘n ander kleur geverf is as die gewone kleur. Die liefde is al die hiperkak tye en al die wonderlike tye saam – die liefde is maar eintlik niks minder as die skilder van die ander persoon nie. Elke dag haal vir haal ‘n portret te skilder – elke donker skaduwee inteken, elke ligte lyn aandui totdat jy eendag ‘n skildery het wat soos die persoon lyk – maar nooit die persoon sal wees nie. Dis belangrik, die liefde kan mens dryf om naby te kom, maar kuns bly kuns en kuns bly abstrak en die persoon oorkant jou lewendig en alles behalwe ‘n versinnebeeld van jou verbeelding. Die liefde is dan dat daardie persoon na die skildery kan kyk en iets nuuts van hulself kan ontdek – kan sien hoe mooi hul lippe gevorm is of die fyn strepies in hul oë ontdek, maar terselfdertyd ook kan sien dat hul ‘n merkie op hul regter wang het of dat hul gesig eintlik ietwat afwyk van simmetrie.

En so help ons skryf aanmekaar.

Ek het gespring van kommunikasie na die liefde – so dus in kort – die liefde is gelyk aan kommunikeer – en mag ons nooit nie woorde hê nie. Want daar is altyd woorde solank as wat daar gevoel is. Jou woorde mag dalk min wees – maar daar is altyd woorde.

 

Shirley

 

ns. Vergelyk jou selfportret met iemand se portret van jou – jy skilder miskien abstrak en die ander persoon realisties.

 

 

Die prinses en die ertjie

Petit poi

 

Ek voel partykeer soos ‘n disney prinses sommer almal in een
Ek staan altyd reg vir almal soos aspoestertjie, dop die asbakkies onderste bo in die asdrom
En vlug soos Sneeuwytjie van die seerkry wat mooier as ek wil wees
Ek raak verlief op ondiere
Plaas my geluk in ‘n roosblaar wat sy klere afgooi soos ‘n prostutiet
Ek kan nie besluite neem nie – en nes gouelokkies, nie eens oor papkeuses nie
Ek slaap darem nog nie in ander se beddens nie
Soos rooikappie vertrou ek te maklik
Brand my vingers selfs nog voor die wolf die drie varkies (of twee varkies uit die drie) se huise met brandstigting kon verwoes
Met afgebrande vingerafdrukke strompel ek identiteitsloos die woud binne soos hansie en grietjie en bly maar net ‘n dogtertjie opsoek na iemand om haar lief te hê
en iets soets
Raponsie is ek – my toring te hoog vir die deursnee prins om te klim – te hoog vir my om vanuit te spring, en my hare
my enigste veil
Ek prik myself met die wete van eendag en verval in ‘n diepslaap van presteer
Studeer word my droom en die lewe my onbewuste realiteit
Op ‘n dag sal ek wakker raak – nie omdat ek uitgerus is nie, maar omdat
Iewers – onder die stapels matrasse en my neus teen die plaffon
Is daar ‘n ertjie
‘n kleine petit poi – jy sal vir my kyk en sê: Jy is waarlik ‘n prinses
Terwyl die glasskoen oor my voet gly
Ek sal vir jou kyk en sê:
‘n Prinses met ‘n ertjie wat haar pla

 

–  Shirley

Ek soek nog die ertjie. Elke aand as ek so rondrol span ek al my perdekrag in en probeer my matras te vergeefs lig – opsoek na die ertjie. Maar ertjie soek is soos om muskiete te jag – of soos om ‘n naald in ‘n hooimied te soek – laasgenoemde het ek nog nooit self probeer nie, maar êrens het een of ander taalfundi dit gedoen, ek vermoed niks gekry nie- en toe maar die idioom vasplaveisel in ons taal. Nietemin, die ertjie is nog skoonveld en buiten die metaforiese sfeer – is die ertjie slegs te vinde in die McCain Petit Poi sak in die vrieskas- kliphard.

Ek verkies die lewe altans binne die metaforiese sfeer. Maar om terug te kom by die punt – die ertjie: ons almal het een of ander ding wat ons pla, wat ons wakker laatlê, ongemaklik na die dak laat staar en as iemand vra wat skort, is: “Ek weet nie” die reine waarheid.

En partykeer is geen antwoord beter as ‘n verkeerde antwoord of as ‘n leuen. Mens se onderbewussyn is juis dit- onder jou bewussyn, en daarom saans begin hy met jou praat, wanneer jy nie by jou volle bewussyn is nie en hy gevriesde ertjies uit die vrieskas steel.

Om matrasse by te voeg – gaan ook nie die knoop deurhak nie, daai ertjie gaan jy voel. En ja, miskien gaan jy die ertjie vind (want wie weet – miskien daai dag het daar iewers in die platteland ‘n hoender met tande uitgebroei ), maar meeste van die kere nie. En dis ouky. Bygesê – as jou bed gaan begin voel asof jy op een van daai graad 1- telrame slaap, is dit nie meer ouky nie. Dan moet jy helder oor dag jou vrieskas begin leegmaak – en opt vir mix veg in plaas van die baby peas – soos McCain se slagspreuk lei: Think again. Alternatiewelik kan jy net die regte hoeveelheid koop en opgebruik voor die aand se nagrus.

In ‘n neutedop – oftewel, buite Shirley se metafories sfeer, is dit belagrik om te besef ons almal het gedagtes, hartseer, herinneringe, woede en somtyds haat wat ons in ons vrieskaste stoor en bêre vir ‘n ander dag wanneer ons krag het om dit gaar te maak en te verteer – wat mens wel moet onthou, is dat jou onderbewussyn weet waar alles gestoor word en hy kyk partykeer langtand na die vrieskas en maak ertjies gaar terwyl jy slaap – en steek dit dan onder jou bed weg.

Die mooi is darem dat – as jy die ertjie so nou en dan voel – beteken dit jy slaag die toets – jy behoort aan die mensdom – jy heet ‘n mens, ‘n waarlike prinses.  So as jy opstaan – al kon jy net vir twee ure ‘n oog toemaak – moenie jou kroon vergeet nie, want dit wat staan – vergaan.

 

Shirley

 

Waterverf

Waterverf

 

Trane is die waterverf van die siel

Vertaal vir my die kleur van jou oog

Lê hul nat met die sout van die aarde

binne jou

Laat daar rye en rye tulpe by jou ooglede

uitgroei

Hul koppies buig as in verwondering na

jou wat die maan help om die gety te bring

Vertaal vir my ‘n stillewe

en onderteken dit – met besmeerde bobbi brown

mascara teen jou wang

swart sag

jou voorletters

in jou kwas – jou wimperkwas

– Shirley

Lag vir my weer – want Ingrid is reg, jou lag is ‘n oopgebreekte granaat. Huil weer, want Karen is reg, daar is vier seisoene in jou traan.

Dis nogal mooi hoe jou liggaam reageer met die emosies van die siel. Hoe jy jou tande vir mense wys as jy gelukkig voel, hoe jou mondhoeke hul arms uitstrek na jou ore en jou oë die fatsoen van ‘n duif se liggaam aanneem en wil wegvlieg met jou wimpers wat soos vlerke opkrul na bo. En dan hoe jou oë soos glas op ‘n vertoonkas in die voorportaal staan as jy skrik, of hoe jou wange rose word as jy skaam is – ‘n sagte pienk, nes skaamrosies – dis mooi as jy besef die skaamrosies is vernoem na menslike emosies en nie anders om nie. Maar dit is amper vir my die mooiste as jy huil – hoe riviere van emosies net uit jou stroom – so asof jou liggaam jou wil natlê sodat jy kan groei. So asof die kleur van jou oë dieper, intiemer word – en as die lig reg die traan op jou wang vang – word ‘n reënboog vanuit jou gesig gelig, soos een van daardie fancy pop-up boeke – waar die prentjies so na jou spring.

Jou mond praat met woorde, met die verstand – maar jou siel, hy skilder met emosies – hy skilder met waterverf – hy skilder met jou traan.

Het jy al ooit iemand gesien hul lag keer (ek praat nou nie van ‘n klasopset waar jy nie mag lag en iemand ‘n suggestiewe grappie vertel of ‘n inside joke van ‘n week gelede daar en dan eers gevang word nie – in ieder geval – in so geval kan mens dit nog minder keer) – maar ek vra jou, het jy al ooit iemand gesien hul glimlag of skatterlag toesmeer. Hul tande terug forseer in hul mond in en hul lippe sluit soos ‘n voordeur? Om die waarheid te sê – ek dink dit is feitlik ontmoontlik, daardie lag funksie van die mond, bleik ‘n onwillekeurige funksie te wees (sien daar is altyd ‘n catch in enige make-up – ‘n mooi catch nietemin).  Nou waarom dan is ons so bang vir die traan – is ons bang ons verdrink in ons eie emosies, is ons bang dat ons ook ‘n mens is en hartseer raak?

As jy nie skaam is vir geluk nie, waarom dan skaam wees vir hartseer. En bygesê – alle trane spruit nie uit ‘n fontein van hartseer nie, sommige trane spruit uit ‘n gelukkige fontein. Maak dit die traan nie net soveel meer werd as goud nie – dat die oortreffende trap van ‘n laggende geluk eintlik ‘n huilende geluk is. Die alombekende trane van blydskap.

Nou die dag – toe ek sommer net broos was oor niks spesifieks nie en klein jakkelsies net die hele dag my wingerd kom verniel het, het die lyfwagte by my traankliere oortyd gewerk om elke druppel binne te hou – maar toe iemand vir my vra: “Wanneer laas het jy gehuil?” is dit asof dit vertaal na “verlof” en daar pak my traanklierspiere hul tasse en begin my oë drup soos ‘n lekkende kraan. En anders as in die dorre Kaap het ek nie die krane toegedraai nie. Dit het goed gevoel – ek het goed gevoel. Ek het vir myself om verskoning gevra en belowe ek sal my wange natlê as my gemoed verwelk staan.

As mense is ons kompleks geskape – en juis daarom is daar nie ‘n enkele struktuur wat geskape is – wat geen funksie het nie ( mangels is seker debateerbaar) – so daarom kan ek met my kleenex boksie wat gereed staan op my lessenaar breëbors sê, dat dit regtig voel of Tafelberg van jou skouers gelig word as jy huil, of ten minste Leeukop. Om te huil is om te laatgaan. Somtyds huil mens oor simpel goed, somtyds huil mens oor saakmaak goed, somtyds maak huil iets glad nie beter nie en ander kere maak dit iets dadelik beter.

En dan – ten slotte – huil is nie soos ‘n klerewinkel met ‘n Ladies en ‘n Mens afdeling nie – huil is inklusief – huil is vir almal – net soos ons almal ook maar huilende die lewe ingehelp is – ongeag wat vir die dokter gekyk het.

Ons almal huil verskillend, op verskillende plekke, oor verskillende goed, maar ons almal mag ons trane deel net soos ons almal ons pearly whites mag afshow.

So dus hutsmerk bevrydietraanveldtog.

 

Shirley

 

 

Die koets word weer ‘n pampoen

 

‘n Nuwejaar het hierdie week ingetrek. ‘n Nuwejaar loseer nou in my straat – en ek moet nog ‘n koek neem om hom welkom te heet.

Maar die resep en waarmee ek dit wil versier – is steeds in wording, sien – ek wou nie net halsoorkop met te veel sjampanje in ‘n amper-flop-brousel vir hom neem nie, ek wil ‘n showstopper neem – aangesien hy die hele jaar gaan bly: Is ‘n goeie begin, half gewonne, of altans dis net iets waarin ek glo.

2017 het so skielik uitgetrek – en al was hy nie altyd ‘n aangename buurman nie, sou ek nie omgee as hy so effens langer gebly het nie – want ons het goeie tye saamgehad, avonture saam gedeel, saam gemoan oor die ander bure wie se honde heeldag raas en ons het saam ewe laat by die huis aangekom na lang dae op Universiteit en werkskofte. Van sy meubels het hy agtergelos en van sy bagasie het hy vergeet op die stoep. Ek het juis gister gesien hoe 2018 in sy baaibroek op die stoep lê en tan – en geweet, ek hoef nie te ver in die resepte boeke te soek na iets waarvan dié een sal hou nie- en gaan dus ‘n bestaande resep neem, ‘n flopvrye een en dit so bietjie aanpas – want 2018 is nie ‘n vreemdeling, dis laasjaar se tweelingbroer.

So daarom – geen nuwejaarsvoorneme vir my, geen nuwe ek, geen ontkenning van die verlede – geen towerspel het verval voor middernag, want ek is geen Aspoestertjie nie (meeste van die kere nie), geen towerfeë om alles weg te toor – net ek, Shirley, met al die bagasie, met al die herinneringe van nie net laasjaar – van elke jaar – as daai Shirley, gaan klop ek aan Feliciastraat 7, my buurman en gee vir hom ‘n welkomheet-koek met al my drome en doelwitte vir hierdie jaar opgeskryf in pienk- en kruisementkleurige versiersuiker.

Die verskil lê egter in die woord self: Nuwejaarsvoorneme is dinge wat jy jouself voorneem om nie te doen in die nuwejaar, terwyl doelwitte meer die proses impliseer.

Nuwejaarsvoorneme is niks anders as hierdie sprokieskoets en sodra jy een voetjie verkeerd sit al is die jaar al net 4 dae in ons midde, word daardie koets weer ‘n pampoen.

Doelwitte, soos reeds genoem, is iets wat jy elke dag voor kan werk – partykeer gaan jy tien tree vorentoe gaan, en ander dae weer 20 terug, maar daarna kan jy weer vorentoe trap en so kom jy tree vir tree nader aan jou doelwit. Doelwitte is ook nie tydgebonde nie: As Rome nie in een dag gebou is nie, is drome en doelwitte ook nie geweef in een jaar nie.

So daarom – gaan ek daai koek bak, vir my nuwe buurman neem – en al my doelwitte daarop drapeer – want sien, ten minste as ek my nael per ongeluk byt, hoef ek nie handdoek in te gee en almal af te byt nie, nee – ek kan môre weer probeer.

En miskien, net miskien – as ek my oë uitvee word die pampoen wel ‘n koets.

 

Shirley

 

 

 

 

 

Kompas

As mens ‘n kruisie so ietwat draai (so 45 grade), maak nie saak watter kant toe nie, verteenwoordig dit nie meer ‘n kruisie nie, maar ‘n plusteken. En nog voor ons ons name kon skryf of kon tel tot tien, het ons ‘n plustekentjie met positiwiteit geassosieër, of op daardie stadium seker bloot net blydskap of om gelukkig te wees of miskien bloot net ‘n glimlag in plaas van ‘n frons.

En ek kan seker nou al afsluit, want ek het eintlik reeds gesê wat ek wou: ‘n Kruisie word vernaam op skool geassosieër met ‘n errata – hetsy dit die verkeerde antwoord is of ‘n verbode middel – ons het nie positiewe konnektasies met hierdie teken nie. (Hierdie negatiewe konnektasies word verder aangehelp deur die invul van swak taalversorgde vraelyste en die opdragte wat jou die dood voor die oë sweer indien jy enigiets buiten ‘n kruisie gebruik om die blokkie te voltooi – praat van inboksery).

‘n Glips in die lewe, die metaforiese kruisie wat soos ‘n donkerwolk oor jou gemoed hang, kan dus op twee maniere deur jou beskou word: Jy kan dit sien as ‘n kruis en jou steenig oor die feit dat jy bloot ‘n mens is, of jy kan die situasie (in dié geval die kruis) op sy kop draai en daarvan ‘n positiewe leerervaring maak – nie net om wat ookal jy verkeerd gekry het te probeer verbeter nie, maar jy kan meer leer oor jou as mens en hoe jy in sekere situasies optree. En die hartseer ding van die lewe is – as mens weet ons dikwels so baie van die wêreld en ander mense en bloedweinig iets oor onsself – partykeer selfs ‘n ronde nul, so derhalwe is leer broodnodig.

Positiwiteit – dit beteken nie jy ontken die realiteit en die negatiewe dinge in die lewe nie (‘n volstruis-mentaliteit is nie hier die alfa en die omega nie – miskien vir my hond as hy sy pellets weg probeer wens -hy hou net van menskos; of meer op die man af – hoofsaaklik draaihoender van woolies), nee – dit beteken bloot jy pak elke situasie met ‘n positiewe ingesteldheid aan. Want ‘n vyfrand is miskien nie ‘n tienrandnoot nie, maar dit is beter as ‘n leë wallet.

Negatief word al vir te lank as die vyand beskou – sonder negatief sal jy niks as positief ervaar nie, want dan was daar nooit ‘n maatstaf nie. Dan sal alles net – wees. Ons sou apaties raak oor dinge wat ons nou opgewonde maak. Sonder negatief sal jy nooit iets leer nie en bloot op ‘n arrogante wyse glo jy weet reeds alles en kan alles doen. Sonder negatief is daar nooit ‘n kruisie wat jy kan omdraai om die plusteken te vorm nie. (En natuurlik, sonder negatiewes sou ons ook geen filmfoto’s kon ontwikkel nie.)

Om die waarheid te sê: dit moet moeiliker wees om positief te bly wanneer daar nooit enige struikelblokke oor jou pad kom nie – dit is baie meer moeite om ‘n plusteken op ‘n skoon bladsy te teken as om bloot die bladsy effens op sy sy te draai om van die kruis ‘n plus te maak. As alles net altyd klopdisselboom gegaan het, sou die lewe vooruitsigloos en uitdagingloos net bestaan het – en ons as die karakters sou soos Sims-mannetjies persoonlikheidloos almal dieselfde wees. (En selfs hulle piepie van tyd tot tyd hulself nat en beland in die swembad al kan hulle nie swem nie – en dit sou nou vir navorsers rede vir bekommernis gegee het.)

Ons onderskat dikwels ons harsings. Positiewe denke sal oorspoel in goeie gesondheid, verhoudings en groei. Dit beteken nie dat jy nooit  op die duurste erf op die Monopoly-bord met 3 hotelle te lande gaan kom nie, dit beteken bloot dat jy genoeg geld gaan hê om hierdie buitensporige tarief te kan betaal – want die dobbelsteen, dié val nou maar eens nie altyd reg nie.

Waarom anders trek negatief positief aan ? Die antwoord – die positiewe groei nes fynbos in suurgrond. (Verskoon die gebruik van te veel metafore, amper so in oorvloed soos Fruit and Vegs se voorraad, maar wat ek eintlik in doodgewone (plain is so lekker woord – Karen het hom Afrikaans vir my gemaak) Afrikaans wil sê is dat: Die negatiewe is nodig vir die positiewe om te groei of altans net meer te blom. (Helaas, ek kan net nie wegkom van tierlantyntjies nie) – opsomming van dié onsamehangende paragraaf: negatief skep geleentheid vir positief.

En die mooi van die lewe, in alle opsigte, is dat ons dit deel – so as iemand ‘n horisontale minus ervaar en die ander persoon ‘n vertikale een, kan hul saam ‘n plusteken skep.

En as ons kan skater van die lag as die inkopie-sak skeur en jy gly op die tweeliter Darling melk op die grond en as ons kan glimlag al sous dit buite – mag ons dalk, net dalk, ‘n maand se gratis melk by Pick ‘n Pay kry en ‘n reënboog sien – want alles is tog relatief, negatief en positief ook.

Shirley

 

 

 

 

Jou beste bes

“Tannie kan sien hoe netjies jy is

hoe presies alles in jou kamer

gepak is    hoe jy jou bes doen

 

hoe jy jou rooster by jou studietafel plak

hoe sorgvuldig jy jou wekker stel hoe

jy as oudste kind net jou bes doen

 

altyd jou bes doen jou heel

beste bes soos wat jy

beste besdoen verstaan

 

maar vanoggend toe jy jou sap omstamp

sien Tannie vir ‘n oomblik hoe angs uit

die hoeke van jou gesmelte groen oë flikker

 

die angs dat bes nie tel nie    dat bes niks

bring of uiteindelik tot niks lei nie dat

bes ander se beheer oor jou is     en veral

 

dat jy dalk net ‘n gewone dogtertjie is        hierdie

tannie weet hoe besdoen jou vir die res

van jou lewe hiermee ongelukkig gaan maak”  -antjie

 

Van kleinsaf word mens gekondisioneer om iets te word. Iets te doen. Nog voor jy kon skryf, moes jou bakbeentjies reguit word en jou treë langer. Jy moes op ‘n vroeë ouderdom begin “blommetjie” naas “mamma” en “pappa” sê. Jou stokmannetjies moes vinniger fatsoen aanneem en jou kwashaaltegnieke moes opgeskerp word.

‘n Mens word twee keer gebore: die eerste keer deur die geboortekanaal van jou ma (of ‘n snit gemaak deur die dokter) en die tweede; die dag wanneer ‘n droom homself huisves in jou brein saam met ‘n skamele honderd woorde, inwoners van die woonbuurt van jou woordeskat. Soos dié woordbuurt uitbrei, word jou droom se omskrywing langer en die motivering uiterbaar.

Dit dryf jou om vinniger te hardloop op die speelgrond, ‘n mooier kerskaartjie in die klas vir jou ouers te maak en mooier te sing in die koor. Dit maak die vorm van e’s ronder, jou leesspoed vinniger en jou tien-punttoetsies se antwoorde foutloos. Dit maak die voordrag van ‘n gediggie hoogstelof-gehalte en die “en toe’s” in jou self-geskryfde kinderverhale minder.

Maar wat niemand weet nie, is dat jou teddiebeertjie in die aand sopnat is, jou wangetjies rooi en oë opgeswel is en jou gemoed stukkend is soos ‘n porseleinpop wat gaargespeel is.

En dan word mens groot. Maar besdoen groei saam met jou soos hare wat nog nie hul eerste haarsny gehad het nie – totdat dit jou verby groei en soos ‘n ongewensde slieër agter jou aangesleep word. Almal trap daarop en trek dit. Dit word vuil en hak aan deurknoppe.

Ons almal se gene verskil en glo dit of nie: die lengte van jou hare word deur jou gene bepaal. Sommige van ons het die geen vir lang hare, terwyl ander se hare nooit langer as skouer- of middelruglengte sal groei nie.

Besdoen word dikwels verstrengel in jou lewe, gekoek. ‘n Vriendin het my nou die dag van ‘n Harvard-studie vertel wat oor die bestek van 75 jaar gestrek het, waar ‘n groep van ongeveer 268 mans gevolg is om vas te stel wat die grootste bepaler van geluk is. Hulle het bevind dat mense verhoudings onomwonde die grootste glimlagte nie net op gesigte maar op harte geteken het en dat geld, sukses, ‘n luukse motor of ‘n duppelverdiepinghuis, in hierdie verband goedkoper as liefde is.

Mense verhoudings en opregte liefde is dus die goue kam om hierdie koeke uit te kam. En as dié koeke eers uitgekam is, is dit jou verantwoordelikheid om jou lang lokke van besdoen te was, vas te maak en met strikkies te versier.

Dit is hoegenaamd nie ‘n versekering dat jou bokstert nie gaan swaar word of jou gaan laat sweet op ‘n vuurwarm somersdag nie, maar dit maak dit effens meer hanteerbaar.

Besdoen is beide ‘n straf en ‘n seëning, maar jy moet self besluit of jy wil hê die wêreld moet met sy vuil skoene daarop trap of dat jy ‘n geliefde gaan toelaat om dit te vleg.

Shirley

 

 

Die lewe is ‘n oester.

“En as dit weer somer is, sal ons gedurende die langbeen aande buite onder die priële gaan wandel om vir mekaar te wuif en as dit donker word met lanterns soos draakoë in ons hande op die getande dakke klouter om na die grommende maan te kyk en ons sal skrylings op die nokke die lewensgeheime fluisterend sit en uitpluis soos gebaarmakende sjinese wysgere (verknies jou nie oor die winterreën nie)” – breyten breytenbach  /wintertroos

As kind het ek altyd langs die strand geloop en skulpies versamel. Waaiertjies, pienk toontjies en groen pampoentjies. Ek het leë mossel- en oesterskulpies opgetel om dit te was en dan boodskappies vir my ma daarin te skryf – ‘n poskaart vanuit die see. Ek het altyd die grootste skulp denkbaar op die strand opgeraap en teen die skulp van my oor gedruk. Die see se golwe het soos drukgolwe deur my koglea beweeg, omgeskakel na impulse en ontleed as die roepstemme van haar blou-blou mond; asof sy die geheime van die spesies wat haar bewoon, ingrid se ongeskrewe woorde, vissermanne se krutaal as die visnette skeur of die seuntjie in Saldanha wat sy blaas verlig, verklap.

Met my emmertjie vol skulpies en tone tussen die bruinsuikerseesand, het ek reeds van jongsaf besef dat mens ‘n toe-mossel- of oesterskulpie selde uitgespoel op die strand vind. Waarom die gesegde lei dat hoendertande skaars is, weet ek nie, maar ‘n toe-oesterskulpie sou beslis die idioom beter kon gestalte gee.

Deur ‘n mens se lewensreis kom daar verskeie karakters, hetsy aangenaam of al dan nie, oor jou pad, maar soos die branders in en uit asemhaal en die boodskap wat in die sand ingegraveer is, weglek, verdwyn mense se name en voetspore gedurig vanaf jou lewensstrand.

Maar soms, bly die naam nie net in die sand behoue nie, maar word daar ook toe-oesterskulpies uitgespoel op jou strand. Vriendskap is soos die pêrels in hierdie oesters, pragtig, blink, fyn en iets van grote waarde – nie van geldlike waarde nie, maar dit is eerder die mooi gebare en liefde wat daaruit voortspruit.

Maar die oesters van die lewe is dikwels ook ‘n paradoks. Hy mag dalk toe wees en belowend lyk, maar somtyds (meeste van die kere) bevat dit nie ‘n enkele pêrel nie en daarom as die gladde skulp uit jou hand gly, help dit nie om vir dit in die sand te soek nie.

Soms bevat die oester ‘n swart pêrel, en hoe mooi ook al dit mag wees, sal dit die estetiese balans van jou wit pêrelsnoer versteur.

Geen oester wat jy oopbreek is ‘n mors van tyd nie, die leë dop mag dalk die woning van ‘n slak van jou verlede word, of die gekraakte dop van ‘n krap in jou gemoed vervang.

Party mense is so besig om oesters oop te breek dat hul dikwels vergeet om die enkele pêrels wat hul wel besit, op te pas en kort voor lank hang daar ‘n leë halssnoer om hul nek.

Ander is geseën met volle halssnoere, ander met slegs ‘n paar waardevolle pêrels terwyl sommiges met ‘n nagemaakte halssnoer spog wat nie in die maanlig skitter nie.

Die lewe is ‘n oester (of oesters), jy weet nooit wat jy gaan vind as jy dit oopmaak nie. Jy moet waag, soek en vrede maak met die teleurstelling wat oor jou lewensstrand kan loop, maar jy moet onthou om die pêrels wat jy wel vind, op te pas en nie dit voor die swyne te gooi nie.

Shirley