Ode aan Cooper

In die gekrulde verlenging van jou rugstring, het ek myself gebêre.  Jou pels het ek om my gebrei soos ‘n woltrui vir daardie dae wat ek soms so bietjie koud kry.

Verder terug in die voue van geheue – onthou ek jou lyfie kleiner as wat dit nou is, daardie langbeen aand in September van 2010. Met jou naelstring vars afgeval – het ek jou toegedraai in jou geel kombersie en huistoe geneem met die noukerigheid van ‘n kardosie eiers dra. Ek was so bang jy sou breek, disintegreer. Ophou asemhaal.

Ek het nie die vaagste benul gehad hoeveel en wanneer jy moet eet. Hoe baie jy moet pee en poep en hoeveel ure se slaap jy per dag (of snags) moet inkry nie. Slaap in ‘n hondemandjie wou jy niks van weet nie. Kort voor lank was my bors jou kussing en my hartklop die agtergrondmusiek in jou hondedrome.

In my slaapontberende toestand het ek wel my graad-6 maaltafels gedek met goeie uitslae en Afrikaans geslaag met nie te veel spelfoute nie – inteendeel, net mooier opstelle.

Toe jy so paar maande oud was en pas die terrible two’s in die honde weergawe betree het (dié weergawe behels die volgende gedrag: Onthoof van lappoppe, gate byt in komberse, ander dinge doen met komberse… , tydskrifte verskeur, ontsnap sonder leiband, gromgeluidjies maak en glo dit of nie – nog met tennisballe speel – ja, Cooper – jy het dit op ‘n tyd gedoen) – maar ja, toe jy omtrent só oud was- toe wys my ma vir my ‘n prentjie agter op ‘n brief aan Vader Kersfees – dit was ‘n klein swart hondjie in my beste kinderkuns geteken op ‘n trap. Die inskripsie het omskryf hoe graag ek só een wou hê daardie jaar. Nou ja, jare na daardie vriendelike versoek het Vader kersfees se Elfies toe tog my adres gevind en nes fiela se hanskind – jou aan my toebetrou. Ten minste betyds vir daardie Kersfees en al die ander.

Ons verbintenis neem ‘n diepte aan wat die verbeelding te bowe gaan – dieper as die geboortevlies van die Melkweg. Groter as Venus – verder as die maan.

Jou gefotografeerde gelaat het my party-trick geword. Jou pels my kleenex, jou oë my bybel, jou geblaf my musiek – soms heavy metal wat my teen die mure uitdryf, ander kere Lisa se klavier.

Sommige mense skryf oor die lane van Stellenbosch, die betowering van die stadsliggies en Parys in die somer – maar ek wil net skryf oor hoe opgewonde jy raak  saans as ek jou hondebakkie slaan soos tamboeryn om etenstyd aan te dui.

So Cooper – long story short – ‘n nobelprys kom jou eintlik toe – vir die baanbrekerswerk wat jy in my lewe verrig het en elke dag steeds doen.

Slaap sag en droom snuffelend van souserigheid vanaand – want jirre my hond, jou geboorte is mirre.

 

(jou) Shirley

 

Jammer vir al die koue aande se voor die hek sit en vir my wag as ek weer gallivant.

 

 

the gentlewoman

“en wie spoel dan uit in die woorde?

wie se skaduwee spoel uit die stilte?

soos ‘n lyk op papier

terwyl jy aanhou beweeg agter die woorde aan

met jou sakke vol klippies

om die ewigheid in te haal

en te stenig sonder

om ‘n wêreld se geraas te maak?

aanhou doen dan

om nie te verslib in skreeuende stilte nie”

– breyten breytenbach

Althena Malgas   Alyssa Botha   Amber Strydom   Amy Biel   Andiswe Zweni   Aneeqah Fakier   Anene Booysen   Angela Marinus   Angelique Clarke-Abrahams   Angelique Harmse   Angelique Vanessa Pattenden   Anika Smit   Anisha van Niekerk   Annatjie Myburgh   Anne Marie Aylward   Anne Roebert   Annette Kennealy   Anni Dewani   Ann-Mari  Wapenaar   Anthea Thopps   Antoinette Botha   Anzunette du Plessis   Arina Muller   Ashika Singh   Avlwe JamJam   Babongile Nzama   Baby C   Baby Jordan Leigh Norton   Beryl Lamberth   Bongiswa Majikijela   Brenda Fairhead   Brenda Rwando   Busiswe Busi Ngwadla   Cameron Britz   Cara Austen Jenkins   Carmelitta Baaitjies   Carol Fabriek   Carol Pienaar   Caroline Jacobs   Catherine Krog   Cathy Purdon   Cecile Potgieter   Cecile Smit   Celeste Smith   Celine Cowley   Ceri Duvenhage McCrae   Chanel de Toit   Chanelle Henning   Chantelle Borcher   Chantelle Matthysen   Charmaine Cannings   Charmaine  Mare   Charmaine Piers   Christel Steenkamp   Courtney Petersen   Cyntheria Rex   Danel Rooskrans   Daphne Mavis Higgins   Dawn Basedeo   Denise Gawler   Denisha Govindasamy   Edwina Thomas   Eileen Allister   Elaine Conradie   Elaine Venter   Eleanor Wyngaardt   Elizabeth Jacomina Dercksen   Elize Juries   Elmien Steyn   Elsje Wouda   Elzona May   Emma Wall   Erika Croeser   Ernestine van Wyk   Esmeralda Isaacs   Evangeline Brockman   Eureka Human   Faith Qwelane   Fatiema Ebrahim   Fatima Patel   Felicia Oktober   Fezikile Ntsukela Kuzwayo   Fiona Harvey   Franziska Blochlinger   Frieda Arendse   Gabisile Shabane   Gabriela Alban   Gail Benting   Gail Stokell   Genoveve Assegaai   Georgia Blume   Geraldine Vienna   Gil Packham   Gina van der Merwe   Gio Arendse   Gwen Wall   Hannah Cornelius   Hansie Visser   Helen Fanaroukis   Helen Janse van Vuuren   Helen Lotter   Helga van Wyk   Henriëtte Phillips   Hester Rawstone   Hester Wessels   Hettie Niehaus   Hilary van Rooyen   Hilda Uys   Hope Zinde   Ilse Barge   Ina van der Berg   Inge Lotz   Isabella Maria Henry   Itumeleng Julia Tsenase   Jade Inggs   Jana van Zyl   Jana Venter   Jandy Pestana   Janet Delport   Janet Scott   Janet Verity   Janine Arendse   Janine Drennen   Janika Mallo   Jayde Govindasamy   Jean Mark   Jill Fernandez   Joan Anderson   Joan Horn   Joan Mark   Jo-anita Schulz   Johanna Charlotte Beangstrom   Jocylin Jolly   Jodene Pieters   Joey van Niekerk   Jolandre Tolli   Jopie Durieux   Joyce Baardman   Joyce Denise Irwin   Julia Fairbanks-Smith   June Nefdt   Karabo Mokoena   Karien Bezuidenhout   Kathleen van Coppenhagen   Kayla Meyer   Kayla Rawstorne   Keelyn Amy Clayton   Keisha Kortjie   Kelly Bain   Kia Fairhead   Kim Lemini   Limeera Rajbunsi   Kungawa Mazembi   Lauren Sleep   Leah Merchant   Leanor Lambert   Lebo Kwababa   Lebogang Lemola   Lee-Ann Palmarozza   Leigh Matthews   Leslie van Zyl   Liesel van der Linde   Liesl Bredenhann   Liesl Nel   Lindiwe Mangxingaza   Lindsay Boyd   Lithemba Jama   Lorraine O’Connell   Lorraine Shepheard   Louise de Waal   Luisa Cristiano   Lumka Payita   Lyn Rush   Lynette Volschenk   Lynne Johnson   Magda Harington   Makhozi Manyayiza   Mandy Mesias   Manene Cairns   Manuela Pietropaolo   Margaret de Goede   Maria Adamson   Marie Ostbo   Marian Bruwer   Marietjie Meyer   Marietjie van Rheede   Marike de Klerk   Marilyn Moses   Maritza van der Merwe   Marna Engelbrecht   Marshay Louw   Meghan Cremer   Melinda Lee Bam   Melissa Heinse   Melissa van der Merwe   Mercia Kotze   Michaela Adriaanse   Michelle Nyumba   Michelle Raymond   Miemie Bergh   Minah Kinnear   Mishka Petersen   Mitashja Lee   Mundolene Venter   Mundolene Vosloo   Mymie Fraser   Nadia Strydom   Naledi Chaka   Naledi Lethoba   Nandipha Phama   Naomi Barkhuizen   Natasha Mans   Nicky Blume   Nicola Pienaar   Nicolene Kroese   Nikita Govindsamy   Nikita Lewis   Noeline Koekemoer   Nokubonga Msolwa   Nolundi Vumsindo   Nompumelelo Nomcebo Basi   Noxolo Xabeka   Ntombi Siphungu   Poppie van der Merwe   Portia Michaelis   Pralenie Reddie   Privilege Mabvongwe   Rachel Dolly Tshabalala   Rachel Saunders   Reeva Steenkamp   Refilwe Masakala   Reinette Vorster   Rejoice Mdluli   Renate Kellerman   Rene Roman   Rene Slater   Rene Vermeulen   Rentia de Wet   Ria Oosthuizen   Riana Louw du Toit   Rina Pringle   Robyn Pearce   rochelle Fourie   Rosa Piel   Rosalie Bloch   Rowena Murray Brown   Roxanne Higham   Rozel Botha   Rubeena Booley   Sadieka Newman   Sakina Grimwood   Samantha May   Sandi Jacobson   Sandisiwe Mona   Sandra Forson   Sharon Potgieter   Shayleen Arendse   Sheila Marais   Sheila Margaret Stander   Shelly van der Walt   Siam Lee   Simni Mfengu   Sinoxolo Mafevuka   Sonja Swartz   Stacey Adams   Stacha Arendse   Stacy-Leigh Philander   Stefani Gouws   Stephne Evans   Susan Abel   Susan Howarth   Susan Rhode   Tamsin Garth-Davids   Tamsyn Verity   Tatum Louw   Tebogo Ndlovu   Tercia Kindo   Tersia Coetzer   Thandiwe Mavanene   Thelma Shirley Koopman   Thembisile Yende   Theresa van Breda   Tracy-Lee Scott Crossley   Uyathandwa Stuurman   Uyinene Mrwetyana   Uzelda Slatter   Valencia Farmer   Vanessa Barends   Veronica Thomas   Veronica Uitenbogaart   Versha Kandasmy   Verusha Padayachee   Vicky McLachlan   Victoria Stadler   Viwe Dalingozi   Vuyokazi Poppie Jane van Wyk    Wilma van Tonder   Wilma Viljoen   Winnie Rust   Yadhana Jadoo   Yolanda Cupido   Yolandi Badenhorst   Yolizwa Sibiya   Zahnia Woodward   Zanele Dumela   Zanele Khumalo   Zarah-Jane Hector  Zelda van Niekerk

en al wat oorbly is lyke op papier.

 

Die dooie kan nie teruggeprop word in die leemte van die lewe se lyf nie. Ek sukkel om die leegte wat ons lewe in Suid-Afrika noem, te verteer. Hoeveel nog, voor die sterre se oë begin traan en die hemelruim kaal staan?

Die maan is die geheue aan vrouwees – maar die maan, sukkel deesdae uit sy sekel om vol te word.

Vanaand is ek intens bewus van hierdie lyf. Log, soos dit deur ruimte beweeg met ‘n slak se ongemak. Bang om in die spieël te kyk  – my as vrou te herken wat die nag (dag) oorleef het – my as Anene te herken – my te herken as Hannah –  te herken as Meghan –  herken as Uyinene – ken as dood – as moord.

Hoe nader jy kom aan ‘n einde hoe verder sién jy – of is dit maar net dat jy moet aanhou kyk oor jou skouer om jou oë nie toe te maak nie?

Ek dink my hul laaste oomblikke in – wat nou bloot aan liggaam uitgewys word, maar nooit weer bewys kan word nie.

In ‘n samelewing waar moord en verkragting opgedroom word deur die jeug so asof dit ewe maklik is as die skink van ink in teks – met die vrou as embleem van die misdaad – rol daar ‘n traan oor die wang van die vrou in die kraamsaal toe die vroedvrou vir haar sê dis ‘n dogtertjie.

Soos ek die hospitaal verlaat deur dieselfde deure waar nog ‘n jong vrou die vorige dag gekaap, genaak en verkrag is – groet ek my mense in my gedagtes, net vir ingeval.

Dis tyd om te ontwaak uit ons woordstilte. Dis tyd om die boot in the water met die skeepvrag gepekel met kanne en kruike en kratte vol name van slagoffers – die diepsee van aandring op verandering, in te laat vaar. Want vrouens is moeg vir die ween van die wind om die wrakke. 

Mans – ek sê weer – julle moet kom help hier waar daar werk is vir vele hande om die dood by die deur af te keer en op te fok.

Want ek is bevrees(gevange), hier waar die see die rotse soen, het ‘n ou skoen vol water uitgespoel – en it’s indeed a long walk to freedom.

 

aanhou doen dan om nie te verslib in skreeuende stilte nie

 

Shirley

 

(Opgedra aan al die vrouens wat hul lewens verloor het bloot omdat hul vrou is)

 

Die strandstand van ons bestaan

‘n Brander sal altyd sy pad strand toe vind.

Seker die soveelste keer wat ek myself kry die lewe staan en gelykstel aan ‘n strand. Daar kan een van twee redes aangevoer word vir bogenoemde herhaling: Een – my kreatiwiteit lê miskien dor en droog soos die binneland of twee – die waarheid herinner jou aan sy bestaan meer as eenkeer.

Ek sal hoop my woord-reservoir is nog nie soos ‘n geflopte koek – droog nie; en dat nommer twee die waarheid heet.

Hoe dit ook al sy – ek kan land en sand gesels oor hierdie strand van my.

Partydae is dit asof die lewe jou wil indoen deur aan jou seashells te probeer verkansel – verkryg van jou eie sheashore. So asof jy weer moet om verskoning vra vir die verkalking van jou verlede – weer moet opdok om jouself terug te koop.

Ander kere weer, is daar ongenooide strandlopers wat die kind in jou gemoed se sandkastele kom plattrap en die kleurvolle sambrele een-vir-vir laat toevou en ingelaai word in die kattebakke terug huis toe – ons almal weet tog niemand het iets verloor op ‘n strand as die skemer eers sy kelkie kom skink het nie.

En onder al daai stand wat die dae korrel vir korrel kom aanvul – lê ontelbare hoeveelhede verlore plakkies, emmertjies, grafies, poppe, ringe, sonbrille, perskepitte, baaibroeke, sonhoede, sjampanje-kurke  – verloor deur hul eens-op-tyd eienaars – ontoegeëien.

Seker ietwat van ‘n paradoks – maar ‘n strand wat aan ‘n mens gelyk gestel is – is geen eiland nie (in ‘n strand se kapasiteit as uitsluitlik dit – strand en met geen beeld op sy lapel nie, is sommige strande wel eilande – toegeken). Die aanslae van die lewe sal altyd hul pad na die soom van jou bestaan vind – want ‘n brander is gemaak om te breek en so ver my kennis strek, breek branders op die strand. Selfs tydens laagwater kom die branders in – hul is bloot kleiner – maak minder nat, stamp minder om, spoel minder seegras uit, stoot laer op teen jou oewers – maar kom kom hulle en breek breek hulle. Branders wys geen id om toegang nie- hul vra nie mooi of stoot die stoel terug na ete nie –  hul val met die deur in die huis in of jy nou in jou baaiklere is of nie.

Die vertroosting lê darem daarin dat as jou Sunday’s best op ‘n dag onseremonieēl gedoop word – dat jy bloot jouself kan monteer op die sand en wag vir die son om jou droog te bak – want as jy eers droog is kan jy al die seer wat aan jou vaskleef, afskud.

Ander dae weer is jy braaf genoeg om die branders sommer uit vrye wil aan te durf. Die wonder van die lewe is dat jy nie altyd alleen hoef te gaan swem nie en selfs op die dae wanneer jy wel moet – is daar êrens ‘n lewensreder uitgekit met verkyker, rooi-swembroek en die hele works wat vir jou uitkyk – wie of in watter vorm dit ook al mag wees.

 

Shirley

 

Sibbe

vir Nastassja

 

Die wonderlikheid van lewe is om na jare nog wakker te word en vlugtig te onthou hoe mens eens ‘n kind was en in tasbare ruimtes van koue en klank ‘n haantjie te hoor kraai, asof hy so pas die wêreld so groot soos ‘n dag geskep het.

As klein dogtertjie het ek altyd my suster verbeel slaap buite op die dakterras bo die stad van glisterende koepels en ‘n versiersuikerde Eiffeltoring as vuurkolom. Ek het geweet ek sal eendag met oop oë lê en kyk hoe die hemel se beweging soos waterverf stol tot die kleure van haar voor die Arc di Triomphe. Ek sou glimlag met die wete dat haar hartsbegeerte gestol is na jare van vloeibaarheid – daar waar sy langs die Seine met ‘n glasie cabernet sauvignon, croissant breek en deel met die eend-halsnoer – van groot na klein gerangskik.  En as mens sou inkyk op dié toneel sou mens jou ‘n Vincent Van Gogh kon verbeel met net genoeg kwashale om te weet dis sy.

Ons albei het grootgeword op cocopops, op gedeelde badwater en op payday speckled eggs en uitstappies na Sterkinekor. Ek het nog altyd geglo die mooiste skeppings kom van die eenvoudigste van grondstowwe – en in my gebroke kennis van kunstenaars en hul heenkome sal ek my suster aanvoer as rede.

Sibbe, susters – beide sinoniem met deel. Die deel van ‘n ma, die deel van ‘n pa, die deel van ‘n baarmoeder, van en stem en soms, soos in ons geval, die deel van ‘n slaapkamer. Per geleentheid het hierdie gedeelde kamer te klein geword vir haar tienerprivaatheid en ek en al my barbies en al my waaroms en al my hoekoms – as mens klein is, is ‘n sesjaar gaping seker meer as net ‘n sprong, maar soos die jare aanstap sluk ouderdom die verskil in. Maar ander kere weer as die nag te helder was vir slaap – het ons mondmaak ‘n net geweef om die sterre een vir een mee te vang soos skoenlappers. Ek was boonop bang vir die donker so deel was nie regtig ‘n vuurhoutjie vir kla as jy my sou vra.

As die lewe die nerf van my knie kom afvee het, het sy die sekelmaan uit die lug gehaal, die sterre tot garing geweef en my seer toegesteek. Die wonder van wonde deel is om mekaar te belet om rofies wat soms jik – oop te krap.

Om ‘n ouer suster te hê is om haar storieboeke van kant tot kant te lees as sy al lankal daarmee klaar is en tot dieselfde of soms ander gevolgtrekkings te kom. Om te sien hoe sy grootword terwyl jou eie voete nog nie in haar nou-te-klein-vir-haar skoene pas nie – en dan op ‘n dag soos Aspoestertjie dit aan te trek en ander myle daarmee te stap, maar steeds tot ‘n mate weet hoe dit voel om in haar skoene te loop.

Ek dink nie mens kan ooit volkome kind wees sonder baklei wie soggens voorry. Kinderjare sal bloot buitelyne hê sonder ‘n suster om dit bont in te kleur, oor die lyne en binne die lyne met die vetkryte van vetpret.

Om ‘n suster te hê is soos om vir jouself in die spieël te kyk – na te boots, te reflekteer en te weet daar is altyd iemand daar wat vir jou loer as die dag kantelson en een plus een nie meer twee is nie.

 

Shirley

Sans

– sonder

 

Hulle elkeen staan daar – soos ‘n voetnoot onder die onleesbare bladsy geskiedenis.

Staan daar met hul penne sonder ink, met hul reënverweerde kartonbokskante en vra om kos, vra om werk, vra om skuiling en bedank die Here by voorbaat. Hulle elkeen staan daar – Sans. 

Die verkeerslig slaan groen en ek versnel sans om ‘n vyfrand te laat klink in die leë tamatiesmoor blikkie. Sans oplossing. Avec (met) frustrasie.

Het iemand koffie oor hul lewensverhale gemors en die ink laat vloei; of het die pen opgedroog; of het ‘n kind met vetkryt die toekoms bekrap? In watter hoofstuk is die plot verdraai? Het die dwelms en drank eerste gekom of is dit eers gebore in die strate? Het hulle alle familie-lede se telefoon nommers verloor of het almal nuwe simkaarte? Of is dit bloot net dat die gebruik van please-call-me’s gestaak is?

 

Die oggende wat ek deur Boston kampus toe ry – rys die bedelaar bevolking soos vetkoekdeeg in die lou oond. Gaargebrand, uitgeteer soos snoekgraat en uitgespoeg op die straat. Elk sing min of meer dieselfde deuntjie en ek en my mede motoriste met ‘n bestemming aan stuur van óns reis – was ons hande in onskuld – in ons verdediging – waarin moet ons dit was – as al die landswater reeds deur armoede besoedel is en as die drol in die drinkwater ‘n staatsgeheim is?

My oë lees die permanent marker op sy karton: “Help asseblief met kos en werk. Die Here bedank u.” Daarna lees my oë ‘n politieke party se blinkgedrukte “Let’s build South Africa together” langs ‘n man wat breed glimlag in pak en krawat. En ek sidder om te dink waarvoor die here my bedank?

Die lig slaan groen en ek versnel tot die volgende stilstand langs nog ‘n prototipe; langs nog ‘n plakaat wat Suid-Afrika propageer as die tuin van eden. Die keer man en vrou – kaalgestroop soos Adam en Eva – en ons almal bewus van hul naaktheid versnel voort in ons gekleedheid.

In die wegdraai – draai ek my kop – en dis toe toe ek die paar ogies tussen die vrou se bene vir my sien loer – Hongerogies.

Ek ry verder, op pad kampus toe, op pad om nog babas in armoede in te help, om nog babas huistoe te stuur met die skyn bate van ‘n child-dependancy grant. Om nog siek-briefies uit te skryf dat die skool sal verstaan waarom sy al vir ‘n week wiskunde misloop.

Wat staan ‘n mens te doen? Gee jy ‘n stukkie brood? ‘n Slukkie water dalk? Of kleingeld met berisping daarby?

Wil vir my voorkom asof die Here nie vir almal opgestaan het nie –

Ode aan Juffrou Bekker

Opgedra aan Juffrou Erika Bekker, my laerskoolonderwyseres, wat na 28-jaar by Laerskool Bellville-Noord, uit die onderwys tree.  

Mens kom nie net iets sleg oor nie – mens het ‘n bloutjie geloop. Mens sê of doen nie net iets te laat nie – dis soos mostert na die maal of die koeël is deur die kerk; mens storm nie net by die huis in nie – mens val met die deur in die huis. Mens is nie net mensku nie – maar mens ry met Jan Tuisbly se kar; mens is nie net versigtig nie- mens is eerder bang Jan as dooie Jan. Mens is nie net doodgewoon of ‘n plain Jane nie – maar ‘n Jan Alleman. (Bygesê êlke Jan Rap en sy maat se  naam is ook Jan). Mens is nie net baie slim nie – maar so slim soos die houtjie van die galg. Mens verklap nie net iets nie – maar mens laat die aap uit die mou. Dis nie net jou swakheid nie – dis jou Achilleshiel. Mens is nie net verlief nie – mens is beenaf. ‘n Uitverkoping is nie net ‘n sale nie – dis ‘n appel-en-ei-verkope (toegegee: ek het hierdie een so ietwat gebeitel).

Nou as jy ‘n goeie begrip het – hoef ek seker net ‘n halwe woord te gee en jy sal weet dat beenaf is ek oor my taal. En as daar nou een persoon is wat soos ‘n paal bo water uitstaan vir hierdie eenbeen-liefde van my –  is dit Juffrou Erika Bekker. Ek dink ek het met my gat in die botter geval toe Juffrou Bekker oor my pad gekom het. Om die waarheid te sê – toe ek hoor ek is in juffrou se klas – het ek die koffie gedrink soos die kan hom skink.

Vir haar – was geen gedraadsit, geen getou-ingooiry, geen gegouer by die bak as by die vak aanvaarbaar nie. Volgens haar – kon ons net die badwater uitgooi en nie die baba nie.

Sy het my ook nooit laat vergeet dat die berg (meestal) ‘n muis baar; sy het my my eie berg maak hike as ek een van ‘n molshoop geskep het. Sy het my leer liefword vir my taal.

Sy het my geleer dat my wortels nie net vertikaal maar ook horisontaal moet strek na die wortels van ander – want die lewe is ‘n rukwind en hoë bome vang die meeste wind. Sy  sou tien teen een nou gesê het – ek is net besig om mooi broodjies te bak met dié inskrywing aan haar. (Maar ek kan nie net met ‘n mond vol tande bly sit as laerskool orrelstryk gegaan het te danke aan haar)

Nou kyk – my oggend en môre-praatjies stem nie altyd ooreen nie (ek heet maar ook net mens – so indien jou huis ook ondergeskik is aan die derde varkie s’n en soos myne van glas gebou is – moenie klippe gooi nie) – maar net soos ‘n koei ‘n feit is – was sy aan my adres gerig.

Sy het my geleer om nooit wie ek is vir ‘n bord lensiesop te verkoop nie.

Sy het my geleer om altyd te onthou dat tussen die hand en die mond val die pap op die grond – maar dat mens dan net gods water oor gods akker moet laat loop.

Haar hande het verniks verkeerd gestaan nie.

Sy het my ook geleer om nooit die persoon te word wat my ouma leer om die paplepel vas te hou nie. Bygesê – ook te skep as dit pap reën die dag.

Sy het my geleer dat ons elkeen seer het – ons almal eet dieselfde poeding maar net met ‘n ander sous. Dis soms ‘n moeilik en bitter pil om te sluk, maar selfs hierdie bitterigheid in die mond, maak die hart gesond.

Sy het my geleer dat die môrestond altyd vir my goud in die mond sal hê.

Sy het skoolgegee met die ingesteltheid van: die een hand was die ander skoon.

Juffrou kon land en sand aanmekaar praat – oor koeitjies en kalfies – oor murg en oor been.

En al het ek my kinderskoene ontgroei – my skoolbaadjie opgehang – is dit juffrou se handskrif wat staan voorin my HAT nes die dominie s’n in my Bybel. Juffrou dan tog die persoon wat my gedoop het in ons taal. Leer praat het met werkwoorde aan die einde van sinne, dubbel nie’s en leer loop in die een rok en twee skoene van die woord Interessant.

Ek het nou ‘n Kaapse draai geneem om eintlik net te sê: Juffrou Bekker – ek haal my hoed vir juffrou af – vir die 28 jaar wat juffrou die evangelie van klinkers, konsonante, woorde,  digters en geskiedenisfigure gestalte gegee het in die wese van hordes kinders – want daar sal nooit enigiemand by Juffrou kan kersvas hou nie.

 

Shirley

 

Ns. Jammer as ek partykeer voor op die wa was, of myself rammetjieuitnek gehou het – maar die kool was darem die sous werd – sien – ‘n oogappel is mos maar eintlik die spreekwoordelike toffie-appel.

 

 

 

 

 

 

Die kat se blad

Die kat se blad – lek dit nat dan weet jy wat.

Ek wil nou nie op tone trap of soos klein klippies in skoene wees nie, maar ek is amper net so moeg vir al die amateur raadgewers op sosiale media soos vir die Harcourts-eiendomsagent wat my elke dag om elfuur bel en vra of ek “my” huis in die mark wil sit.

Om die waarheid te sê – finished soos ‘n staysoft-bottel wat maandeinde al drie keer gedilute is met kraanwater vir nog ‘n bondel wasgoed.

Sosiale media, hetsy die platform, Instagram, Facebook, Twitter (gebruik iemand dit nog – naas Trump en Zille nou) of selfs ‘n blog is – bly ‘n fantastiese platform om kwessies aan te spreek, inligting te deel, wêreldnuus mee te versprei, opvoedkundige punte aan te raak, deel te neem aan gesprekke rakende (kontroversiële) kwessies, stokperdjies mee te deel, resepte aan te stuur of selfs net ‘n private dog publieke foto-album te skep.

Alhoewel deesdae het ek al ‘n paar kleintjies dood aan diegene wat die platform heeltemal misbruik. Diegene wat dag in en dag uit lewendige stories maak van hoe hulle besig is om ‘n pakkie in die pos oop te maak – alhoewel ons almal reeds op die ouderdom van drie instinktief weet dat ons ‘n knoop net met twee hande en meeste vingers los kan maak. Diegene wat heeldag die nuutste gesondheidseise maak en dan oor ‘n maand hulself weerspreek met ‘n nuwe een. Diegene wat altyd voor in die koor is om die volgende millennium-hype se lof te besing. Diegene wat hul lyf dieetkundige, dokter, prokureur, joernalis, sielkundige en nimmer eindige hoeveelhede ander profesies hou.

Dit alles terwyl sekere mense jare lank gaan swot het of besig is om te swot – nie gratis nie, maar met ‘n string lenings agter hul naam nog voor enige sente hulle kante kom. Terwyl laasgenoemde by professionele liggame soos die HPCSA onderandere geregistreer is – reeds as studente – wat dus nie net sekere stellings kan maak indien dit nie op gegronde, nagevorsde feite (evidence based research) geskoei is nie.

Die leek verstaan dikwels nie – dat indien mens as ‘n professionele persoon sulke stellings maak wat iemand moontlik in een of ander manier leed aan kan doen – dat mens gedagvaar kan word en mens se loopbaan wat skaars begin vorm kry het, in die drange geplaas kan word. Maar in tussen sit Sannie in haar woonstel in Kloofstraat en praat met haar foon sonder om te blik of te bloos. Nie met ‘n mens in lewendige lywe nie, nee – met die vyftig duisend volgelinge wat almal al te graag luister net soos ‘n hond wat vir ure voor die spieël spring en blaf sonder om te besef dis hulself. Maar so ploeter ons voort as blindes met die Eenoog as koning – en vreet alles vir soetkoek op – min wetend dat vanaand se gluten free koek môre-oggend nou gluten in het maar genadiglik eggfree is.

As vrywaring wil ek dit ook net duidelik maak dat ek weet dat baie mense inligting deel wat wel op navorsing gebaseer is en wat wel bleik om die waarheid te wees (niks is tog absoluut nie, sekere dinge sal altyd ‘n veranderde kuns bly); en tweedens sal ek myself weerspreek as ek nie te kenne gee aan die die feit dat inligting en die vrye toegang daartoe beslis mense bemagtig om goeie keuses uit te oefen – ek meen bloot dat mense moet onthou dat die leek alles sal glo wat hul op die internet lees – en daarom is dit belangrik om hul te laat glo in waarhede. Ek besef ook ‘n derde ding – dat die onkunde dikwels wederkerig is en dat dit nie gedeel word met die bedoeling om onakkuraat te wees nie.

Dit is dan ook so dat sekere kwessies wel deur gekwalifiseerde persone behartig moet word. Mens sal graag wil glo dat mens net iets kan google en jouself kan genees van alle kwale en skete- maar daar is egter ‘n rede waarom diegene wat wel in sekere rigtings in spesialiseer dit doen en waarom Universiteite dit noodsaak om dit as kursusse aan te bied.

Ons het almal die reg tot vryheid van spraak, die reg tot vryheid van uitdrukking, die reg tot inligting – maar ook die reg om nie mislei te word nie so daarom – ter samevatting – deel met diskresie, deel binne perke en neem alles wat jy lees met ‘n knippie sout.

Nog iets wat my geduldgraatjie staan en uitraffel is dié wat skyn mindfulness nastreef op hul instagram accounts – maar vir die volle uur van die hike sal hul besig wees om met hul foon te praat en vir Candice in die Paarl te vertel en te wys oor hoe goed die klank van die voëltjies nou vir hul gemoed is – terwyl al wat ek hoor die gepraat met ‘n foon is wat die stilte ontwrug en spreek dit nie tot mindfulness nie, maar eerder tot ‘n mind full van hulself en hul foonverslawing en hul skyn insta-fame en alles behalwe teenwoordigheid.

Jy kan die kat se blad natlek – maar ek is bevrees jy gaan nie weet wat nie. Laat die kat maar homself natlek as hy glo hy is vuil.

Ns. Laaste ding – moet asseblief nie deel hoe en wanneer jy bowel movements beleef nie – vertel dit vir jou dagboek, ma of dokter.

 

Shirley

 

 

Glimlag

Glimlag 

 

Bietjie geluk is al wat mens nodig het 

soos spekko rice 

it goes a long way 

(een koppie glimlag – vier koppies geluk) 

 

– Shirley 

Met die hartseer wat saam met die blomme dié jaar bloei in die nuus, het ek en my een vriendin (Nadia) ‘n nuwe gebaar ingestel – om om seweuur elke aand vir mekaar ‘n boodskap te stuur oor ‘n oomblik in die dag wat ons laat glimlag het.

En al klink hierdie taak so eenvoudig soos die konstruksie van ‘n stokmannetjie met vetkryt – kry ek my meeste aande vir ‘n kwartuur lank en wonder en besin oor wat dit presies daardie dag was; en soms kan ek bloot net nie onthou nie. Ek kan boekdele skryf oor die antitese van hierdie oefening terwyl die mooi my dikwels ontgaan.

Miskien is dit omdat ek dink dat wat ook al dit is of was moet vreeslik goed op papier (of altans) skerm klink of lyk. So asof die oomblik perfek gecurate moet wees dat die ander persoon dit vir hulself kan indink. Asof ek die oomblik afwater tot niks as ek dit herhaal in my gedagtes en dit eweskielik so doodgewoon klink – so asof ek bang is dat dit nie genoeg van ‘n oomblik was om ‘n glimlag te regverdig nie. Asof die glimlag moet wees oor weeldige laventel lane in plaas van kleine madeliefies wat tussen die onkruid dans. Asof dit nie kan afspeel teen ‘n vibrecrete muur in plaas van teater-gordyn nie.

Met die koms van die son, het ‘n nuwe seisoen kom loseer in my gedagtes. Sonder vorm soos ons ken, of met geslag gebrandmerk – bloot geken aan die naam – wyshede uit die oude doos, sit ons twee toe een dag en praat oor ‘n koppie koffie. En net daar in ‘n oomblik  van suisende stilte, soos daai oomblik voor die uitpaas, besef ek – dat dit is juis dit – die mooi skuil in die klein goedjies – elke glimlag verdoesel en toegedraai soos ‘n papawer wat wag om gebore te word en die steeksel-kappie af te gooi.

Ek was nog nooit een vir dassie te veel stert kry nie (gesê van iemand wat eweskielik hoogmoedig raak) – dit nou oor toekennings of sulke dinge. Partykeer as ek iets behaal en mense my versmoor in gelukwensings is ek dikwels die een wat ‘n glimlag in waterverf op my gesig drapeer – gelukkig – maar dit voel net soos nog ‘n oomblik, terwyl ander mense besig is om namens my olieverf werke gestalte te gee – dakkuns daarvan te maak (dit opsig self is baie mooi – dat mense so bly vir ander kan wees). En dan is ek dikwels skaam om te erken dat my koffie wat vanoggend perfek gerooster is, of die feit dat ek my hande op die heel laaste vegan millionaire gekry het (van Thankgoodness Foods – ek is verslaaf om die minste te sê) of dat my nuweling digbundel nog na die drukkers ruik; my eintlik gelukkiger gemaak het, wel altans van oor tot oor laat glimlag het. Of soos die gevoel van ‘n ontwikkelde spoel terugkry, of as woorde net langs mekaar wil staan as mens ‘n gedig aanmekaar weef. Of as iemand vir jou iets bak. Of as Cooper sy gesig trek so asof hy gekookte eier ruik en dan soos ‘n mens nies. Of as ‘n drukkie van iemand die arms van angs om jou borskas verlos – as al hierdie dinge in isolasie jou meer laat glimlag as ‘n konstelasie goeie punte, sertifikate – bly ek maar stil en oorreed myself dat dit hoegenaamd nie die rede kan wees vir Maandagoggend se glimlag nie.

Ek is in die proses om myself te leer om nie vooropgestelde idees te hê oor wat my gelukkig maak nie. Ek is besig om myself te leer dat al klink wat ook al dit was wat my laat glimlag het hoe banaal vir my, dat dit vir Shirley gelukkig gemaak het. Want dikwels staan ons buite ons liggame en kyk onsself deur van kop tot tone en kritiseer onsself van top tot tone en beskuldig dan ander dat hulle die heeltyd vir ons kyk – terwyl dit eintlik ons is – ons kyk vir ons en ons sê vir ons waarvan ons mag hou en waarvoor ons mag en nie mag lag nie.

Maar op die ou einde van die dag is dit die bestanddeel wat in die kleinste hoeveelheid in die baksel ingegooi word, wat die koek laat rys.

En daarom kan ons (ek) dikwels nie onthou wat ons (my) laat glimlag het nie – aangesien dit dikwels soos Wally tussen alles anders skuil. Maar met oefening – oefening sonder kompetisie (bygesê), kan mens jouself leer om atent daarop te wees as jy wel lag – dat jy stil staan en werklik voel hoe dit voel om jou mond te trek. Hoe die wêreld lyk deur glinserende oë wat soos ‘n  brekende brander oor jou gemoed kom en gaan.

Vind jou bakpoeier vir elke dag. Glimlag.

Shirley

Ns. Dit is seker dus heel gepas dan om te deel wat vandag my laat glimlag het – dit was ek – ek het myself laat glimlag want ek het gedans in die stort as ‘n special addition tot my gewone net-sang.

Gister was dit Pistacchio gelato.

Eergister – die pienkvygies wat die paadjie na die lesingslokaal omsoom en my herinner het aan die warmer weer.

 

 

 

 

Dit is die taal van my hart

Ek wens vandag my taal kon vir haarself opstaan en ‘n interdik kry teen al diegene wat haar misbruik. Al diegene wat haar kaaluittrek. Al diegene wat haar saam met die vuilwasgoed op die draad hang vir die duiwe om op te kak in die verbygang. Al diegene wat haar die spaghettihaarmop maak om die gemors agter hulle op te mop. Al diegene wat haar fop en omdop op haar kop totdat sy soos Vreemdeling in Jerusalem in ons Universiteite rondloop, saam met die potte saans in die kombuiskaste gebêre word om saam met môre aand se kapokaartappels opgekook te word – die rou uit haar uit te bak – stadig oor lae hitte – bewaar net jou siel  as jy vergeet om te onthou dat jy mashpotato saans (saam met jou bangers) eet en nie kapokaartappels nie.

Ek dig in my taal. Ek ontsyfer trane in my taal – of die tande wat jy vir my wys. Ek slaap in my taal en vleg nie-fiksie sprokies in my brein met mense sonder figure, dae sonder ure. Ek huil in my taal. Ek wys mindervinger in my taal. Ek is lief in my taal. Ek word gelief in my taal. Ek skinder in my taal en bak poetse in my taal teen 180 grade. Ek eet in my taal. Ek breek appelkose oop in my taal. Ek groet in my taal. My taal kleur die buitelyne van ‘n blindeman se ervaringsraamwerk in – met oorgawe en oor die lyne. Ek is grootgemaak in my moedertaal wat my eerste woorde, sinne geborsvoed het.

Maar my woorde word gereduseer tot die taal van die onderdrukker. Die taal van ‘n rasis – en ek en my taal word voor die hof uitgedaag, sonder regsverteenwoordiger, sonder stem, waar ons verhouding op die keper beskou word – gevonnis word – opgesluit word.

As ek wou vloek in my taal – kon ek. So ook kan ek dit doen in Engels, Xhosa, Duits of elke ander taal. As ek wou haatspraak in my taal – kon ek – so ook in Engels, Xhosa, Duits of elke ander taal. As ek rasisties wou wees in my taal – kon ek – so ook in Engels, Xhosa, Duits of elke ander taal. As ek wou seermaak in my taal, kon ek dit ook doen – so ook in Engels, Xhosa, Duits of elke ander taal. Maar ek kies om sonsondergange te vertaal van natuurbeeld tot woord.

Om iemand te takseer op sy baadjie is verkeerd – maar so ook om die baadjie te takseer op die draer. Ek ontken nie die verlede en die feit dat my taal die onreg aangedoen is om as tolk die Apartheidsera aan die gebroke nasie te verkondig nie. Om saans die propagande te lees op die sewe-uur nuus of om op bankies en kleedkamers se deure mense te verdeel nie.  Maar taal diskrimineer nie teen die monde wat haar kou en verteer nie. Sy is bloot die verf – maar ons as die skilders kan met haar maak en breek soos ons lus kry – ons kan besluit om net gedrogte te skilder met uitsluitlik swart en navi blou  gemeng met rooi tot ‘n bruinwarboel. Of, ons kan besluit om granaat met tulp te skilder, dubbelreënboë oor oopvlaktes en bokbaaivygies. En dan natuurlik – kan ons besluit watter van dié twee kunswerke ons in ons leefarea gaan ophang.

Maar asseblief – kan ek net dig – dit het fokkol met politiek uit te waai.

Shirley

 

 

 

 

Klaasvakie

Snaaks hoe alle woorde wat iets in verband hou met slaap, lang klanke bevat – slaap, vaak, aan-die-slaap-raak, gaap, saans, maan, droom, kussingsloop en dan Klaas self ook – die vaakmaak soldaat wie se residu ons almal in die oggende uit die hoeke van ons oë uitvee – ook heel kreatief genoem: slaap. Teen die tyd wat mens al dié lang klanke gevorm het, word mens skoon lomerig.

In my geval overstay Klaas partykeer sy welcome  en maak van my ‘n klas-vakie  – ‘n persoon wat vaak word in die klas. Alhoewel net Klaas sal weet hoe hy dit regkry om oor soveel drumpels in een dag te loop – hy gee selfs vir Vaderkersfees ‘n run for sy money – blêddie hoogtyd dat mense deur die lugkasteel van boetie het nog ‘n trokkie nodig – die jaar in blou, begin sien.

Maar waarom dan is Klaasvakie deesdae op dagskof en nie nagskof nie? Wie is aangestel in sy plek – en hoeveel betaal ons hom?

In die nuutste National Geographic tydskryf skyn Michael Finkel ‘n interessante en insiggewend blik op slaap. (So dus – uit die staanspoor was ek my hande in ontskuld – enige onakkuraathede kan dus met die einste primêre bron opgeneem word. Ek is altans per slot van rekening nie joernalis nie – bloot verslaggewer van my realiteit en verstaan).

As mens slaap gaan jou liggaam op ‘n wonderlike reis. Jou bewussyn gaan klim soos busbestuurder een tussen die tasse in en gaan rus terwyl busbestuurder twee agter die stuur inklim. Jou liggaam word bykans verlam, jou oë dans agter geslote ooglede like no one is watching en die klein spiertjies in jou middeloor beweeg asof die doodse stilte musiek vir jou ore is. (Die paragraaf is ‘n sensoriese pakdonkie – net soos jou brein wanneer jy slaap).

Slaap is ‘n fenomeen van die menslike kondisie waaroor verskeie wetenskaplikes en filosowe oor die eeue heen bespiegel. Sommige het die lof daarvan besing terwyl ander afkeurig hul ooglede gesluit het teen die agterdoek van “onproduktiwiteit”. Maar ongeag wie gemeen het die see is blou en wie meen dit is kruisementblaargroen – beide kon nie verby hul ooglede kom wat buig as die donker kom nie.

Slaap is as so belangrik geag, dat die 2017 Nobelprys in Mediese fisiologie aan Jeffrey C. Hall, Michael Rosbash en Michael W. Young toegeken is vir hul navorsing in die molekulêre meganisme van die sirkadiese ritme – ons biologiese klok. Kranige vliegtuigsitters sal al te goed weet hoe dit voel as mens neuk met dié horlosie se meganisme – vlugvoosheid is nie ‘n grap nie (wel so sê hulle). In die lange duur kan ‘n inmenging met die liggaam se sirkadiese ritme verband hou met ‘n verhoogte risiko om siektes soos diabetes mellitus (suikersiekte), dementia en kardiovaskulêre siektes te ontwikkel.

Die een-en-twingtigeeuse leefstyl het egter min respek vir die son se doen en late en kan ons nog ‘n byvoeglike naamwoord by ons huidige era plaas: Slaapontberende.

Ons lewe in ‘n slaapontberende era.

Orals om ons is alles belig; alles flits en beweeg – van rekenaar -, slimfoon – en televisieskerms tot lampe, karligte, advertensies, diefafwerende buiteligte. Kort voor lank is dit erger as ‘n strand op nuwejaars daar binne-in jou brein – vuurwerke van gejaagdheid wat jou probeer oorreed dat slaap ook on-the-go gegryp kan word soos ‘n croissant en koffie.

Selfs Thomas Edison, die man wat die kers uitgeblaas het my sy uitvindsel – die lig, het gemeen slaap is absurd, ‘n slegte gewoonte. Hy mag dalk die lig uit gevind het – maar hierdie was beslis nie een van sy lightbulb moments nie – dit is eerder ‘n uitspraak wat saam met sy ander 1000 floppe in die donkerhoekie kan gaan sit. (Alhoewel – innoverende bemarking wat hy daar beet het).

Is die kool die sous werd? Is slaap broodnodig – of eintlik slaapnodig vir ons oorlewing?

Kom ons beskou die verskillende fases van slaap op die keper:

Fase 1: Al kan ons as mens nie besluite neem nie (lees hier in – Ek as Shirley kan nie besluite neem nie), hou ons brein – glo dit of nie – eintlik daarvan om of in die sitkamer of slaapkamer te wees, hy staan nie in deurkosyne nie, hy gaan of ‘n vertrek binne of verlaat een – jy is dus of wakker of aan die slaap.

Tydens die eerste fase van slaap, die sogenaamde vlakwater fase, stel jou pynappelklier (pineal gland – ja ek weet – voor jy klippe gooi, gaan kyk, die woordeboek sê so) melatonien vry. Jou neurone skaf die donderstorm in jou  brein af en begin ritmies en egalig boodskappe afvuur en word jou bewussyn inwaarts gekeer – weg van die wêreld. Jou sensoriese reseptore word gedemp en jy slaap.

Na sowat 5 minute word ‘n reeks vonke vanuit die diepbrein afgevuur tot in die  serebrale korteks – die huis van taal en bewussyn. Spindels word sodoende gevorm en so verlaat die brein vertrek een in ruil vir vertrek twee.

Fase 2: Die brein is nie minder aktief gedurende die nag nie – die brein is net aktief in ‘n ander manier. As wakker en slaap sport en kuns-en-kultuur was, sou ek skat dat gedurende die dag is die brein besig met sport – en gedurende die nag met kuns-en-kultuur – die fyner naianse van die lewe.

Spindelvorming is uiters belangrik om kennis wat gedurende die dag verwerf is, vas te sement in die geheue vir korttermyn sowel as langtermyn herwinning – soos ‘n biblioteek boek wat mens nou uitneem vir die prentjies en later gaan wil lees. Navorsing toon dat hoe meer iemand voor die aand se nagrus blootgestel is aan nuwe inligting en dinge, hoe meer spindels word daardie aand gevorm. Die aantal spindels wat gevorm word hou ook sterk verband met ‘n persoon se IK en die vermoë om te onthou.

Party kenners meen dat slaap sekere verbande tussen verskillende brokkies inligting en gebeure tref wat mens nooit in ‘n volle bewuste toestand sou kon tref nie – nou weet ek ook hoekom ons as mens gedurig oor dinge wil slaap – dis nie net ‘n oumens gesegde nie.

Die wakker brein versamel en die slapende brein sorteer. Maar hy sorteer met ‘n brein van sy eie.

Slaap vleg die herinnering van gebeure so diep in ons menswees in, dat baie kenners meen dat dit voordelig sou wees vir soldate om 8 ure wakker te bly na ‘n traumatiese ervaring om post-dramatiese stres sindroom later jare die hoof te bied.

Na dié spindelvorming (wat sowat 50 minute duur en sporadies daarna) is jou brein oor die hond se rug wat die slaapreis betref. Jou hartklop verstadig, jou bloeddruk neem dus af sowel as jou liggaamstemperatuur. Die laaste wortelgaringetjie van jou verbintenis met die realiteit breek en jou slaap verloor sy melktande en verruil dit vir meer permanente, grootmenstande – die ware Jakob – fase 3 en 4 – diepslaap.

Fase 3 en 4, ‘n tydelike koma-toestand wat die liggaam betree, is net so belangrik vir die brein soos kos vir die liggaam (en die brein). Dit is die sogenaamde huisvrou tydperk – vir skoonmaak en nie vir droom. Om wakker te wees is uitputtend – glo dit of nie, maar daardie rit huistoe in die verkeer, of die flankeer met die persoon in jou klas, of die langwag in die ry vir daardie koffie – is alles gedragspatrone wat deel is van ons stryd om oorlewing – bloot omdat ons nie diere moet afweer met stokke en skuil in grotte teen die reën, beteken nie al hierdie moderne dinge verg minder van jou breinkrag nie.

Dit is gedurende hierdie fases van slaap wat die liggaamselle groeihormone vrystel om dooie weefsel te vervang. Slaap is ook nodig om ‘n gesonde immuunstelsel en bloeddruk te verseker.

Maar dit is nou maar eenmaal so – mens kry slaap en dan kry mens slaap. Indien mens se liggaam nooit die dieper fases van slaap betree nie, word verskeie van hierdie funksies nie verrig nie. Dit kan dus ‘n mens se vermoë om jou gemoedstoestand te reguleer, inhibeer of bloot die herstel van ‘n verkoue ‘n onbegonne taak maak.

Verder veminder ‘n goeie nagrus ook die risiko om dementia te ontwikkel. Hierdie stelling is geskoei op navorsing wat op muise aan die Universiteit van Rochester in New York, gedoen is. Maiken Nedergaard het hiermee bewys dat die neurone gedurende die dag dig teen mekaar gepak is en die intersellulêre ruimtes gedurende slaap met sowat 60% toeneem in grootte. Hierdie vergrote ruimtes skep ruimte vir die spinale vloeistof om gevormende metaboliese afvalstowwe, onder andere beta-amiloiëde, te verwyder.  Indien hierdie stowwe sou op-hoop in die geval waar die liggaam nie hierdie besemstokaksie gegun word nie, kan Alzheimers aan die einde van die cul-de-sac staan met ‘n oop voordeur en kort voor lank sal selfs die straatnaam duister word.

Fases 1- 4 is bekend as die sogenaamde NREM fases. Daarna begin mens droom tydens die REM-fase: Rapid Eye Movement fase. Om te droom is om onoorwonne te glo jy sien wat nie bestaan nie, jy aanvaar dat tyd, plek en mense hulself in enige vorm kan giet, onthul soos die droom ontvou en verdwyn sonder waarskuwing. Om te droom is ‘n tipe psigose.

Die inhoud van droom is ‘n delikate meganisme. Daarin giet ons die soeke na die groter betekenis agter nuutverworwe oomblikke.

Selfs al is geen voetspore van ‘n droom te sien in die môreson nie, droom mens steeds. Inteendeel – ‘n teken van ‘n gesonde nagrus is juis nie afwesigheid van herroeping.

Drome is ook al gekelterhalter deur vals profete – drome is nie bloot oogwink-flitse nie, drome strek bykans oor die hele REM fase, bykans  2 ure. Nietemin, drome verouder saam met mens en neem af namate die verjaarsdagkaartjies meer word en die sjokoladekoek nie meer so exciting is soos op 7 nie. Dit kan toegeskryf word aan die feit dat die brein se soepelheid afneem en dus minder nuwe herinneringe gedurende die dag bymekaar gemaak kan word – of altans onthou kan word teen die tyd dat die bedlampie afgeskakel word.

Pasgebore babatjies slaap sowat 17 ure per dag waarvan die helfte in die aktiewe REM-toestand deurgebring word. Selfs in die moederskoot reeds – verkeer die fetus in ‘n konstante tipe REM-toestand waarbinne die brein oopgevou word.

Tydens aktiewe droom is beide die produksie van serotonien en norepinefrien geheel en al afgeskakel. Daarsonder kan breinselle nie behoorlik kommunikeer nie en word mens se vermoë om te leer en te onthou verlam. REM, anders as die komatose fase 4, verg net so veel energie van die brein soos die wakkertoestand.

En Freud was reg – drome is ‘n afgewaterde weergawe van ons primitiefste van emosies. Droom word gereguleer deur die limbiese sisteem – ‘n diepbrein sisteem wat die tuiste van ons oerinstinkte is: aggressie, vrees, liefde, vreugde en liefdemaaklus.

En al voel dit of nagmerries te veel oornag in ons stalle – is dit nie die reine waarheid nie. Dit mag dalk net voel asof ons meer nagmerries as gelukkwekende drome beleef, maar dis bloot omdat die merries oor die vermoë beskik om ons oorheerssisteem te aktiveer, ons sodoende te verwek en te verwittig.

Tydens REM word die spiere van die oog en die ore gestimuleer deur middel van die pons in die breinstem. Verder word die gedeeltes in die brein verantwoordelik vir die generering van beweging ook gestimuleer – daarom die alombekende vlieg of vallende droom. Ons droom altyd in kleur, behalwe in die geval waar mens blind gebore word – sulke persone se drome bestaan uit geen visuele beelde nie, maar neig daarna om meer emosie-gekonsentreerd te wees.

Ons breine is ons eie virtuele realiteit – ons is ten tyde die droom daarvan oortuig dat ons wakker is. Genadiglik is ons verlam vanweë ‘n sisteem in die breinstem wat die motoriese funksie van die liggaam inhibeer – altans, nie in alle gevalle nie.

Parasomnia is ‘n slaapsteurnis waartydens hierdie sisteem nie behoorlik funksioneer nie en kan diegene dus handgemeen raak en selfs gespreke aanknoop met bot-toe oë.

Die einde van REM word aangedui deur ‘n vlugtelike ontwaking. Gedurende die nag reis jou brein deur die verskillende fases verskeie kere en sou jou laaste droom jou nagrus afsluit – dis nou in ‘n ideale wêreld, sonder wekkers.

Jou liggaam kan ure tel en tydlees – mens kan dus ontwaak na genoegsame ure slaap ingkry is of as die son deur jou ooglede die retina aanraak. Die langarm van die sonhorlosie stuur dan ‘n sein na ‘n gedeelte in die diepbrein, die suprachiasmatiese nukleus wat ontwaking laat geskied.

Al die praat van slaap het my skoon aan die slaap – so dus:

Fluit-fluit, my storie is uit.

 

Ns. Interessante feite aangaande ons mede aardbewoners en hul kooiroutines.

Die internet-sensasie Sloths slaap sowat 10 ure per dag en word deur vrugte vlêrmuise uit oor lê wat sowat 15  ure per dag uiltjieknip (so ek neem dus aan na aanleiding van dié oeroue stelling dat uile nog langer slaap – maar net gedurende die dag en nie gedurende die nag nie. Mind you – miskien noem ons dit wel uiltjieknip aangesien uile in die dag slaap en uiltjieknippe mos streng gesproke verwys na middagslapies? Het ek iets hier beet of is dit net die kat se stert?

Met die huidige eeu boots ons beslis kameelperde na – die arme langbeen gediertes slaap minder as 5 ure per dag. Perde slaap ‘n gedeelte van die nag staande en die ander gedeelte lêende. Dolfyne slaap een hemisfeer van hul liggame op ‘n slag – so dus die helfte van die brein slaap terwyl die ander helfte wakker is. Sodoende kan hul aanhou swem – praat van multitasking. Sommige voëls weer het die kuns van slaap in vlug verfyn terwyl haaie maar nes ons ‘n oppervlak onder hul slapende liggame verkies, maar gebruik sommer mekaar as kussings – net daar op die oseaanvloer.